|
In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.
Wie het nog nie gewonder waar die naam ‘slaphakskeentjies’ vandaan kom nie? Wat het ’n gereg, wat uit piekeluitjies in ’n soetsuur mosterdsous met eier bestaan, dan nou met hakskene te doen?
Koskenner Errieda du Toit skryf op 30 Augustus 2013 in haar blog ‘Huiskok’ dat die etimoloë van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal wys op ’n moontlike verband tussen die Nederlandse term ‘slap hakke’ wat ‘flou’ of ‘sonder fut’ beteken en saggekookte uie.
 Matrone Netta Nortjé se slaphakskeentjies Bron: ‘7de Laan vier fees!’
Errieda sê dat daar ook die ram-word-hamel-teorie is en dat jong rammetjies wat gekastreer is vir ’n paar dae met slap agterbene geloop het. Slaphakskeentjies is glo ’n dis wat destyds rondom lamtyd gemaak is.
Die naam is dalk eie aan die Afrikaanse kultuur, maar die wortels van die gereg strek baie verder terug. Errieda skryf dat ’n mens slaphakskeentjies se stamboom tot by die Romeine kan naspoor.
 ’n Denkbeeldige portret van Marcus Gavius Apicius uit Alexis Soyer se ‘Pantrop’ Bron: Wikipedia
Die antieke Romeine was versot op die kombinasie van soet-en-suur. Souse is dikwels met ’n mengsel van asyn, heuning en speserye gemaak en met eiers verdik. Die boek, ‘Oor die luuksheid van Apicius’ deur die Griekse grammatikus Apion, gaan oor Marcus Gavius Apicius, wat as die skrywer van die enigste kookboek uit die Romeinse tydperk, wat volledig bewaar is, bekendstaan: ‘De re coquinaria’ (Oor die kookkuns). Hy was ’n Romeinse fynproewer uit die Suid-Italiese stad Minturnae en tydgenoot van die keisers Augustus en Tiberius.
 Apicius-handskrif uit ongeveer 900 Bron: Wikipedia
Die sowat 450 resepte in die kookboek is ’n later bewerking uit die 4de eeu, maar Apicius word as die oorspronklike skrywer van ’n groot aantal van die resepte beskou. Die naam ‘Apicius’ was sinoniem met die kookkuns en luuksheid en baie Romeinse resepte en ’n aantal soorte gebak dra sy naam. Hy het glo selfmoord gepleeg nadat sy fortuin gekrimp het tot ’n bedrag wat hy as te skraal vir sy leefwyse geag het.
Errieda skryf dat haar kosgeskiedenis-vriendin, Hetta van Deventer-Terblanche, vertel dat die suursous met mosterd, wat ons vandag vir slaphakskeentjies gebruik, uit Middeleeuse resepte met mosterd, asyn en heuning moes ontwikkel het. La Varenne (1615–1678), wat die oorgang van Middeleeuse Franse kos ingelui het na moderne kookkuns, het die eerste keer Hollandaisse sous opgeteken.
 François Pierre de la Varenne Bron: madfeed.co
François Pierre de la Varenne was ’n vooraanstaande lid van ’n groep Franse sjefs wat in die tyd van Koning Louis XIV vir ’n professionele gehoor geskryf het. Hy is die skrywer van ‘Le Cuisinier françois’ (1651), een van die mees invloedryke kookboeke in die vroeë moderne Franse kookkuns.
Hetta het ook ’n resep vir ’n ‘Hollandse’ sous in ’n resepteboek uit 1770 in die Kaapse argiewe opgespoor – ’n suursous soos dié van slaphakskeentjies, so die sous was al daar, al was die naam nog nie.
Errieda skryf dat daar vandag ’n moderne variasie is wat rooi slaphakskene genoem word waar sultanas, tamatiepasta en rissie sonder die eierverdikte sous gebruik word.
Ons bied Matrone Netta Nortjé van ‘7de Laan’ se resep vir tradisionele slaphakskeentjies wat in ‘7de Laan vier fees!’ verskyn. Dit lewer vier tot ses porsies.
 Apicius se ‘De re coquinaria’ Bron: Amazon
Slaphakskeentjies
Bestanddele: 1 kg piekeluie, geskil en heel gehou / 10 ml (2 t) mosterdpoeier / 5 ml (1 t) mielieblom / 2,5 ml (1/2 t) borrie / 60 ml (1/4 k) koue water / 500 ml (2 k) bruin druiweasyn / 180 ml (3/4 k) suiker / 2,5 ml (1/2 t) sout / 3 eiers.
Metode: Plaas die uie in ’n kastrol met genoeg water om dit te bedek. Laat 20 – 30 minute stadig kook oor matige hitte of tot gaar. Die uie moenie te vinnig kook nie, want hulle moet nog stewig wees en heel bly. Dreineer deeglik.
Meng die mosterd, mielieblom en borrie met die water. Maak seker dat daar geen klonte is nie. Gebruik ’n draadklitser om makliker van die klonte ontslae te raak. Meng die mielieblommengsel met die asyn.
Plaas die suiker en sout in ’n kastrol en meng die asyn-en-mielieblommengsel daarmee. Verhit dit stadig oor matige hitte totdat die suiker opgelos is en dit begin kook. Roer af en toe sodat dit nie vassit nie.
 Die maak van slaphakskeentjies Bron: Henriette Wessels: ‘Watertand resepte vir oud en jonk
Klits die eiers deeglik in ’n mengbak. Voeg die asynmengsel bietjie vir bietjie daarby terwyl jy aanhoudend roer. Moenie die eiers by die asynmengsel voeg nie, want dit sal skif.
Gooi die mengsel terug in die kastrol, verhit stadig en hou aan roer tot verdik. Gooi die warm sous oor die uie en meng goed deur. Laat heeltemal afkoel en hou in die yskas tot voor opdiening.
Die uitjies raak lekkerder hoe langer dit staan, so jy kan dit selfs die dag voor die tyd maak.
|