Renie verloor sy been maar wen liefde Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 14 August 2026 12:00
Untitled Document

Vir weke lank moes mense gesien het dat Renie, ’n vyf-jarige Afrikanis, met ’n strik, wat diep in sy been ingesny het, rondloop. Hy moes in geweldige pyn gewees het en niemand het gestop om hom te help nie tot ’n barmhartige Samaritaan op 21 Julie ingegryp het.

Wet Nose-diereskuiling berig dat Renie se been reeds erge infeksie opgedoen het toe hy uiteindelik langs die R513-pad naby Mamelodi gaan lê het. Die toestand van die wond het dit duidelik gemaak dat hy weke lank gely het.


Renie op pad na Herman se motor
Foto: Herman le Roux

Herman le Roux skryf dat Genesis K9 hom laat weet het van Reni en toe hy met sy motor daar stop, het Reni dadelik reageer en na hom toe gekom. Hy het die strik om Reni se been gesien, besef hoe ernstig die situasie is en het Wet Nose gebel. Wet Nose se mense het gou opgedaag en het Renie in hulle kliniek opgeneem.

“Terwyl ons span besig was om hom te ondersoek, het iets gebeur wat ons bygebly het. Renie het sy oë toegemaak en in ons hande aan die slaap geraak, so amper asof hy uiteindelik verstaan het dat hy nie meer ’n stryd hoef te voer nie en homself kon toelaat om te rus,” het ’n woordvoerder van die skuiling gesê.

Sy been is erg beskadig en die infeksie was kommerwekkend. Later daardie selfde dag het die span geen ander keuse gehad as om die been af te sit nie om te verhoed dat die infeksie versprei en om sy pyn te verlig.


Renie ná sy been afgesit is
Foto: Wet Nose

“Ten spyte van alles waardeur hy is, het hy ons steeds met ’n waaiende stert gegroet en dit was nie lank voor sy glimlag teruggekeer het nie,” sê die woordvoerder. “Die heel spesiaalste deel van Renie se storie lê nog voor: Dieselfde man wat langs die pad gestop het, het besluit om hom aan te neem.”

“Ons het hom met liefde gered en sodra sy rehabilitasie voltooi is, gaan ons hom aanneem en ’n lewe gee waar hy op ’n bed kan slaap en goeie kos en versorging kry,” skryf Herman. “Ons kan nie wag om jou te gaan haal nie, Renie. Kan nie wag om jou deel van ons gesin te maak nie.”

 

© 2025 Die/The Bronberger