Die tagtigjarige Emus Erasmus
is op 23 Junie in die
familiekerkhof by die Erasmuskasteel,
bekend as die Spookhuis,
begrawe.
Emus, die laaste geregistreerde
eienaar van die kasteel, is langs sy
oupa Jochem, die eerste eienaar, te
ruste gelê.
Emus se oupa, Jochemus Johannes
Petrus Erasmus, is op 30 Augustus
1863 in Pretoria gebore. Hy is getroud
met Johanna Jacoba van
Schalkwyk en hulle het die Erasmuskasteel
in 1903 laat bou.
Plaas
Jochemus was die tweede seun van
Carel Jacobus Erasmus wat ’n deel
van die plaas Garstfontein, waarop
die kasteel gebou is, besit het. In
1900 is die plaas Garstfontein reeds
soveel keer onderverdeel dat die lys
van eienaars op 13 persone gestaan
het.
Carel is in 1832 gebore en is getroud
met Martha
Louisa Prinsloo.
Hy is in 1902
oorlede, net ’n
jaar voordat sy
seun Jochemus
die kasteel laat
bou het.
Toe Jochemus
se seun Carel in
1917 aan melaatsheid
oorlede
is, het sy
broer Albertus Phillipus Jacobus
Erasmus oorgebly om die kasteel
eendag te erf. Albertus het egter
nooit volle beheer oor die Erasmuskasteel
gehad nie, omdat hy voor sy
moeder dood is in die plaashuis op
Waterkloof.
 Emus Erasmus sewe jaar
gelede met die viering van die
Erasmus-kasteel se 100ste bestaansjaar
Foto: ER Lombard
Skei
Albertus is op 20 Oktober 1899 gebore
en was getroud met Gertruida
Johanna Mulder van wie hy later
geskei is. Emus was Albertus se
seun en sy doopname was Jochemus
Rasmus Erasmus. Hy is in 1930
gebore en ná sy ouers se egskeiding
is sy ma weg Kimberley toe. Met sy
pa se afsterwe, toe Emus 14 jaar
oud was, is hy na sy ma toe gestuur.
Emus sou die grootste deel van sy
pa se boedel, wat ’n gedeelte van
die plaas Waterkloof 378 JR, die
plaas Garstfontein 374 JR en die
Erasmuskasteel insluit, kry as hy
30 jaar oud word.
Onteien
Hy het in 1960 dertig geword, en
het die kasteel net 16 jaar besit voor
hy in 1976 onteien is deur die destydse
Transvaalse werkedepartement
wat beplan het om ’n akademiese
hospitaal daar te bou. Die
hospitaal is nooit gebou nie.
Krygkor het die grond eers in 1986
gekoop en begin om die kasteel te
restoureer.
Die familiebegraafplaas was oorspronklik
in die nabygeleë plantasie
langs die ou militêre pad. Die grafte
moes geskuif word om plek te maak
vir nuwe paaie en Avbob het in 1988
opdrag ontvang om 33 van die grafte
na die Erasmuskasteel te skuif vir
’n herbegrafnis.
Die nuwe begraafplaas, waar die
grafte in hul oorspronklike volgorde
geplaas is, is omring deur die muur
van die ou beeskraal en is op militêre
grond.
Emus se begrafnisdiens is in die NG
Kerk Oosterlig in Waterkloof Glen
gehou. Hy word oorleef deur sy
enigste kind, Carl, en kleinseun,
Emus jr. |