Hulle trek toe mos ‘Kêllienin’
toe, vertel Gert Mossie anderdag
vir die manne in die takkantoor.
Twee straatblokke ver, agter hulle
blikhuis, is ’n rantjie, sê Gert Mossie.
Só dreig hy en sy vrou Johanna
sedert hulle intrek op Kêllienin, om
dié koppie te loop klim en die ruim
oopte om hulle (hulle hoor elke
aand jakkalse, sê hy) te verken.
En toe doen die geleentheid hom
een laatmiddag voor.
Gestewel in hulle tekkies en gewapen
met ’n fles koffie en ’n kamera
sit hulle heel opgewonde af op hulle
ontdekkingstog. Maar, gou raak dit
duidelik dat dié Kêllieninse koppie
hom nie sondermeer laat klim nie.
Hy baklei terug met reuse klippe
(sommige gevaarlik los) en slaggate,
lyfhoogte gras (sommige van die
klitsvariant) en pragtige, dog bedrieglike
hindernisse van inheemse
plante, bosse en bome, sê Gert
Mossie.
Dis ’n verskriklike gespook en gesukkel,
maar hulle beur vasbeslote
voort en kom, na wat soos ’n ewigheid
voel, uitgeput en vol krappe,
kolle en klitse op die kruin van die
koppie aan.
Gert Mossie sê hulle het skaars
neergesuig op die naaste klip en
nog nie mooi kans gekry om die uitsig
te bewonder nie, of hulle hoor
hier skuins links van hulle ’n vrolike
gefluit naderkom.
’n Swart ou onder ’n pet, soos wat
die sekuriteitsmense dra, kom sorgvry
aangedrentel en loop ongehinderd
skaars vier meter van Gert en
sy Johanna af verby. Hy onderbreek
sy gefluit om ‘mêrrag’ te sê en dan
stap hy oor die kruin en die rantjie
anderkant af. Kompleet soos ’n ou
wat in die park gaan stap vir ’n walk,
sê Gert.
Hulle staan nader om te loop kyk en
kom met verwarde emosies wat
wonder of hierdie ’n lag of ’n huil
oomblik moet wees, op ’n netjiese,
breë wandelpad af. Nie ’n voetpaadjie
nie, sê Gert, ’n behoorlike wandelpad
wat dieselfde roete volg as
die een waarteen hulle uitgesukkel
het en skaars ’n spoegie daarvandaan
af.
Langs die wandelpad is elke dan en
wan so ’n blougeverfde baken
staangemaak. Smal en regop en so
twee meter hoog, is die goed en
van bo na onder is iets daarop geskryf.
Die swart letters is al verweer
en soos dit is, lees ’n ou mos nie
gemaklik van bo na onder nie, sê
Gert Mossie.
Hy draai sy kop half skuins en trek
sy oge op ’n plooi om te probeer
vasstel wat daar staan. ‘P’ begin hy
dit met moeite uitspel. ‘Pie’, vorder
hy effe verder en dan volg ’n ‘pe’.
‘Piepe,’ kry Gert dit uit. ‘Lie,’ staan
daar vervolgens en dan ’nie.’
Piepelienie!” lees Gert dit vervaard
vir sy Johanna op Afrikaans voor.
En
dan bars hulle altwee onbedaard
van die lag uit. Natuurlik is dit Ingels
en dit dui aan waar die ‘Pipeline’
loop. Die pad is gemaak om
inspeksie van die ‘pipeline’ te doen,
besluit hulle.
Gert sê hulle het weer die kruin van
die koppie besoek maar dié keer
maklik, met die roete langs wat nou
altyd vir hulle die piepelieniepad sal
bly. |