Ontberinge van Susanna, die kaalvoet–oor–die–Drakensberge vrou Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 17 October 2026 09:00
Untitled Document

Angie Kleijn

“Kaalvoet oor die Drakensberge.” Dié bekende woorde word aan die Groot Trek gekoppel, maar min van ons weet dat dit deel was van ’n vurige kreet van verset teen die Britse oorname van Natal en dat die vrou wat dit uitgespreek het, te arm was om verder te trek. Sy kon Pietermaritzburg nooit saam met die ander Trekkers verlaat om in Pretoria aan te kom nie.

Die eintlike woorde wat Susanna Smit kwytgeraak het, was: Ons het goed en bloed gegee om onder die gehate Britse vlag uit te kom, en al moet ons ook barrevoet en blootshoof terug oor die Drakensberge loop, sal ons nie onder die vlag berus nie.


’n Denkbeeldige tekening van Susanna Smit
Bron: afrikanergeskiedenis.co.za

Susanna het ’n optog van 400 vroue gelei en met ’n twee-ure lange vergadering agter geslote deure het hulle vir spesiale Britse kommissaris, advokaat Henry Cloete, van hulle lyding en ontberinge vertel. Die Britte het die Voortrekkerrepubliek Natalia geannekseer en Henry is in Augustus 1843 Pietermaritzburg toe gestuur om die Trekkers daarmee te versoen dat hulle weer Britse onderdane sou word.

Latere generasies het Susanna se woorde aangegryp en Die Kaalvoetvrou-monument deur Alfonso Smuts is in 1977 op die Drakensberge naby Kerkenberg, ongeveer 60 km vanaf Harrismith, onthul.


Susanna Smit se dagboeke
Bron: academia.edu; Foto deur M De Beer, 2012

Dagboeke
Susanna was die Voortrekkerleier, Gert Maritz, se suster en die vrou van die ‘Voortrekkerpredikant’ Erasmus Smit. Die dagboeke wat sy van 16 Februarie 1843 tot 17 Januarie 1859 gehou het, vertel ons baie van die beproewinge wat sy deurgemaak het en haar ongelukkigheid in haar huwelik.

Susanna en Erasmus het albei dagboeke gehou, maar beide se vroegste dagboeke het verlore geraak. Erasmus se dagboek, wat hoofsaaklik oor daaglikse gebeure in die Groot Trek gegaan het, is in 1896 deur ds HF Schoon en weer in 1920 deur Gustav Preller uitgegee.

Vele boeke en verhandelings is oor Susanna se dagboeke geskryf, soos ‘Die wêreld van Susanna Smit’ deur Karel Schoeman. Haar dagboeke was geestelik, bevat weinig oor historiese gebeure en is vol van persoonlike ervarings asook drome, gesigte en gedigte. Sy het nooit van ’n dagboek gepraat nie, maar eerder van haar ‘aantekeningsblaadjes’.


’n Bladsy in een van Susanna se dagboeke
Bron: academia.edu; Foto deur M De Beer, 2012

Ouers
Susanna Catharina Maritz is op 28 Augustus 1799 op Uitenhage in die Zuurveld distrik van Graaff-Reinet gebore en is op 26 Februarie 1800 gedoop. Sy was die derde kind van Salomon Maritz (1770–1849)  en Maria Elizabeth Oosthuijsen (1777–1846). Maria was maar 15 jaar oud toe sy met Salomon getroud is.

Volgens Karel Schoeman het Salomon en Maria buitengewone hoë opvoedingsvlakke gehad in vergelyking met die meeste mense in die gebied en het gesorg dat hulle kinders meer as net die basiese lees-, skryf- en somme-maak vaardighede aanleer.


Susanna se pa, Salomon Stefanus Maritz
Bron: wikitree.com

Susanna was egter baie ongelukkig in haar ouerhuis en skryf in haar latere dagboeke: “Ik was de meest verdrukten . . . zelfs in mijn ouders’ huis, de minste geliefde onder de kinderen mijner moeder . . . mijne kindsheid was bitter . . . gunter in een hoek op een stoel zit te snikken.”


Erasmus Smit
Bron: afrikanergeskiedenis.co.za

Dwing
Die gesin het in 1811 Graaff-Reinet toe getrek waar Susanna se ma haar op 13-jarige ouderdom gedwing het om met die 35-jarige Erasmus Smit te trou. Die twee is op 26 Junie 1813 getroud.

In ‘The piety of Afrikaans women: Diaries of guilt’, skryf Christina Landman dat ’n leeftyd van vernedering en onstabiliteit vir ’n tiener met brose emosies voorgelê het. Vir dekades moes sy van sendingstasie tot sendingstasie trek saam met ’n onbevoegde man wat te veel gedrink het en aan ’n kommunikasieprobleem gely het.


Gert Maritz
Bron: Jackie Grobler-versameling

Erasmus is op 2 Augustus 1778 in Amsterdam gebore. Hy was skaars een jaar oud toe sy ma dood is. Sy pa het hom in ’n weeshuis gesit toe hy as tweede stuurman na Oos-Indië vertrek het. Erasmus was agt jaar oud toe sy pa dood is. Teen die ouderdom van 15 jaar moes hy ’n ambag kies en is as kleremaker opgelei.


‘Uit Het Dagboek van Erasmus Smit: Predikant Bij De Voortrekkers’
Bron: chapter1.co.za; The State Library Reprints No. 10

Sendeling
Kinders moes die weeshuis op die ouderdom van 21 jaar verlaat, maar Erasmus het ’n verdere twee jaar daar gewerk. Ná slegs twee en ’n halwe maande se opleiding as sendeling by die “Nederlandsch Zendelinggenootschap”, het hy op ’n skip na die Kaapkolonie geklim. Daar was glo hewige storms, die skip het koers verloor en het eers in Amerika beland voor dit die Kaap in 1804 bereik het.

Twee jaar later het Erasmus op dr JT van der Kemp se sendingstasie op Bethelsdorp gewerk. Later het hy vir die Londense Sendinggenootskap onder die Boesmans op Tooverberg in die hedendaagse Colesberg-distrik in die Bo-Karoo gewerk.


‘Joernaal van ’n trek’ uit die dagboek van Erasmus Smit, geredigeer deur Gustav Preller
Bron: abebooks.com

Teen dié tyd was hy met Susanna getroud en hulle twee seuns, Hermanus Samuel George Erasmus Smit en Salomon Erasmus Smit, is daar gebore. George is op 10 Julie 1814 gebore toe Susanna 14 jaar oud was en Salomon op 30 Mei 1816.

Erasmus het vanaf 1822 sendelingwerk onder die Hottentotte op Stellenbosch gedoen en omdat die Kaapse Kerk hom nie wou orden nie, het hy in die 1830’s onderwys op Olifantshoek, die hedendaagse Alexandria, gegee.


Die Kaalvoetvrou-monument
Bron: kameelhuisetussenspore.blogspot.com

Bedank
Erasmus het op 14 Junie 1832 bedank, glo weens slegte gesondheid en ouderdom (hy was maar in sy vroeë 50’s). Volgens Michelle Puddi in ‘Die piëtistiese dagboek van Susanna Catharina Smit (1799-1863)’ was die eintlike rede vir Erasmus se bedanking die feit dat hy weens sy drinkgewoontes nie sy take kon uitvoer nie.

Susanna se broer, Gert Maritz, was ’n suksesvolle sakeman wat hom op wamakery op Graaff-Reinet toegespits het en die werklose gesin het by hom gaan intrek. As wykmeester, waarnemende veldkornet, grondeienaar, regsverteenwoordiger en raadgewer was Gert ’n gerespekteerde leier van die gemeenskap.

Hy het in 1834 voorbereidings begin tref om te trek en ander voornemende Voortrekkers het hom as hulle leier aanvaar. Sy trek van honderd waens en omtrent 700 mense het die Kaapkolonie in September 1836 verlaat.


“Liewer kaalvoet terug oor die Drakensberge”
Bron: kameelhuisetussenspore.blogspot.com

Trek
Die Smit-gesin het ’n kakebeenwa by Gert geleen, osse by ander mense bekom en het deel van die trekgeselskap geword. Omdat Erasmus nooit georden is nie, het baie Voortrekkers hom nie as dominee aanvaar nie en het hulle huwelike eerder deur Gert as huwelikskommissaris laat bevestig.

Piet Retief is as goewerneur aangestel en hy het Erasmus op 21 Mei 1837 as leraar bevestig. Kort daarna het die gesin by die Retieftrek aangesluit. Gert wou sy wa terughê en Piet Retief het later gereël dat die wa uit die regeringskas betaal word. Die Smit-gesin se wa was vol boeke en Susanna het gehelp om die Trekkerkinders te onderrig.

Susanna en Erasmus se seun, Salomon, was saam met hulle op die Groot Trek en kort ná sy 21ste verjaardag het hy ernstig siek geword. Hy het geleidelik swakker geword en is op 28 Julie 1837 oorlede. Hulle oudste seun, George, het in die Kaapkolonie agtergebly waar hy getroud is en twee dogters gehad het.


Die standbeeld se gesig
Bron: kameelhuisetussenspore.blogspot.com

Pietermaritzburg
Gert Maritz het koors opgedoen toe hy Port Natal ’n tweede keer besoek het. Hy is op
23 September 1838 in die ouderdom van 41 jaar oorlede. Die Smit-gesin het hulle in 1839 in Pietermaritzburg gevestig, ’n dorp wat na Gert Maritz en Piet Retief vernoem is.


‘Die wêreld van Susanna Smit’ deur Karel Schoeman
Bron: bobshop.co.za

Die kerkraad het geweier dat Erasmus in die Geloftekerk preek en, in weerwil van die kerk, het hy dienste in sy eie huis aangebied en selfs die sakramente daar bedien. Die volksraad op Pietermaritzburg het in Maart 1840 besluit om vir Erasmus ’n jaargeld van seshonderd rijksdalers toe te ken. Daar was besware en ontevrede Voortrekkers het ds PK Albertyn uit die Kaapkolonie beroep, maar hy het vir die beroep bedank. Daarna het die volksraad die Amerikaanse sendeling, Daniel Lindley, aangestel.


Britse Kommissaris, advokaat Henry Cloete se boek: ‘The History of the Great Boer Trek and the Origin of the South African Republics’, 1899
Bron: bobshop.co.za

Verneder
Susanna het in haar dagboek geskryf dat sy verneder voel. Ook het hulle seun George ná jare in 1845 uiteindelik sy ouers Pietermaritzburg toe gevolg, maar sy vrou en dogters het in die kolonie agtergebly. Hy het by sy brandarm ouers geld geleen om te help om sy gesin Natal toe te trek.

Sy vrou het geweier en hy het van haar geskei. In 1847 het George in die hof beland op aanklagte van geldverduistering. Hy is vrygespreek maar sy reputasie is geskend. In November 1849 is hy georden om skuld terug te betaal en in 1850 is hy tot drie dae tronkstraf gevonnis weens laster.


Henry Cloete
Bron: eggsa.org

Op 14 Junie 1850 het Susanna geskryf dat sy die feit betreur dat haar man steeds nie as ’n predikant van die kerk aanvaar word nie en dat hy ’n bespotting in die gemeenskap is. Alhoewel Susanna dit nie skryf nie, is Erasmus glo selfs deur die kinders op straat gespot weens sy alkoholmisbruik en gevolglike antisosiale gedrag.

Susanna was skaam, hulle was verarm, sonder vriende en het in ’n klein huisie in Bergstraat krepeer tot Susanna se dood in die ouderdom van 63 jaar op 27 Julie 1863. Erasmus is ’n skamele agt dae ná haar dood. Hulle het George en die twee kleinkinders, wat hulle nooit ontmoet het nie, agtergelaat.

 

© 2025 Die/The Bronberger