Kungwini maak met sy sogenaamde ‘Integrated Development Plan (IDP)’
’n bespotting van die begrip ‘openbare deelname’. Dit lyk trouens of op
slinkse en arrogante wyse alles moontlik gedoen word om die gemeenskap
se stem oor hulle gebied stil te hou. Die plaaslike regering se
Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP, as jy dan wil) het dit ten doel om
enige beplande ontwikkeling en dienslewering uit een te sit.
In die perfekte wêreld kry die gemeenskap dan insae tot die dokument
en die geleentheid om hulle kommentaar en besware daaroor op ’n
openbare vergadering te lewer. Die wet bepaal dat behoorlike vooraf
kennisgewing van ’n vergadering aan die gemeenskap gegee moet word.
En dis net hier waar die dinges telkens in die drinkwater val.
Só ’n vergadering sou op 22 April gehou word, maar dit is uitgestel omdat
Kungwini die wet verontagsaam het en nie die vergadering behoorlik
geadverteer het nie. En dit is geensins die eerste keer dat hulle dit doen
nie, of eerder nie doen nie, dan. En dit was ook nie die laaste keer nie.
Die bepaling is dat kennisgewing van ’n openbare deelname vergadering
30 dae voor die datum van die vergadering moet geskied.
Die vergadering van 22 April is met groot verskoning uitgestel en die
belofte is gemaak dat ’n opvolgvergadering gehou sou word, maar dat
behoorlike kennisgewing hiervan gegee sou word. Toe gebeur presies
dieselfde ding weer. ’n Vergadering is geroep vir 25 Mei. Kennisgewing
daarvan is op 21 Mei gegee.
Deur die jare heen het ’n mens al gewoond geraak aan die onbekwame
geploeter van Kungwini se plaaslike regering. Daarom sal ’n mens maklik
kan glo dat die nalating om vergaderings behoorlik te adverteer, toegeskryf
kan word aan onbekwaamheid of blote nalatigheid. Of dit kan
toegeskryf word daaraan dat Kungwini, in hulle haas om ondeurdagte
ontwikkelings deur te druk, nie openbare deelname wil hê nie.
Hulle wil dit nie hê nie, moontlik juis oor hulle weet die ontwikkelings is
nie haalbaar nie en hulle wil dit ten alle koste deur druk oor die betrokke
amptenary moontlik voordeel trek uit dié ontwikkelings. Jy hoef nie ’n
sterk verbeelding te hê om te dink wat hierdie voordeel kan inhou nie.
Dit verg ook nie ’n breinsjirurg om uit te werk wat behoorlike advertensie
sal wees om die mense van die Bronberg-gebied te bereik nie. Dié
gebied het sy eie publikasie en webtuiste wat die afgelope meer as sewe
jaar wyd deur die gemeenskap van die gebied gelees word.
Ons sê dit nie oor ons gretig is om te deel in Kungwini se twyfelagtige
uitgifte nie, hoewel dit in hierdie geval nie nutteloos sou wees nie. Ons
sou meer as bereid wees om kennisgewing van belangrike vergaderings
gratis in ’n berig te plaas, sou ons daarvan in kennis gestel word. Maar
dan sou almal mos van die vergadering geweet het, en dit blyk duidelik
nie deel van Kungwini se plan te wees nie. |