“Daar was ’n tyd toe dinge eenvoudiger
was as vandag. Nie
noodwendig beter nie, maar
eenvoudiger”, bekla vrind Henri
Burger anderdag sy lot.
“So sou ’n ou op ’n Saterdagoggend
sit en kyk het hoe jou rugbyspan
suur op hulle moer kry en as dit oor
is, maar eenvoudig die hond loop
skop of aan’t suipe gaan, of wat ook
al jou partikulêre voorkeur was”, sê
ou Henri.
“Maar deesdae is daar blogs waar jy
jou onbeskeie mening oor afrigterskeuses
en spelersgedrag kan gaan
lug om jou beter te laat voel.
Mits jou Internet werk . . .
En dis nou hoe ek my die pas afgelope
Saterdag in ’n morsdooie
Internettoegang vasloop. Ek het al
die (aan my) bekende trieks probeer
om die spulletjie weer aan die gang
te kry, maar tevergeefs. Selfs my
Telkomfoon was dood.
Loop rook toe maar my pyp in die
tuin op soek na ’n skopbare hond en
maak daar ’n insiggewende ontdekking
- die telefoondraad van Telkom
se paal af na my huis toe lê op die
grond, afgeruk by Telkom se paal.
Ek onthou toe van die plaaslike trop
blou-ape wat tydens die rugbyghym
met ’n moerse geskal hier deur my
tuin is op hulle pad na die bure toe.
Nou daai telefoondraad is ’n eenvoudige
stukkie tegnologie - twee
draadjies wat net weer herkoppel
moet word, en dis iets wat ek in die
verlede al heel suksesvol gedoen
het. Die enigste geneuk dié keer is
dat Telkom se paal nie op my erf
staan nie, en ek nie in ’n gemoedstemming
was om met ’n hengse
lang leer op my buurman se erf wou
gaan staan en aan Telkom se drade
peuter nie.
In eenvoudiger tye was dit ook heel
maklik om so ’n eenvoudige probleem
op ’n Saterdag deur die amptelike
kanale te laat herstel - jy het
die posmeester persoonlik geken en
hy was by magte om een van sy
onderdane uit te stuur om ’n sogenaamde
“rooi lyn” (wat toevallig op
dokters se fone van toepassing
was) onmiddellik te gaan herstel.
Vry, gratis en verniet. Maar met die
koms van selfone bestaan daar glo
nie meer rooi lyne nie, en niemand
weet in elk geval meer wie die posmeester
is nie, en as jy geweet het,
val telefone ook nie meer onder sy
jurisdiksie nie. En oor naweke betáál
jy vir daai herstel.
Maandag bel ek toe Telkom om die
fout aan te meld. Die reggestelde
dame aan die ander kant wil weet of
ek seker is dit is nie die handstuk
wat foutief is nie, want dié is deesdae
nie hulle probleem nie. Dit mag
wees, sê ek, maar ons sal eers weet
as die telefoondraad wat op die
grond lê weer eendag opgekoppel
is.
Dinsdag daag ’n reggestelde vroulike
tegnikus op en koppel die
gevalle draad, maar die lyn is steeds
dood. Daar is fout met die ondergrondse
kabel, en dis ’n ander afdeling
se werk, sê sy. Twee dae later
kom kyk die onreggestelde tegnikus
van die ondergrondsekabeldepartement,
maar hy sê tot by die Telkompaal
is daar niks fout met die lyn nie.
Iemand van die huisprop-na-handstuk-departement sal moet kom
kyk.
Dié daag die volgende dag op en
spring aan die werk. Bevind dat die
ADSL-filter asook een van die drade
vanaf die huisprop na die handstuk
foutief is. Vervang beide en daar
werk die telefoon en die modem
wys ADSL-konneksie. Maar nottendêm
of die rekenaar Internettoegang
kan kry.
Bel die IT-techie wat ’n rits moontlike
(duur) probleme opnoem, maar
hy sal kom kyk. Toe ek tuis kom
werk alles. Nee, sê die techie, hy
moes net ’n modem “reset” doen
en weer die nodige verbindingskodes
intik en toe is alles reg.
Die deel wat ek nie verstaan nie, is
hoe die ape se afruk van die
Telkomdraad eensklaps ’n hele
reeks foute aan die “dooie” kant
van daai draad kon veroorsaak.
Maar ek dog net ek sê ek is terug op
die lug! En dit was nié die ref se
skuld nie.” |