Bashewa (Bat-Sheva) se betekenis onthul Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 20 May 2010 17:53
Untitled Document

Wie was Sheva of dan Sheva se dogter? En wat was die eed waaraan haar naam gekoppel is. Of was dit ’n vloek wat oor haar uitgespreek is?

Verlede maand het Pierre Lombard van Kleinfontein vir meer inligting oor die oorsprong van die naam van die hoewegebied Bashewa gevra. Dié maand antwoord Caroline Schinkel van Bashewa in ons briewekolom dat die groter Bashewa-gebied aan ’n Joodse persoon behoort het.

Vandag nog staan daar in die koopkontrak van die Schinkels se plot dat daar geen varke, wat deur die Joodse geloof as onrein diere beskou is, op hul stuk grond aangehou mag word nie.

Ons het ’n bietjie navorsing oor die naam ‘Bashewa’ gedoen en het gevind dat dit waarskynlik afgelei is van die woord ‘Bat-Sheva’. Dit is debatteerbaar of dié naam as een of twee woorde geskryf moet word.

Wat ons wel kon uitvind is dat Batsheva ’n meisie se naam is en ’n variant is van die Hebreeuse naam Bethshabée of Batseba. Volgens sekere bronne beteken dit ‘dogter van die eed’ terwyl ander meen dat die woord ‘eed’ se vertaling dalk eerder ‘vloek’ moet wees. Nog ander bronne sê dat ‘Sheva’ sewe beteken en ‘Bat’ meisie of dogter beteken.

Bat-Sheva kan dan ’n sewe-jaar-oue meisie beteken of die ‘dogter van Sheva’, ‘dogter van sewe’ of ‘dogter van die eed’.


Dié 1562 Jan Massys skildery van David en Batseba hang in die Louvre, Parys

Barones
Batsheva is die naam van ’n bekende dansmaatskappy in Israel wat in 1964 gestig is deur Martha Graham, wat beskou word as die pionier van moderne dans, en die Barones Batsheva De Rothschild. Haar naam is alternatiewelik ook as ‘Bethsabée’ gespel. Batsheva, gebore in 1914 in London en oorlede in 1999 in Tel Aviv, was ’n bekende filantroop en lid van die Rothschild bankierfamilie.

Die enigste verwysing na Suid-Afrika wat ons in dié barones se lewe kon vind, is haar professionele vennootskap met die Suid-Afrikaans gebore Jeanette Ordman. Jeanette is in 1965 Israel toe en dié twee was vennote tot die dag van Batsheva se dood. Met die Rothschild familie se finansiële ondersteuning het hulle ’n dansskool begin en ’n paar jaar daarna die Bat-Dor Dansmaatskappy.


Baron Edouard de Rothschild, sy vrou, Barones Germaine en hul dogter, Batsheva, by La Guardia lughawe in Frankryk in 1940
Foto: Bettman/Corbis

Bybel
Die Barones het haar naam waarskynlik gekry van die Bybelse Batseba, die vrou van Urija die Hetiet. David was verlief op Batseba en het haar man in die voorste linies van die oorlog ingestuur.

Nadat Urija in die oorlog gesneuwel het, is David en Batseba getroud, maar hul eerste seun is op sy sewende dag oorlede. David en Batseba se tweede seun was Salomo. Dié romanse is oor die eeue deur verskeie bekende kunstenaars geskilder: in 1562 deur Jan Massys, in 1575 deur Veronese, in 1654 deur Willem Drost, in dieselfde jaar deur Rembrandt, en ook deur Karl Briullov en Franciabigio.

Sover bekend was Batseba egter nie die sewende dogter nie en haar vader se naam was nie Sheva nie, maar Eliam. Die feit dat David en Batseba se eerste seun op die sewende dag oorlede is, volbring dalk die ‘vloek’ wat aan haar naam gekoppel is. Of daar so ’n vloek uitgespreek is of eed gesweer is op die Bronbergse Bashewa-hoewegebied, is iets wat ou inwoners ons dalk kan vertel.

 

 

 

© 2024 Die/The Bronberger