Het vrouens regtig aan veldslae in die Anglo-
Boere-oorlog deelgeneem? Lees hier oor die verstommende
vrouens wat saam met hulle mans in
die loopgrawe geveg het, dié wat daar gesneuwel
het en selfs een wat saam is na ’n krygsgevangenekamp
in Ceylon.
Die geskiedenisboeke is vol
van die ondersteunende
rol wat vrouens in die
Anglo-Boere-oorlog gespeel het.
Nonnie de la Rey, Hendrina Joubert
en Annie Botha is bekend as generaals
se vrouens, maar wie weet wat
grootwildjagter Otto Krantz se vrou
gedoen het, of wat van Helena
Herbst Wagner of Sarah Raal?
Baie Boervroue het as spioene gewerk
en die twee bekendste van
hulle was ’n mev Van Warmelo en
haar dogter Johanna wat dwarsdeur
die oorlog inligting aan die kommando’s
oorgedra het.
In die begin van die oorlog was dit
nie ongewoon dat vrouens hulle
mans slagveld toe vergesel het
nie.
Toe die Bethal kommando onder
leiding van kommandant Engelbrecht
by Helpmekaar aankom, was
daar vrouens en kinders by. In die
heel voorste wa het die reuse
Johannes S (Hans) Vermaak se vrou
en kinders, almal ongewapen, hom
vergesel.
’n Mev PJ Moll van die Pretoria-omgewing
het haar man vir 11 maande
op kommando gevolg voor sy en
haar baba gevang is en na ’n konsentrasiekamp by Newcastle gestuur
is.
Kommandant-generaal Piet Joubert
het die voorbeeld gestel toe hy sy
vrou, Hendrina, op kommando
saamgeneem het. Sy kommandolede
se vrouens het gou Hendrina se
voorbeeld gevolg en was konstant
besig met die voorbereiding van kos
en die omsien na gewondes. En, as
dit nodig was, het hulle self die
geweer opgeneem.
Die vrou van grootwildjagter,
Otto Krantz, is net bekend as
mev M Krantz
Foto: With the Boer Forces
Loopgraaf
Geskiedskrywers verwys na die veldslae
rondom Tugela waar Britse
magte ’n swaar gewonde 19-jarige
Boere-meisie gevange geneem het.
Net voor haar dood het sy vir hulle
vertel dat sy langs haar man in die
loopgraaf gelê en skiet het. Hy is
dood ’n paar oomblikke voor ’n
koeël haar getref het.
John X Merriman, die Kaapse politikus,
het in sy joernaal geskryf dat
twee Boervroue op 1 Maart 1900
dood gevind is in die loopgrawe
waar hul saam met hul mans geveg
het. In sy boek “A Guardsman memories,
A Book of Recollections”
skryf E Gleichen dat hy op Pietershoogte
vroueklere gevind het.
Na die slag van Paardeberg in
Februarie 1900, waar daar 50 vrouens
en kinders in Piet Cronje se laer
was, het generaal Christiaan de Wet
vrouens verbied om hul mans front
toe te volg.
Toe Louis Botha kommandant-generaal
van die weermag word, het
hy ’n bevel uitgereik dat vrouens nie
eers toegelaat moet word om die
laers te besoek nie. Toe die Britte
Pretoria egter begin nader, het
verskeie vroue heldhaftige pogings
aangewend om die kommando’s te
besoek om hul te bemoedig. Ironies
genoeg was Annie Botha, Louis
Botha se wederhelfte, een van dié
vrouens.
Die ander een was Petronella,
generaal Meyer se vrou. Hulle
is, ewe netjies geklee, gereeld op
die rug van ’n perd naby die laers
gesien waarheen hulle kos geneem het en die Boere probeer moed
inpraat het.
Annie, ?n nooi Emmet, kommandant
generaal Louis Botha
se vrou
Foto: With the Boer Forces
Rokke
Grootwildjagter Otto Krantz se
vrou, net bekend as M Krantz, het
daardie tyd die toonbeeld van
vrouevegters-in-rokke geword. ’n
Foto van haar met geweer en bandelier
wat sy bo-oor ’n Victoriaanse
rok dra, kompleet met hoedjie op
die kop, is wêreldwyd gepubliseer.
Sy en haar man was deel van die
Vryheid-kommando wat deelgeneem
het aan die beleg van Ladysmith.
Dié vrou was ook aan haar man se
sy met die slag van Elandslaagte op
21 Oktober 1899, daarna by Tugela
en sy was een van die eerstes om na
die Vrystaatse veldslae te vertrek.
Toe haar man gevang is, het sy
toestemming verkry om hom as
krygsgevangene na ’n kamp in
Ceylon te vergesel.
Een van die bekendste gevalle van
’n vrou wat ’n rok in die loopgrawe
gedra het is dié van Sarah Raal.
Sarah en twee vriendinne het van
Springfontein Konsentrasiekamp
ontsnap en is deur ’n nabye kommando
ingeneem. Sarah was vir ’n
lang tyd saam met ’n korporaalskap
van 20 mans en het help skiet wanneer
dit nodig was, maar sy is later
gevang en het die laaste deel van
die oorlog in die Kroonstadse konsentrasiekamp
deurgebring.
Die voorblad van Nonnie de la
Rey se boek: Herinneringe van
mev de la Rey (gebore Greef)
? My omswerwinge en
beproewings gedurende die
oorlog (1899-1902)
Mansklere
Baie vrouens het egter besluit om
hul mans se klere aan te trek en as
‘mans’ slagveld toe te gaan. In sy
herinneringe skryf Ben Bouwer:
“Daar kan ’n lang lys van vrouesoldate
in mansklere gemaak word.”
Onder die gevangenes wat deur
Britse magte by Colesberg gevang is
was drie Boervroue wat mansklere
gedra het. Dit is eers verskeie weke
nadat hulle in ’n Kaapse tronk gesit
is, dat daar ontdek is dat hulle
vrouens is.
Volgens Hillegas, ’n Amerikaanse
oorlogskorrespondent, het hordes
Boervroue deelgeneem aan veldslae.
Hy het ook geskryf oor ’n
Helena Herbst Wagner van Zeerust
wat vir vyf maande in die laers en
loopgrawe geleef het voor daar uitgevind
is dat sy ’n vrou is.
Helena se man is vroeg in die oorlog
al weg op kommando en hy het
haar alleen gelos by hulle baba. Die
baba is in Januarie 1900 dood en dit
is toe dat Helena haar man se klere
aangetrek het, ’n geweer en bandolier
bekom het en na die Natalse
front toe is om na hom te soek. Toe
sy hom nie kon kry nie, het sy by
kommandant Ben Viljoen se kommando
aangesluit en aan die veldslae
van Spioenkop, Pontdrif en
Pietershoogte deelgeneem.
Met die trek na Van Tondersnek het
Helena uitgevind dat haar man ernstig
gewond in ’n Johannesburgse
hospitaal lê en sy het die kommando
tydelik verlaat om hom te gaan
verpleeg.
Generaal Lucas J Meyer se
tweede vrou Petronella, gebore
Burger
Foto: With the Boer Forces
Kinders
In ‘Words by an Eye-Witness’ skryf
outeur Linesman dat Boervrouens
gesien is agter die koppies by Colenso
en Vaalkrantz. Daar is ’n foto in
Sophia Izedinova se boek, “A few
months with the Boers”, van ’n
groep vrouens en kinders met gewere
en bandeliere met die onderskrif:
“’n Groep vrouens wat wapens
teen die Britte opgeneem het.”
Dieselfde foto’s van kinders met
gewere kan in Nonnie de la Rey,
vrou van generaal Koos de la Rey, se
boek gesien word.
Jacoba Elizabeth de la Rey, bekend
as Nonnie, en Koos se verhaal is
waarskynlik een van die bekendste
uit dié oorlog. Nonnie, gebore
Greef, het Koos ontmoet toe sy 18
jaar oud was. Sy was die dogter van
’n vooraanstaande boer en stigter
van die dorp Lichtenburg.
Aanvanklik was Nonnie se ma nie
geneë dat haar dogter met Koos,
nege jaar ouer as sy, moes trou nie.
Koos en Nonnie is egter, met haar
ouers se toestemming, op 24 Oktober
1876 getroud en het net buite
Lichtenburg gebly.
Hendrina, generaal Piet
Joubert se vrou
In die eerste fase van die oorlog het
Nonnie dikwels vir Koos op kommando
besoek. Toe Nonnie die nuus
van haar oudste kind, Adaan, se
dood ontvang, het sy na haar man
op die slagveld gehaas. Ná die slag
van Magersfontein het hulle na
Jacobsdal gegaan om sáám die graf
van hulle seun te besoek.
Toe lord Methuen vir Nonnie uit
haar huis verdryf, het sy en haar
jonger kinders op 1 Desember 1900
met ’n wa en osse, ’n spaider, melkkoeie
en ’n groepie bediendes vertrek
om tot die einde van die oorlog
in Mei 1902, rond te swerf.
Nonnie het gesorg dat sy altyd naby
haar man se kommando bly.
De la
Rey het ook altyd geweet waar sy
vrou en kinders was en het nooit ’n
geleentheid laat verbygaan om hulle
te besoek nie.
Nonnie het ’n boek, oorspronklik
getiteld ‘Mijne omzwervingend en
beproevingen gedurende den oorlog’
in 1903 in Amsterdam publiseer.
Die wit kruisie is by Frederika, Barkly Oos-rebel, Karel van
Pletsen, se vrou. Karel se neef Jan se vrou, Bess, is in die insetsel
Foto: zahellbkup
Kos
Dis nie net die vrouens in loopgrawe
wat die oorlogspoging ondersteun
het nie. Vrouens het kommando’s
van die begin van die oorlog van kos
voorsien. Vir die eerste twee
maande van die oorlog is elke stads- en
plaashuis in ’n bakkery omskep
en vrouens het die kommando’s van
brood en beskuit voorsien.
Cornelia Reitz, op daardie stadium
staatsekretaris van die ZAR, FW
Reitz, se vrou het op elke trein wat
kommandolede deur Pretoria vervoer
het, gewag met toebroodjies,
koffie en melk. Cornelia was Reitz
se tweede vrou en toe hulle op
11 Desember 1889 getroud is, was
sy die direkteur van die Eunice
Ladies Institute in Bloemfontein. Die
dorpie Cornelia is na haar vernoem.
Kaapse vrouens wie se mans as
rebelle gevange geneem is, het
agter hulle aan tronke toe getrek om die mans van kos te voorsien. ’n
Bekende geval is die vrouens van
die 16 rebelle van Barkly Oos wat in
1899 skuldig bevind is aan hoogverraad
en aangehou is in Tokai, Kaap.
Die neefs Jan en Karel van Pletsen
se vrouens, Frederika en Bess, was
deel van ’n groep wat naby die
tronk afgeneem is.
Vrouens wat op die plase agtergebly
het, moes die vee en landerye versorg
en kommandolede was altyd
welkom om vir kos en vars perde
aan te doen by enige plaashuis.
Afsetpunte vir kos en klere is
daargestel en ’n ene mev Peter
Maritz Botha, blykbaar een van die
rykste vrouens in die Republiek, het
agter ’n tafel gestaan en sop
uitgedeel aan verhongerde mans,
vrouens en kinders.
Nonnie, vrou van Generaal
Koos de la Rey
Foto: TPA, M 482-20
Verpleging
Dit was ook meestal boervroue wat
die veldhospitale beman het.
Generaal Badenhorst het aangeteken
dat ’n mev E Lotz van die
Boshof-distrik sy kommando as verpleegster
vergesel het van Januarie
1901 tot die einde van die oorlog in
1902.
Baie vrouens is egter dorpe toe om
daar in die hospitale met gewonde
kommandolede te help. Twee dogters
van die vorige president van die
Transvaal, Thomas Francois Burgers,
het verpleeg in die Burke Hospitaal
in Pretoria, gestig vir gewonde kommandolede.
Martha Meyer, dogter
van generaal Lucas Meyer, het ook
naam gemaak as ’n toegewyde verpleegster
van gewonde Boere.
Aan die begin van die oorlog is baie
huise omskep in klerefabrieke.
President Paul Kruger se dogters en
sy twee kleindogters, Nettie en Elsie
Eloff, dogters van Elsie Francina en
Frederik Christoffel Eloff, het die
klere-projek in Pretoria bestuur. Hier
het honderde vroue in die
Hooggeregshofgebou hemde,
broeke en jasse gemaak en na die
kommando’s aangestuur. Hulle het
aanhou werk tot die Britte Pretoria
ingeneem het.
Die twee Eloff kleindogters was,
saam met Cornelia Reitz en ’n mev
Van Alphen, vrou van die posmeestergeneraal,
die beste skutte in die
vroue-skietklub wat reeds in die
begin van die oorlog in Pretoria
gestig is. Hulle plan was om Pretoria
vrou-alleen te verdedig terwyl die
mans weg is.
Daar word gesê dat Nettie Eloff
president Kruger se gunsteling
kleinkind was. Nettie is later met ’n
Bredel getroud en Elsie met HD
Broekhuizen. Later jare, met die
rebellie, het Elsie die vroue van
Pretoria georganiseer om hulp te
verleen aan die gevange rebellieleiers.
Sy het ook ’n leidende rol
gespeel in die organisasie van die
vrouebetoging van 1915, en was
een van die vroue wat die petisie vir
die vrylating van die rebellieleiers
aan die Goewerneur-Generaal
oorhandig het.
Paul Kruger se kleindogters,
Elsie Eloff, links, en haar
suster Nettie
Foto: UP Biblioteekdienste
|