Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie
Hulle vertel my die nuwe Bronberg
Wynlandgoed het ’n
nuwe kok of twee en dat ’n
mens nou ’n billike buffet op ’n Sondag
aldaar kan geniet. En so sit ons
toe op ’n matige Sondag af soontoe.
Ons sit aan by ’n ruim eetkamertafel
in die kroegdeel van die plek. ’n
Kaggelvuur hou die ergste koue op
’n afstand. Gemeet aan die aantal
mense, is die Sondag-buffet glad nie
meer ’n geheim nie.
’n Flinke kelnerin, netjies uitgedos in
swart, is dadelik byderhand om te
hoor wat ons wil geniet om te drink.
Baie dinge het verander sedert die
‘lodge’ ’n landgoed geword het.
Ek is in ekstase toe Chris die blink
deksels van die opskepskottels een
na die ander oplig en ek met die oog
proe wat daar op my wag. Die keuse
van sewe soorte vleiskosse los my
met ’n dilemma, want die meeste
daarvan tel onder my gunstelinge.
Die blink bakke vol boerekosbelofte
Ek besluit die oplossing lê in klein
porsies van elk, maar dit los my nogtans
met ’n tjok geblokte bord. ’n
Middelslag stukkie beesstert, ’n
lepel of wat bobotie, ’n snytjie elk
van bees- en varkbraaistuk, een lewerkoekie
en ’n redelike porsie
skaapafval. Daarby saam is soetpatats,
geelrys, bakaartappels en
witsous-blomkool. Die hoender los
ek weens ’n gebrek aan plek op die
bord en in my.
Ek vind alles voortreflik. Die oxtail is
deursag en geurig, die braaistukke
soos dit moet wees, die bobotie kan
ek aanbeveel en ek is mos nogal
partydig vir ’n lewerkoekie, maar
dis die afval wat die koek vat. Later
toe Metgesel gaan poeding skep
(sjokolade-malvapoeding en vla) laai
ek eerder nog afval in my poedingbakkie.
Die soetpatats was in elk
geval poedingrig genoeg.
Die Bronberg Wynlandgoed sit my
soort kos voor op ’n Sondag, maar
vleis is mos nie eintlik Metgesel se
gunsteling nie. Sy is bly oor die
heerlike groentesop en tuisgebakte
brood en verseker my die nagereg
was uit die boonste rakke, alles
danksy Hans wat vir bogemelde
gesorg het, al hou hy eintlik sy lyf
deesdae bestuurder en nie meer
kok nie.
Die Bronberg Wynlandgoed se
boerekos buffet op ’n Sondag kos
R90. |