Laerskool Tygerpoort se geliefde
oud-hoof, Nick Smit,
en sy vrou Ralie neem ná 40
jaar met groot heimwee van ons
kontrei afskeid. Hulle vertrek eersdaags
na Reebok in die Wes-Kaap
waar hulle gaan aftree.
Nick was vir 27 jaar hoof van Laerskool
Tygerpoort en het aan die
einde van 2006 afgetree na 36 jaar
in die Onderwys.
“Hy het diep spore getrap in so baie
ouers en kinders se harte en in hierdie
gemeenskap; ouers wat eens
kinders in sy skool was, en toe self
kinders in sy skool gehad het,” sê
buurvrou Susan Strauss.
Met Nick se aankoms by Tygerpoort
as waarnemende hoof in 1979 was
daar slegs 226 leerders en 10 personeellede.
Nick het dadelik ’n groot
klomp plante uit sy en Ralie se eie
tuin in Lynnwoodrif aangery en in
1980 is daar ’n besproeiinggsdam
agter by die arbeiderskwartiere
gebou. Later het Nick en die arbeiders
pype vir besproeiing gelê.
 Nick en Ralie Smit
Foto: Susan Strauss
Kuikens
In 1981 is daar begin met die bou
van twee tennisbane en soos by die
meeste klein skooltjies was die
beskikbaarheid van fondse redelik
beperk. Ouers en personeel was
moeg vir pannekoekbak en kermisse
reel om fondse in te samel.
Dit is toe dat Nick voorgestel het
dat daar na alternatiewe maniere
gesoek moet word om fondse in te
kry. Daar is besluit om kuikens aan
te koop en aan gesinne uit te deel
met die doel dat die kinders (en
ouers) die kuikens sou grootmaak
en dan later slag om die slaghoenders
weer te verkoop. Gesinne het
hokke gebou, party kuikentjies het
dit nie gemaak nie, maar aan die
einde van die projek kon die tennisbane
gebou word.
Baie interessante stories kan oor
hierdie projek vertel word. Kinders
het so lief geraak vir die kuikens dat
die ouers die projek uit hulle sakke
gefinansier het. Kuikens het selfs
saam met die gesinne vakansie gaan
hou.
Plotjol
Daar is vir jare Plotjol gehou en
besoekers het van oral gekom om
hierdie groot fondsinsamelingsprojek
te ondersteun. Een kostelike
herinnering is die gesprek tussen die
seuntjie en sy juffrou na ’n aand met
Lucas Maree. Lucas het op ’n donkiekar
om die atletiekbaan gery en almal met sy kitaarspel en sang vermaak.
Hy het so ’n lang kaftan
gedra en met ’n welige bos baard
gespog.
Die volgende Maandag kom die
graad twee seuntjie by sy juffrou
aangehardloop en vertel haar dat
liewe Jesus ook by die Plotjol was.
“Hy het op ’n donkiekar gery, gesing
en dan het hy boonop nog
kitaar gespeel!”
Grasplant
Tot 1984 het die leerders rugby op
’n grondoppervlakte gespeel met ’n
gekners van tande en stukkende
boude. Daardie jaar het Nick en
Ralie die rugbyveld met die nuutaangekoopte
Vaaljapie geploeg en
daarna gelyk gemaak sodat die
leerders die gras self kan plant.
Dit was ’n groot gebeurtenis; elke
gesin het ’n streepsak ranke gebring
en die entoesiastiese personeel en
kinders het een skooldag gebruik
om die nodige te doen. Die hele
voetbalveld is geplant en ongeveer
drie jaar later is die rugbyveld geskil
en die sooie is op die atletiekbaan
en netbalvelde gelê.
In dieselfde jaar is daar paviljoene
opgerig. Later is spreiligte by die
rugbyveld opgerig, ’n ablusieblok
gebou, ’n krieketakademie deur
ouers gevestig en twee turfkrieketblaaie
aangelê.
Uit dié beskeie begin het die terrein
ontwikkel sodat die skool vandag
kan spog met twee rugby- en
krieketvelde, vier weervaste tennisbane,
vier sagtebalvelde en agt netbalbane.
Kultuur
Op kultuurgebied het baie gebeur:
senior- en juniorkore is begin, nuwe
koordrag is gemaak en het hulle het
aan byeenkomste begin deelgeneem,
soos Eisteddfod, koorkompetisies
en skoolbyeenkomste.
Interne redenaarskompetisies is
gehou waaruit wenners per graadgroep
aangewys is wat aan die
Eisteddfod en skolekompetisies kon
gaan deelneem.
Op akademiese gebied vergelyk
Laerskool Tygerpoort se onderrigstandaarde
baie gunstig met die
nabye spogskole in die ooste. Om
die skool se standaarde te meet is
daar besluit om aan Amesa deel te
neem. Die Amesa-vraestelle word
deur eksterne eksaminatore opgestel
en word nasionaal geskryf.
Tussen 600 en 700 skole neem
daaraan deel en Tygerpoort het
selfs soms onder die 10 beste skole
geëindig.
Saal
In Nick se termyn is onderriglokale,
’n media- en rekenaarsentrum, administratiewe
kantore en ’n hoofdewoning
opgerig. Graad 0-klasse is
ook met Karin van der Merwe as
Tygieland se eerste graad 0-juffrou,
begin. In Nick se laaste jaar, 2006, is
daar begin met die bou van ’n nuwe
saal. Die asbessaaltjie, wat nou as
klaskamers aangewend word, het
hopeloos te klein geword.
Die ouergemeenskap
se jarelange droom om
’n groter saal te bou is uiteindelik
verwesenlik en na voltooiing is daar
besluit om die saal na Nick Smit te
vernoem uit erkenning vir sy positiewe
bydrae oor die jare. |