|
Terugblikke in ’n kosrubriek in die Bronnie kan mos nou nie anders as om mymerkos se voorganger, die immer-gewilde Vreethans te onthou nie. Die rubriek se aanloop het altyd as volg gelees: Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
Vreethans is op 14 April 2023 oorlede en in hierdie gedenk-uitgawe kyk ons met heimwee terug na ’n paar van Vreethans en Metgesel se kuierbesoeke uit die Bronnie se kinderskoenjare.
Nikos: Zwavelpoort

Nico en Lynette Breytenbach
In September 2002 het Vreethans vertel dat ’n kuier by Nikos voel soos om ’n naweek plaas toe te gaan. Die gemoedelike egpaar Nico en Lynette Breytenbach het eerlike boerekos en egte boeregasvryheid voorgesit.
Vreethans het ’n kerrie-afval teen ’n hele R37 verorber en Metgesel ’n hoender-schnitzel teen R28. Dié volbloed plattelandse afsaalplek by die ou Zwavelpoort-sentrum was waar die mense van die omgewing mekaar leer ken het en vriende geword het.
Nico is op 3 Augustus 2020 oorlede.
Rafters: Mooikloof

Joan en Joe Duarte
Joan en Joe Duarte het die eerste weergawe van Rafters op die boonste vlak by die B-House-sentrum oorkant Mooikloof op die been gebring en Vreethans en Metgesel het in Mei 2003 gaan kuier. Metgesel se hoendervlerkies en skyfies het R20 gekos en Vreethans se beeskerrie met rys en ’n mengelslaai was R22.95.
Joan en Joe het hulle gaste met natuurlike gemoedelikheid dadelik laat tuis voel en ’n kuier is deur gemaklike geselskap en baie lag gekenmerk. Ná hulle PE toe getrek het, het Joan se broer, Eddie Williamson, en sy vrou, Arline, Rafters oorgeneem en uitgebou.
Formosa: Bashewa

Jurita en Ella Lösch
In 2006 het ’n bord boerekos by Formosa R35 gekos en jy het presies dieselfde ete geniet as dit waarby die gesin die betrokke Sondagaand by hulle hoewehuis om die hoek sou aansit.
Een van die jammerste verliese vir die Bronberg-gebied was die dag toe die susters, Ella en Jurita Lösch, besluit het om Formosa se deure weens veiligheidsoorwegings finaal te sluit. Hulle het vir jare nog ’n gastehuis op die mooi hoewe op Bashewa bedryf voor hulle Mosselbaai toe getrek het.
Bronberg Lodge: Zwavelpoort

Faan Smuts
In Oktober 2004 berig Vreethans dat Faan en Issie Smuts ’n kuierplek op Zwavelpoort gevestig het. Bronberg Lodge sou inderdaad in die opvolgende jare dié plattelandse kuiertuiste vir die omgewing se mense word en sy eienaars sou diep spore in hulle harte trap.
Hier kon jy tradisionele kos uit die boonste rakke kry wat met Faan se spesiale stempel telkens vir ’n onvergeetlike eetervaring gesorg het. Faan was ’n Weskuster van oorsprong, ’n innemende storieverteller en humoris met ’n wye vriendekring en ’n ruim hart. Hy is op 26 Augustus 2011 oorlede.
Bull ’n Bush: Tierpoort

John Knox
In 1994 het wyle Eddie Saffy en sy vrou Karin ’n kuierplek, Pheasants Nest, op Tierpoort bedryf tot weerlig dit in 1999 laat afbrand het. ’n Kleiner weergawe is neffens opgerig en The Zonked Guinea Fowl gedoop.
Oor die jare het die plek veelvuldige eienaars en name gehad: Bull ’n Bush, Road Runners Pub, Cool Cats, The Playground, Ed’s Place en LJ’s.
In Oktober 2002 het Vreethans en Metgesel ’n draai daar gemaak toe John Knox, Blou Bul-rugbyspeler in die laat 1970’s, dit bedryf het. John is op 6 November 2009 oorlede.
Die Werf: Olympus

Kuiers by Die Werf
Chris Thirion het ’n geskiedkundige opstal in Olympus in ’n legendariese kuierplek, wat hy Die Werf genoem het, omskep. Vreethans noem Die Werf in April 2003 se Bronnie ’n rustige oase wat midde in die koorsagtige ontwikkeling van dié eertydse plotgebied bly staan het.
Die ou opstal was ’n kuierplek wat met dekor en geregte op die tradisionele gefokus het. Chris self was met Vreethans en Metgesel se besoek die ‘pratende spyskaart’.
Die oud-generaal het die restaurant later verkoop en dit word vandag as Blos Café bedryf.
Die Hoek: Kaalfontein

Theunetta Schubert
Die Hoek staan al dekades lank daar op sy Kaalfonteinse hoek-hoewe langs die ou Bronkiepad: Theunetta se Hoek, Pop se Hoek, of tannie Pop-op-die hoek – sou jy jonger wees.
In die jare her al kon jy gereeld ’n aantal wit bakkies buite onder die bome sien staan en nou nog kan jy. Dit het in die (verre) verlede gebeur dat Vreethans en Metgesel op ’n dag Die Hoek as deel van ’n kuipe-stop op ’n kroegkruip-tog saam met vriende by ’n Vreethans-rubriek ingesluit het. Vreethans se laaste kuier-besoeke aan Die Hoek was in 2021.
Riverside Mixer: Zwartkoppies

Riverside Mixer se kuierstoep
In Januarie 2005 berig Vreethans oor Riverside Mixer op die Ou Bronkhorstspruitpad. Die eienaars het ’n ou opstal op ’n beesplaas langs die Pienaarsrivier gevat en dit in ’n Vreethans-vriendelike kuierplek omgetoor.
Benewens ’n lekker kroeg, het dié plek ook gespog met ‘n eetkamer, ’n kuierkamer aan die rivierkant van die huis, ’n leeskamer kompleet met boekrakke en gemakstoele, en groot tuine.
Metgesel se gebakte aartappel met feta en roomspinasie het R22 gekos en Vreethans se rump en goed R50.
|