|
Inwoners van Grootfontein-landgoed het amptelik beswaar gemaak teen die hersoneringsaansoek, wat in Julie ingedien is, vir ’n plek van aanbidding by Sinovichrylaan 154.
In Die Bronberger se Mei-uitgawe het ons berig dat ’n markiestent oor die Paasnaweek daar opgeslaan is, dat massas kerkgangers met busse aangery is en dat daar ’n oordonderende lawaai was.
“Ons het nie ’n probleem met ’n kerk nie,” het ’n inwoner op die WhatsApp groep, ‘Sinovich Rd Disturbance’, wat ná die Paasnaweek gestig is, gesê. “Ons het ’n massiewe probleem met ’n kerk wat so hard lawaai maak dat die desibelvlakke wat opgeneem is, iets is wat ’n mens binne-in ’n propvol Loftus kan verwag.”
Raadslid vir wyk 91, Henning Viljoen, het gesê dat Hope Ministries International die eiendom aangekoop het met die plan om ’n permanente kerk daar te bou.
Tshwane metro-woordvoerder, Lindela Mashigo, het in April gesê dat Stad Tshwane se omgewingsgesondheidspraktisyn die eienaars ingelig het dat hulle verrigtinge oor die Paasnaweek ’n oortreding van die Gautengse geraasbeheerregulasies was en dat sulke byeenkomste nie onder die eiendom se huidige sonering en munisipale verordenings toegelaat word nie.
 Die ingang na Grootfontein-landgoed Bron: Google Maps
In Julie is ’n plakkaat by die eiendom aangebring wat lui dat Manono Ntsibande van Lindtiz Town Planners kennis gee dat hy by Stad Tshwane metropolitaanse munisipaliteit aansoek gedoen het vir wysiging van die Tshwane-grondgebruikskema vir die hersonering van eiendom te Sinovich-rylaan 154 van ‘onbepaald’ na ‘spesiaal’ vir die doeleindes van ’n plek van aanbidding met twee verdiepings, beperk tot 750 sitplekke.
Grootfontein is ’n lae-digtheid landgoedontwikkeling bestaande uit residensiële kleinhoewes en inwoners se besware sluit in dat die harde musiek en groot byeenkomste onversoenbaar is met die rustige landelike karakter van hulle gebied.
Hulle sê dat ’n plek wat vir 750 mense voorsiening maak ’n groot impak op verkeersvolume in Sinovich-rylaan en omliggende paaie sal hê. Hulle wonder hoe dié landelike gebied se watervoorsiening- en riolering-stelsels 750 besoekers op ’n Sondag sal kan hanteer.
Inwoners is ook bekommerd oor potensiële sekuriteitsprobleme wanneer soveel vreemdelinge van buite die gebied met busse aangery word. Hulle sê dat hulle graag sal wil hê dat die busse en voertuie binne-in die kerk se perseel moet parkeer en dat gemeentelede nie op die landgoed moet ronddrentel nie. |