In dié maand se uitgawe is ’n omvattende kontaklys wat na ons
mening onontbeerlik is vir die mense wat die Bronberg-gebied as
woonplek gekies het.
Dit is nie ’n gewone kontaklys, soos dié waaraan ’n mens al
gewoond geraak het nie. Die gewone ‘noodnommerlys’ word al
te dikwels as ‘vullers’ in publikasies gebruik om ’n ‘gat’ toe te
maak by die gebrek aan iets sinvol om te plaas. Dié soort lysies,
met nommers van polisie, ambulans, brandweer en só (dikwels
verouderd) word ook wyd vervuil agter op advertensiebiljette, of
iewers op jou jaarlikse gratis almanak.
Jy sal die gewone ‘noodnommers’ ook in die inligtingstuk van Die
Bronberger kry, maar jy gaan baie meer kry.
Jy sal byvoorbeeld nou ook alternatiewe selfoonnommers kry vir
die kere wat onbevredigende of (behoede ons) geen reaksie by
die noodnommer gekry word nie. Ons lys is ’n uitgebreide een
met nie net noodnommers nie, maar ook met ’n magdom nodige
en nuttige nommers om byderhand te hou.
Die Bronberger kry deurlopend navrae van lesers wat op soek is
na die kontaknommers van wyd uiteenlopende aard. Waar ons
kan, help ons graag en gebeur dit dat ons nie ’n betrokke nommer
voor die vingerpunte het nie, vind ons telkens uit en laat
weet die leser wat navraag gedoen het.
Die gevolg is dat ons ná bykans agt jaar met ’n lywige kontaklys
op hande sit. ’n Lys met waardevolle inligting wat ons graag met
ons lesers wil deel.
Hierdie uitgawe van Die Bronberger is een wat byderhand gehou
behoort te word. Dit kan nie net die lewe vir jou geriefliker maak
nie, maar kan bes moontlik ook lewens red. Die plan is om die lys
op ’n jaarlikse basis op datum te hou.
Vervat in die lys, sal jy ook die kontakbesonderhede van ’n hele
aantal mense kry wat ’n groot verskil in die Bronberg-wêreld
maak. Mense wat onbaatsugtig hulle tyd en sweet gee om die
lewe vir die gemeenskap draagliker en veiliger te maak. Mense
wat omgee.
Dikwels word hierdie gemeenskapsdiens agter die skerms
gedoen en weet ons min of niks van die mense wat daarmee
besig is nie. Mense waarvoor die hoed gerus afgehaal kan word.
Daarom het ons besluit om ons lesers voortaan in ’n gereelde
rubriek voor te stel aan hulle. Die eerste aflewering van die
rubriek ‘Ons haal die hoed af vir . . .’ sal reeds volgende maand
verskyn.
Lesers wat van mense weet waarvoor die hoed afgehaal kan
word, kan ons gerus met voorstelle kontak. |