Só lyk Ierse Annie, die Unie se eerste premiersvrou Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 14 August 2026 12:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Baie staaltjies is al oor die Ierse afstammeling Annie Emmett, eerste minister Louis Botha se vrou, vertel. Foto’s van dié egpaar is volop en daarom is dit ’n tergende raaisel hoe op aarde ’n foto van iemand anders deesdae as ’n portret van Annie beskryf word.


Leo Weinthal se foto van generaal Lucas Johannes Meyer se tweede vrou Petronella, gebore Burger, wat deesdae as ’n foto van Annie Botha beskou word
Bron: Howard C Hillegas,With the Boer Forces’

In Howard C Hillegas se boek, ‘With the Boer forces’, is daar ’n foto van ’n beeldskone vrou by ’n venster. Howard was ’n korrespondent van ‘The New York World’ wat in die Anglo-Boereoorlog tyd saam met die Boeremagte in die veld spandeer het.


Leo Weinthal se foto van Annie, ’n nooi Emmet, die vrou van kommandant-generaal Louis Botha
Bron: Howard C Hillegas,With the Boer Forces’

Die foto is deur Leo Weinthal geneem, redakteur van die destydse ‘The Press’ en stigter van ‘The Pretoria News’ in 1898. Die vrou op dié foto is as generaal Lucas Johannes Meyer se tweede vrou Petronella (Nellie), gebore Burger, aangedui. Deesdae gebruik navorsingsbronne Nellie se foto as een van Annie Botha al bestaan daar ’n bekende foto waar dié twee vroue, elk met ’n bandelier en Mauser geweer, reg langs mekaar staan met hulle mans aan weerskante.


Louis en Annie Botha
Bron: WikiTree

Albei vrouens het in die Anglo-Boereoorlog uit hulle pad gegaan om hulle ondersteuning aan die Boeremagte duidelik te maak, alhoewel Nellie dalk net ’n bietjie gehoorsamer was. Toe Louis Botha kommandant-generaal van die weermag geword het, het hy ’n bevel uitgereik dat vrouens nie meer toegelaat moet word om die laers te besoek nie. Ironies genoeg was sy eie wederhelfte een van die vrouens wat heldhaftige pogings aangewend het om die kommando’s te besoek om hulle te bemoedig.


Louis Botha (1862–1919) en Annie (1864–1937)
Bron: findagrave.com

Annie Frances Bland Emmett is op 3 Julie 1864 op Swellendam in die Kaapkolonie gebore. Haar oupa aan vaderskant was ’n Ierse immigrant, Edwin Cheere Emmett, wat hom op Uitenhage in die Oos-Kaap gevestig het. Hier het hy met Anna Cornelia Bresler getrou en hulle het drie kinders gehad.

Hulle enigste seun, John George Cheere Emmett (1822–1905), het op 16-jarige ouderdom George toe getrek waar hy as meubelmaker begin leer het by Josiah Benjamin Adam Bland se firma. Hy het op sy werkgewer se dogter, Helena Letitia (soms ook aangedui as Helena Aletta) Bland (1833–1895) verlief geraak, met haar getrou en Swellendam toe getrek, waar hy sy eie kabinetmakery begin het.


Louis en Annie Botha
Bron: ancestors.familysearch.org

Hulle het sewe kinders gehad: Edwin Cheere Emmett; William Cheere Ayliff Emmett; Cecil Frederick Cheere Emmett; Annie Frances Bland Botha; Joseph James Cheere Emmett (die Anglo-Boereoorlogse bittereinder-generaal); Kathleen Mavourneen Meyer en John Benjamin Bland Emmet.

Annie se ouers het in 1869 Oranje-Vrystaat toe getrek, waar hulle op ’n plaas tussen Harrismith en Vrede geboer het. Sy was op skool by St. Michael’s Convent in Bloemfontein, waar sy later self onderwys gegee het.


’n Gesinsfoto van die Bothas
Bron: ancestors.familysearch.org

Rondom die begin van 1886 het haar ouers na Vryheid getrek en dit is hier waar sy vir Louis Botha ontmoet het. Hy is op 27 September 1862 op Greyton Natal gebore as die seun van Louis (Lewies) Botha en Salomina Adriana, ’n nooi Van Rooyen.

Die 24-jarige Louis en 22-jarige Annie is op 13 Desember 1886 in die NG Kerk op Vryheid getroud en het aanvanklik op die plaas Waterval geboer. Hulle het vyf kinders gehad: Helena Letitia; Louis; Minnie Frances; John Cheere Emmett (Jantjie); en Philip George.


’n Skildery van Annie Botha in Botha-huis, KwaZulu-Natal
Bron: KZN A Photographic and Historical Record

Ten tye van Louis en Annie se huwelik was Vryheid die hoofstad van die Nieuwe Republiek, een van die kleiner Boererepublieke wat deur die Voortrekkers gestig is. Lucas Meyer was die president vanaf die republiek se stigting in 1884 tot dit in 1888 deel van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) geword het. Dis die einste Lucas wie se tweede vrou Nellie op die foto as Annie aangedui word.

Louis is as veldkornet vir Vryheid gekies en het dié amp behou met opname in die ZAR. Hy het die politiek in 1896 betree toe hy en Lucas gekies is om Vryheid in die eerste volksraad te verteenwoordig.


Annie en Louis Botha op Rustenburg toe hy eerste minister van die Unie van Suid-Afrika was
Bron: Wikipedia

Louis was meer in Pretoria as op die plaas en toe die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 uitbreek, het Annie en haar kinders reeds saam met hom in Pretoria gewoon. Hy het by die Vryheid-kommando aangesluit en was ’n gewone burger met die Slag van Talana. Louis het gou sy staal gewys en toe generaal Lucas Meyer siek word, het Louis sy pos oorgeneem en is permanent as generaal aangestel. Ná generaal Piet Joubert se dood is Louis as opperbevelvoerder van die Transvaalse Boeremagte aangestel.


Annie Botha
Bron: Hugh Bland-versameling; KZN Photo Record Blog

Daar is ’n staaltjie van hoe lord Kitchener vir Annie toegelaat het om van Pretoria per spoor en muilwa na Louis by Bothasberg, distrik Ermelo te reis om hom te oortuig om Kitchener te ontmoet. Die ontmoeting was in Februarie 1901 op Middelburg, maar dié twee se onderhandelings het nie tot vrede gelei nie. Voorstelle wat daar gemaak is, het die basis geword waarop by die Vrede van Vereeniging in Mei 1902 verder gepraat is.


Annie se bedankingsbrief wat ná Louis se dood uitgestuur is
Bron: Hugh Bland-versameling; KZN Photo Record Blog

Annie is in die middel van 1901 Europa toe, waar sy, as eggenote van die Transvaalse opperbevelhebber, publisiteit vir die Boere-saak gebring het en die weg help baan het vir ná-oorlogse besoeke aan Europa om fondse vir oorlogslagoffers in te samel.


’n Duitse koerant noem hierdie ‘familie van Louis Botha’. Van links na regs: Mej Emmett; mej Botha; mev Botha, gebore Emmett; met twee jong Botha-seuns
Bron: weet.co.za

Annie is teen die einde van 1902 terug Suid-Afrika toe. Die gesin se plaasopstal is vernietig en hulle het in Cellierstraat, Sunnyside gewoon vanwaar sy en Louis deur die platteland gereis het om gesinne, wat alles verloor het, te probeer help. Dit is in dié huis waar Annie en Georgiana Solomon die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie op 19 Oktober 1904 gestig het om hulp aan Afrikanergesinne te verleen.


Van links na regs: Louis Botha; Annie Botha; Petronella (Nellie) Meyer, gebore Burger; en Lucas Meyer vroeg in 1900
Bron: helion.co.uk met dank aan die Oorlogsmuseum van die Boere Republieke, Bloemfontein

Louis was in Mei 1904 ’n stigterslid van die politieke party, Het Volk. Hy het eerste minister van die Transvaalkolonie geword en in 1910 is hy as die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika aangestel (1910 – 1919). Annie se rol as premiersvrou het dit vir haar onmoontlik gemaak om steeds voorsitter van die Vrouefederasie te wees en sy is as ere-lewenslange president aangestel.


Botha-huis in vervloë dae
Bron: Hugh Bland-versameling; KZN Photo Record Blog

Louis was in beheer van die Unie-troepe in die Rebellie van 1914 en was deel van die Suid-Wes Afrika veldtog in die Eerste Wêreldoorlog. Hy en generaal Jan Smuts het die vredeskonferensie in Europa in Desember 1918 bygewoon. Louis het die gevreesde Spaanse Griep opgedoen en het siek na Suid-Afrika teruggekeer.

Teen die einde van Julie 1919 was Louis ’n baie siek man wat met sy hart gesukkel het. Hy het die oggend van 27 Augustus 1919 in Annie se arms gesterf. Die doodsertifikaat dui ’n hartaanval as oorsaak aan.

Annie het vir jare gewerk om die Louis Botha-tehuis vir wees- en sorgbehoewende kinders te stig en die tehuis is ná Louis se dood gebou. In daardie jare het Annie al hoe minder in die openbaar verskyn. Sy het in die Standerton-distrik gewoon waar sy weer begin skoolhou het en ’n losieshuis geopen het.


Annie Emmet
Bron: Nico Moolman Tribute

Haar vakansies het sy aan die Natalse suidkus deurgebring. Voor Louis se dood het hy vir Sir Frank Reynolds gevra om “twee of drie akkers te soek om vir Annie ’n kothuis te bou” by Umdoni Park-landgoed, vandag in die Natalse suidkus-dorpie Pennington.


Annie se pa, John George Cheere Emmett
Bron: Louis Scheepers

Bouwerk aan dit wat uiteindelik ’n groot Kaaps-Hollandse-styl huis geword het, het in Junie 1919 begin, minder as drie maande voor Louis oorlede is. Botha-huis is in Mei 1920 aan Annie gegee. Sir Frank het sy private eienaarskap van Umdoni Park aan ’n trust bemaak en een van die klousules het gelui dat Annie lewensreg op die huis het.


Annie se ma, Helena Letitia (soms ook aangedui as Helena Aletta) Bland in 1889
Bron: Estelle Cheere Dubber

Annie het in haar later jare permanent in Botha-huis gewoon, waar sy op 20 Mei 1937 in die ouderdom van 72 jaar aan ’n hartaanval oorlede is. Sy is op 25 Mei 1937 in Arcadia, Pretoria begrawe.

Botha-huis is vandag ’n gastehuis met nege dubbel en-suite kamers en ’n selfsorg kothuis in ’n landgoed met ’n gholfklub.

 

 

© 2025 Die/The Bronberger