Wie ken die storie agter die storie van die
Laerskool Tygerpoort se suksesvolle
konsert op Vrydag 21 Mei?
Dié is nie net ’n verhaal van ’n groot opkoms by
die konsert waar Nadine en die groep Eden opgetree
het nie. Agter die skerms het polisiereserviste
en winkelsentrumsekuriteitswagte gratis saamgestaan
om seker te maak dat die aand glad verloop.
Adjudant offisier Wynand van der Merwe van die
SAPD Boschkop se misdaadvoorkomingseenheid
sê dat so ’n groot byeenkoms enige polisieman se
nagmerrie is. “Wie gaan nou weer ’n kar steel? En
soos almal weet, het ons ou stasietjie maar min
personeel,” sê Wynand.
 R/kst Bennie Malan, links, sanger Nadine,
en R/kst Theo van Rensen, regs
Foto: AO Wynand van der Merwe
Gelukkig het Boschkop ’n staatmaker reservistediens
onder leiding van reservis-konstabel Bennie
Malan van Mooiplaats. Twee dae voor die tyd bel
Wynand toe vir Bennie en op die Vrydagaand is
daar twee voertuie en vyf reserviste by die skool,
paraat en hulpvaardig. Bennie en mede-reserviskonstabel
Theo van Rensen het selfs ’n ‘lyfwag
diens’ aan Nadine gebied.
Jean Jonker, sekuriteitsbestuurder van Hazeldean
winkelsentrum, het gehelp deur die dienste van
twee van sy karwagte kosteloos aan Wynand te
bied. “Dié twee het die aand buite om die skool
gesorg dat almal die konsert kon geniet sonder
om benoud te voel oor ’n sluwe karboef.”
“Alles het klop-disselboom verloop, behalwe ’n
paar kindertjies wat afgedwaal het van mamma
en pappa. Verder was daar geen voorvalle van
misdaad nie en die verdwaaldes is vinnig en met
baie vertroosting weer by ma uitgebring met
betraande gesiggies en al,” sê Wynand. |