|
Die piekniekplek by Maraisdam in die Rietvlei-natuurreservaat is toegemaak ná ’n navorsings-verslag deur spesialis navorser by die landbounavorsingsraad, dr Michael van der Laan, in Julie gevind het dat die wetlike beperkings van fosfor in waterstrome by alle plekke waar watermonsters in en om die reservaat geneem is, oorskry word.
Die verslag het bevestig dat die besoedeling reeds teenwoordig is voor die Rietrivier by die reservaat invloei en dat die probleem stroomaf erger word. Volgens Michael is die hoogste fosforkonsentrasie by Maraisdam gemeet met vlakke van 5.1 mg/L, wat vyf keer hoër as die wetlike beperking is en 20 keer die vlak wat met hewige algebloei verband hou.
Die Bronberger het in Desember 2025 reeds berig dat die besoedelingskrisis by Rietvlei-natuurreservaat in rasse skrede toeneem. Tshwane metro-woordvoerder, Lindela Mashigo, het toe gesê dat monsterneming by die grens tussen Tshwane en Ekurhuleni gewys het dat rioolbesmette water van Ekurhuleni se ERWAT Hartebeestfontein-afvalwaterbehandelingsaanleg kom.
Hy het gesê dat gevalle waar besoedeling vanuit ’n ander munisipale distrik kom, na die nasionale departement van water en sanitasie, wat wetstoepassing en ingryping koördineer, verwys word en dat die departement ’n direktief aan ERWAT uitgereik het.
 Maraisdam-piekniekplek Foto: mybibisblog
In Julie het Lindela gesê dat die metro steeds in gesprek met die relevante owerhede is terwyl stappe geneem word om die impak op die Rietvlei-stelsel te verminder en watervoorsienings-infrastruktuur te beskerm.
Adjunk-burgemeester, Eugene Modise, het in November 2025 gesê dat die Rietvlei water-suiweringsaanleg tydelik gesluit is weens stygende vlakke van besoedeling en dat die metro daaraan werk om die fasiliteit so gou as moontlik te stabiliseer en te moderniseer. Hy het gesê dat die situasie deur vandalisme by die Rietvlei-boorgatstelsel vererger word.
Lindela het in Julie gesê dat die aanleg steeds tydelik nie-werkend is en het bevestig dat die piekniekplek by Maraisdam afgekamp is om te verhoed dat besoekers en personeel in direkte kontak met die water kom. Hy het gesê dat ander varswaterstrome in die reservaat steeds veilige drinkwater vir die wild bied.
|