PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 22 April 2010 15:02
Untitled Document

Dit was in die sewende jaar van die destydse groot sewejaardroogte in die toentertydse Wes-Transvaal. Kinders van die omgewing het vir die eerste keer op skool geleer van reën en die meeste van hulle het nie die storie geglo nie.

Toe dit nog gereën het, was dit uitmuntende mieliewêreld rondom die dorpie waar die laerskooltjie gestaan het en waar die ware verhaaltjie wat ek weer vandag onthou, hom afgespeel het.

Met die boere van die distrik het dit voor die sewejaardroogte baie goed gegaan. Minstens een Mercedes en drie nuwe trekkers in die waenhuis, ten volle opbetaalde lidmaatskap van die tennis- en die gholfklub en die goeie vooruitsig om die koöperasieskuld ná die volgende oes gedeeltelik af te betaal.

Dit alles is moontlik gemaak deur die milde reëns en die gevolglike goeie oeste. Maar op ’n dag het dit terstond opgehou reën. Jaar ná jaar en misoes ná misoes het die goeie lewe van die vet jare vir die boere algaande slegter en maerder en maerder geword.

En hoe droër dit word, hoe meer en meer het sekere moedelose manne hulle nattigheid en vertroosting in ou Doppies du Preez se hotelletjie en uit sy bottelstoor loop soek. Só het dit gebeur dat Doppies se dorpskroeg ook die plek van besinning geword het. Hier is teenoor mekaar gekla, oorlewingsplanne uitgeruil en mekaar moed ingepraat en uitgepraat – meestal met die hoop en geloof dat die milde reent van weleer net om die draai wag.

Maar vir sommige het die hoop ná sewe bittere en brandmaer jare behoorlik begin beskaam. Só was dit dan ook vir die oujongkêrel broers, Awerjan en Willem van Vlakplaas. Met die aanstap van die droogtejare het Willem en Awerjan se koöperasie- en landbankskuld al hoe groter geword en hulle besoeke aan Doppies se kroeg al hoe meer en al hoe gereelder.

Dit was met een só ’n ver gevorderde besoek, sê hulle, dat Awerjan, die oudste broer, vir Willem met ’n diep versugting gesê het: “Dis verby, my broer. Ons kan nie meer nie. Hulle gaan vir Vlakplaas kom vat. Al wat vir ons oorbly, is om die lewe te verlaat.”

Hulle wat daar was, sê dat Willem, met voorwaardes, saamgestem het. Om jou eie lewe te neem, is nie speletjies nie en hy wat Willem is, is vrek bang vir gewere, water, gif en vir gas. En ’n pil het hy in sy lewe nie gedrink nie. Hy gaan ook nie nou hier op die laaste sy beginsels en sy goeie gewoontes prysgee nie.

Dis toe dat Awerjan die oplossing kry. Hulle, die geknelde gebroeders van Vlakplaas, sal hulle self dood drink. Soos wat hulle oorle ma altoos gesê het hulle oorle pa gedoen het. Dis iets wat hulle so met die droogte saam goed geleer doen het en dit sê nêrens dat jy nie jou eie selfmoord mag geniet nie.

Net daar is konsensus bereik en het die broers langsaan by die bottelstoor ’n aantal kaste brandewyn aangeskaf, oorvertellings oor die presiese hoeveelheid verskil, maar dit was volgens Doppies genoeg om twee rakbiespanne vir ’n week besig te hou.

“Skryf dit op maar op,” sê Awerjan glo met genoegdoening aan Doppies se vrou en die twee sit met ’n bakkievrag brandewyn en Coke af Vlakplaas toe.

Om seker te maak die uitkomspoging is ’n sukses en dat een van die twee nie koue voete langs die pad kry nie, fortifiseer die broers die deure en venster van die opstal met spykers en planke. En hulle gaan aan die suip – vir oulaas.

Die mense sê ná twee weke daag die erg gehawende Awerjan en Willem toe by Doppies se bottelstoor op om voorraad aan te vul en om nog sesduimspykers en planke op skuld by die koöperasie aan te koop.

Hulle het glo nog so gestaan en stry oor verdere bottelstoorskuld, toe die donder dreun en hemele oopmaak . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger