Ontmoet Pretoria se bekendste, lastigste en hartseerste spoke Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 20 May 2010 17:55
Untitled Document

Hoe graag sou jy toekase Pretorianers wou ontmoet? Graag genoeg om ’n nag in die Smutshuis se donkerkamer deur te bring? Of wat van ’n spookagtige ontmoeting in die Breytenbach Teater se kelder of op die Sammy Marksmuseum se trappe? Pretoria se ou geboue is vol spoke, en hier vertel ons vir jou waar om hulle te vind.

Smutshuis
In Die Bronberger se April-uitgawe het ons vertel dat tannie Isie Smuts, vrou van staatsman Jan Christiaan Smuts, gereeld ’n spook met ’n stel Kruger-snorbaarde in hulle Irenehuis gesien het en dat dié spook dalk iets met die verlore Krugermiljoene te doen kan hê.

Ons het uitgevind dat tannie Isie nie die enigste een was wat die spook gesien het nie, dat dit ook nie die enigste spook in dié huis was nie en dat die spook vir tannie Isie iets oor die verlore Boereskat vertel het. Die spook het blykbaar gesê dat daar £30 000 se Boere-goud in die tuin begrawe is. Dit is glo hoekom die Smuts-gesin so gereeld in die tuin rondgeloop en gate gespit het.

Die egtheid van dié spookstorie is in 1936 deur George Wilson, redakteur van die ‘Cape Times’ bevestig toe hy daar oorgebly het. Hy het die nag in die ‘donkerkamer’ langs die eetkamer oorgeslaap. Teen so vyf uur die oggend het hy wakker geword van die gevoel dat iemand vir hom kyk. Hy sê dat ’n ou man, wat baie soos President Kruger gelyk het, ’n paar tree van sy bed af gestaan het. George het regop gesit en sy hand in die spook se rigting uitgesteek en dis toe dat die spook verdwyn. Met ontbyt die oggend het hy vir tannie Isie van sy ondervinding vertel.

George se beskrywing was presies hoe tannie Isie die spook gesien het. Sy het gesê dat die spook weer aan George sal verskyn en dat hy hom dan asseblief tog nie weer moet verwilder nie, maar beleefd vir hom moet vra waar die £30 000 begrawe is.

Die ander Smutshuis-spook was blykbaar ’n offisier in die Koninklike Hussars, wat selfmoord in dié gebou gepleeg het toe dit nog as ’n offisiersmenasie in Middelburg, destydse Oos-Transvaal, gebruik is.


Dié foto is by die Kerkstraatbegraafplaas geneem
Foto: Mystery Ghost Bus Tour

Museum
Die Sammy Marks-museum se spook is al so bekend dat daar elke nou en dan ’n spooktoer gehou word. Die aandlange verrigtinge word in die wynkelder gehou en sluit ’n klomp stories oor die plaas se geskiedenis in sowel as ’n vyfgang maaltyd.

Blykbaar is die bekendste spook in die museum dié van ’n Skotse man wat vir jare lank in die 1800’s na Sammy Marks se plaas en opstal, genaamd Swartkoppies Hall, gekyk het. Die Skot was ’n vriend van die Marks-familie en het selfs ook na die kinders omgesien. Hy is later in sy kamer in dié huis oorlede en vandag geniet hy dit glo veral om vroulike besoekers aan die museum skrik te maak.

Sy gesig verskyn gereeld op foto’s wat op die museum se trappe, wat uit die ingangsportaal lei, geneem word. Maar blykbaar is hy nie die enigste spook nie – foto’s wys ook ’n vroulike hand wat tussen besoekers se hande op die traprelings gesien kan word.


Die eerste trein se aankoms op Pretoria-stasie in 1893
Foto: Van der Waal-versameling, Tuks

Erasmuskasteel
Vir Pretorianers staan die Erasmuskasteel as die Spookhuis bekend en mense assosieer dié huis met mites en gruverhale. In Die Bronberger se Julie 2006 uitgawe het ons vertel dat daar stories loop oor ’n vrou in ’n Victoriaanse rok wat sit en naaldwerk doen by die venster in die hoofslaapkamer, oor melaatse dogtertjies wat in die toring toegesluit is, oor die onderwyser wat rondloop met sy reënjas aan en oor ’n vrou met gloeiende lang naels wat uit die toring vir vryers loer.

Van die gewildste spookstories wat oor die Erasmuskasteel versprei word, is die ervarings van die familie wat die huis in die 1980’s van Krygkor gehuur het voordat Krygkor met die restourasiewerk begin het.

Een van dié verhale is dat hulle vyfjarige dogtertjie in haar kamer ’n meisie in ’n lang wit rok gesien het wat vir haar gevra het of sy lekker daar bly, omdat dié kamer jare gelede aan haar behoort het. Volgens die Erasmus-familie het dié kinderkamer egter nooit aan een van die dogters behoort nie. Dit was die vertrek waar die seuns geslaap het.

Die familie bevestig egter dat daar melaatse kinders in die kasteel was. Carel Jacobus Erasmus het melaatsheid by ’n transportryer aangesteek en het op sy beurt sy twee susters, Maud en Lena, aangesteek. Carel is in 1917 oorlede en sy twee susters is aanvanklik in die Leprosengesticht, genaamd Westfort, in Pretoria opgeneem, maar is daarna toegelaat om in afsondering op die plaas te bly.

Hulle het in die twee ou huisies gebly wat ’n entjie weg van die Erasmuskasteel gestaan het. Nadat die een suster oorlede is, is die ander een terug Westfort toe waar sy kort daarna oorlede is. Dit is nie duidelik wanneer Maud oorlede is nie, maar Lena is in 1928 oorlede.

Die familie is deur die jare geteister deur nuuskieriges en Jochum Rasmus Erasmus, een van die laaste Erasmusse wat in die kasteel gebly het, het kennisgewings laat oprig en die huis laat omhein, maar dit het nie gewerk om indringers uit te hou nie. Hy vertel dat hy gereeld saans as hy in sy bed gelê het kon hoor hoe mense aangery kom, uitklim en om die huis stap.


Die Erasmuskasteel, beter bekend as die spookhuis

Prins
In Maart 2009 het ons vertel dat koningin Victoria se gunsteling kleinseun, prins Christian Victor, in ’n beskeie soldategraf in Pretoria se Kerkstraat-begraafplaas begrawe is in 1900.

Dié 33-jarige prins is in Pretoria aan ingewandskoors dood nadat hy deur malaria platgetrek is. Sy liggaam is gebalsem en alle reëlings is getref om dit na Engeland te verskeep toe ’n telegram van sy ouma, koningin Victoria, aankom met die bevel dat haar kleinseun in Pretoria in ’n gewone soldategraf begrawe moet word. Sy suster, prinses Marie-Louise, het in haar biografie vertel hoe Victor na sy dood aan haar verskyn het.

Vandag spook dit glo by dié graf en spooktoere word gereeld soontoe onderneem waar allerhande vreemde verskynsels op foto’s wat daar geneem word, gesien kan word.


Die wasige rookverskynsels het sowat 15 meter voor die fotograaf uit die grond verskyn in die Pretoria-kerkhof
Foto: Die Pretoria Spookbustoer

Teater
Die bekende spookghoeroe, Sue du Randt, het in haar KykNet program, ‘Die Onverklaarbare’, ondersoek gaan instel oor die teaterspoke van die Synnysidese Breytenbach-teater.

’n Spook genaamd Heather, geklee in ’n lang wit rok, verpleegsterkappie en voorskoot, sleep haar voete soos sy heen en weer van die kleedkamers langs die verhoog na die kelder onder die verhoog beweeg. En dit doen sy al 90 jaar lank.

Heather haat dit blykbaar as daar rekwisiete in die pad is waar sy loop en enige iemand wat iets tussen die kleedkamer en kelder plaas, kan getuig dat dit uit die pad geskuif word.

Kort na die Eerste Wêreldoorlog, met die griepepidemie van 1918, is die Breytenbach-teater tydelik as ’n hospitaal gebruik. So baie van die pasiënte het hier gesterf dat die kelder, wat vandag onder die verhoog is, as lykhuis gebruik is.

Blykbaar besoek Heather nou in alle ewigheid dié kelder op soek na kinders wat haar sorg nodig het. Dié wat al vir Heather gesien het sê dit lyk of sy so 30 jaar oud is.

Jan van den Brink, wat van 1989 tot 2005 dekor-timmerman in die teater was, het baie kere met Heather kennis gemaak en sy het selfs al met hom gepraat in ’n aangename, sagte vrouestem.

Die vraag wat sy hom aanhou vra is: “Jan, waar is my kinders?” Volgens Jan is Heather veral aktief as daar kinders in ’n produksie is en ook veral tussen 11 nm en 2 vm. Blykbaar het die Breytie nog ’n teaterspook, ’n vet monnik, wat nie van drama hou nie en allerhande moles in die teater veroorsaak.


?n Verpleegster genaamd Heather spook in die Breytenbach-teater
Foto: Eastern Times

Hotel
Alfie is die naam van die ondeunde spook in die Victoria Hotel naby die Pretoria-stasie. Hy hou daarvan om krane oop en toe te draai, veral as gaste probeer bad, en om chaos in die kombuis te veroorsaak. Alhoewel niemand weet wie Alfie was nie, is hy nou al dekades lank dié hotel se bekendste gas.

Maar Alfie is nie die enigste spook in die Victoria nie. Hulle sê jy moet ten alle koste die hotel se trappe na tien in die aand vermy. Baie gaste vertel dat ’n mens iets teen jou voel verbyskuur op die trappe. Party gaste het ’n ou, grys dame statig teen die trappe sien afbeweeg.

Terwyl sy afloop, kan die flikker van ’n kers vir ’n paar sekondes in die kloktoring gesien word. Dié hotel was een van die toekase kuierplekke wat in Die Bronberger se November 2009 uitgawe bespreek is.


Dit spook glo op dié hotel se trappe
Foto: Victoria Hotel

Dieretuin
In Die Bronberger se Augustus 2009 uitgawe het ons geskryf oor die ontstaan van die Dieretuin in Pretoria. Wat ons nie gesê het nie, is dat dit blykbaar daar spook. Die direkteur, Dr Jan Boudewyn Gunning, het skaars sy hoofkwartier in die dubbelverdieping opstal van ‘Rus in Urbe’ begin inrig, toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek. Veldmaarskalk Lord Roberts het die plek in 1899 geannekseer as ’n militêre hospitaal en toe die eiendom ná die oorlog terug besorg is aan Dr Gunning, kon die kreune en gille van die jong mans wat hier dood is, nog gehoor word.

Daar is ook blykbaar twee woedende teenwoordighede wat in die gange van die Staatsmuseum spook. ’n Ierse verpleegster, Tina Thurston van die naby-geleë Lady Selbourne-hospitaal, moes hier na gewonde soldate omsien. ’n Boer, genaamd Johannes Naude, is daar opgeneem met geheueverlies. Hy het reggekom, maar het in die hospitaal aangebly as algemene nutsman. Eintlik het hy ander redes vir sy verlengde verblyf gehad. Die netwerk van kelders onder die houtvloere het die ideale wegsteekplek gebied vir die Boere wat gedwing is om tyd daar as pasiënte deur te bring.

Laat een aand het verpleegster Tina agterdogtig geraak oor Johannes se optrede en hom die donker kelder in gevolg, gewapen met ’n skalpel. Niemand weet presies wat gebeur het nie, maar in die geveg wat gevolg het is beide Tina en Johannes dood.

Dit word gesê dat dié twee nou nog rondom die kelder se ingang spook.


Energieballe voor die ou Pretoriase-tronk waar die galg was waar veroordeelde moordenaars, soos Daisy de Melcker, tereggestel is
Foto: Die Pretoria Spookbustoer

Allerlei
Volgens Pat Hopkins se boek, ‘Ghosts of South Africa’, spook dit in die Ou Raadsaal – die relings wieg heen en weer en die potysterridders ratel wanneer die spoke teen die trappe afkom.

Baie gebou rondom Kerkplein spook glo, maar die hoofposkantoor trek blykbaar die grootste gros spoke. Daar is blykbaar ook ’n spook, wat deur party mense ’n ‘poltergeist’ genoem word, by die Mea Volte gastehuis in Rissikstraat. Mense hoor gereeld die geluid van water wat intap, hoë hakke wat rondloop en ’n baba wat huil.

.
’n Gehoorlid het dié foto vanaf die balkon van ’n ou gebou geneem. Toe daar op die helderblou energiebal ingefokus is, was drie of vier gesigte duidelik sigbaar
Foto’s: Die Pretoria Spookbustoer

By die Pretoria-stasie is daar ’n spook van ’n Engelse soldaat wat in die Anglo-Boere-oorlog, nie baie jare ná die stasie in 1893 oopgemaak het nie, gesneuwel het. Die bisarre deel van die verhaal is dat dié gesneuwelde soldaat aanvanklik gestoor is in die afdeling waar goedere gestoor word wat nie afgehaal is nie. Daarna is sy lyk geskuif na die verlore goedere-afdeling van die stasiegebou. Hy dwaal blykbaar sedertdien in die gebou rond.


Dié foto is op die trappe by die Sammy Marks-museum geneem. Daar is net 21 mense, maar ?n ekstra hand. Agter is die gesig van ?n man sigbaar
Foto: http://endlessjrny.blogspot.com

Spookkenners sê dat die prys vir die mees teneergedrukte spook in Pretoria gaan aan die man wat ’n pes van homself maak in ’n Silvertonse huis. Niemand weet wie die man was nie, maar hy kom in die aande in die sitkamer in met sy rooi baadjie aan en gaan sit op ’n spesifieke stoel, waarin hy stadig wieg, om koerant te lees terwyl hy elke nou en dan diep sug.

.
Tania van Staden het die twee foto?s binne sekondes na mekaar by prins Christian Victor se graf geneem. Die eens foto wys die wasige rookverskynsel bo die grafsteen en toergids, en die volgende een die energieballe
Foto?s: Die Pretoria Spookbustoer

Diegene wat in spoke belangstel kan op toere na Pretoria se bekendste spookplekke gaan. Die Pretoria Spookbustoer, ’n teater-op-wiele produksie, word sedert 2005 in Afrikaans aangebied deur Jaco Hough-Coetzee en Rozanne Myburgh.

Vir meer inligting besoek www.spookbus.co.za, stuur ’n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . of skakel 082-853-4918. Ghost Boozters is nog ’n luukse bustoer in Pretoria wat fokus op plekke waar spoke glo rondhang.

Vir meer inligting besoek http://www.ghostboozters.webs.com, stuur ’n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . of skakel 072-280-3252 of 082-603-9837.

.
Dié energieballe word gereeld deur Spookbus toergangers op film verewig
Foto?s: Die Pretoria Spookbustoer

 

© 2024 Die/The Bronberger