Boshoeddag bring eerbetoon Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 18 September 2026 12:00
Untitled Document

Betsie Steyn
’n Groep weermag militêre veterane het op 29 Augustus hulle jaarlikse Boshoeddag in die gedenktuin by die Volksmuseum op Kleinfontein gevier as eerbetoon vir die grensvegters wat in die Bosoorlog gesneuwel het.

Die sameroeper, Frik Oberholster, het die verwelkoming en bedankings gedoen, waarna ds Carel Vermaak van die AP Kerk Rayton ’n diens gelewer het. Daar was ’n minuut stilte met die boshoed wat in eerbetoon teen die bors vasgehou is.

André Botha was die spreker van die dag. Hy het vertel dat die konflik 23 jaar lank geduur het en vir tussen 2 000 en 2 500 sterftes onder ons mense gesorg het. Terwyl Craig Herwell, in volle Skotse mondering en doedelsak, ’n solo gelewer het, is die vlag halfmas laat sak en is later weer gehys.


Frik en Isabel Oberholster, André Botha, Louisa Jooste van Kleinfontein se kultuurkomitee en Volksmuseum, Craig Herwell, Gerhard Harmse, Charel Bezuidenhout en Theo Kruger
Foto: Betsie Steyn

Isabel Oberholster het ’n voorlesing oor die soms humoristiese doel en diens van die boshoed gedoen. ’n Kranslegging is gehou en daarna is ’n Outeniekwa-geelhoutboom geplant.

Die Donkerhoek-vereniging, vernoem na die Slag van Donkerhoek, is onlangs gestig om weermagveterane van Kleinfontein, Rayton, Cullinan en Bronkhorstspruit te betrek. Die sameroeper is Thinus Coetzee: 082-280-4289.

 

 

© 2025 Die/The Bronberger