?n Babelse gehoring PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 24 June 2010 16:28
Untitled Document

Geen pryse vir dié wat kan raai wat die woord ‘vuvuzela’ beteken nie, sê Daan anderdag in die takkantoor. Dit is ’n Zoeloewoord wat beteken; ‘om ’n verskriklike geraas te maak’.

Waarop Gert Mossie toe meen dit moet eintlik beteken; ‘om ’n vreeslike geraas te maak sonder enige rede op aarde en dan te dink almal dink jy is oulik terwyl almal jou eintlik wil foeter’. Net, Gert het nie die woord ‘foeter’ gebruik nie.

Ou Edu, wat die Vrystaat ondersteun, sê dat ’n vuvuzela die perfekte uitvindsel vir sekere ondersteuners van ’n sekere rugbyspan is.

Daardie span wat onlangs in Soweto loop speel het. Dit pas dié span se ondersteuners soos ’n handskoen, sê Edu. Hulle kan ’n groot geraas maak sonder om te dink en sonder om enige sin te maak. Iets wat hulle in elk geval al jare doen, sê hy.

Ou Pine meen die geraas van ’n klomp vuvuzelas klink net soos ’n swerm hommelbye in ’n bottel. Eerder soos ’n klomp brommers op ’n jy-weet-wat, reken Gert.

Die ouens wat nou so kerm oor die vuvus moet net een ding onthou, sê Daan. En dit is dat dit hulle, die manne wat rugby kyk, se skuld is. Die voorloper van die raaspyp was die koedoehoring en dis die rugbymanne wat koedoehorings eerste van die pawiljoene af geblaas het. By die rugby. Hulle het die voorbeeld gestel.

Daai is anders, sê Gert Mossie. Koedoehorings is skaars en net hier en daar het een of twee ouens ’n horing gehad en dan het hulle dit ook net nou en dan gebruik. Maar toe vind iemand plêstiek uit en nou loop almal met ’n horing rond en gebruik dit aanhoudend.

Hy het eintlik niks teen die goed nie, sê Daan, maar dan moet dit gebruik word vir dit waarvoor dit bedoel is: Om by die sokker te loop rumoer. “Laat hulle dan betaal om ’n lawaai te gaan opskop.” Solank hulle dit net by sokker toelaat, gaan dit hom wat Daan is nooit pla nie.

Wie sou nou kon dink die dag sal kom dat hy vir die WP sou sê: “Mooi so. Knap gedaan!” sê Pine. Hy hoop net al die rugbyplekke sal Nuweland se voorbeeld volg en die vuvugoed verban. Voor dié besluit dink hy die laaste goeie ding wat uit die WP gekom het was Paul Roos.

Hy wonder darem, sê Gert en hy bly stil en staar die niet in om nou te wys hoe hy wonder, totdat iemand vra: “Nou waaroor wonder jy Gert?” Nee, daar in sy geweste bly so ’n melkbaardmannetjie wat tydig en ontydig met sy vuvuhoring in die straat op en af loop en raas, sê Gert.

Nou wonder hy net: As hy, wat Gert Mossie is, dit nou glad nie meer kan uitstaan nie en hy loop daai mannetjie by en druk sy vuvugedoente in sy jy-weet-waar in, sal die melkbaartjie nog ’n geluid daarop kan uitkry?

 

© 2019 Die/The Bronberger