Vir Tania se span is skaap-aankeer hondespeletjies PDF Print E-mail
News - Artikels
Friday, 26 March 2010 14:59
Untitled Document

Om skape volgens kompetisie- regulasies aan te keer, is nie kinderspeletjies nie.

Eintlik is dit ook nie hondespeletjies nie, maar as jy na die uitdrukking in die oë van Tania Quarmby se skaaphonde kyk, sien jy dat hulle dié aankerery intens geniet. Jy kan maar sê hulle is gebore om dit te doen. Tania en haar skaaphonde oefen twee keer ’n week op ’n plaas op die Boschkoppad by ’n boer wat 75 skape aanhou. Tania is die enigste suksesvolle kompeterende lid van die SA Skaaphond Vereniging wat nóg skape, nóg plot of plaas besit.


Tania Quarmby saam met Roxy, links, en die 13-jaar-oue Nibble, regs

Sy en haar honde gaan elke Saterdag en Sondag Boschkop toe om te oefen en sy sê dat sy op dié plaas sal bly oefen omdat sy weet dat daar nie doringdraad, glas of skrootmetaal rondlê nie en daar ook nie gevare soos byekorwe of ander honde is nie. Haar honde se veiligheid kom altyd eerste, sê Tania. Tania het so 13 jaar gelede, toe die wêreld nog baie anders gelyk het, by Farm Inn begin oefen met haar honde. Aanvanklik was dit net ’n stokperdjie, maar Tania se honde het die afgelope drie jaar begin deelneem aan kompetisies.

Deelneem
Volgens die ou skaapherders kan ’n hond aan kompetisies begin deelneem as hy ’n jaar onder elke voet het, maar die honde se afrigter kan eers na 10 jaar van opleiding begin deelneem aan kompetisies.


Shelby is ’n drie-jaar-oue drie-kleur skaaphond
Foto’s: Tania Quarmby

Tania sê dat dit debatteerbaar is op watter ouderdom honde moet begin leer. Sy begin haar honde op ongeveer ’n jaar-ouderdom leer as die skape nie meer vir die hond kan weghardloop nie. Tog is daar mense wat hul honde reeds op ses maande op ’n kleiner skaal begin leer. Kompetisies begin met ’n kleuterskoolafdeling waarna honde aanbeweeg na beginners-, seniors- en ‘Top Dog’-afdelings.

Tania se ses-jaar oue Roxy is in die seniorsafdeling en haar drie-jaar oue Shelby is in die beginnersafdeling. Oor die afgelope drie jaar het Tania vir baie kompetisies ingeskryf. Einde Februarie het Shelby ’n eerste plek behaal by ’n klubkampioenskap en Roxy ’n tweede plek. By die Mooirivier kampioenskappe oor die naweek van 13 en 14 Maart het Roxy derde en sesde gekom in die seniorsafdeling en Shelby vierde en tweede in die juniorsafdeling, wat haar nou laat kwalifiseer vir die seniors.


Tania en haar honde oefen met die skape op Boschkop

Kleur
Shelby is ’n drie-kleur skaaphond van ’n skaapboer en –teler in Leandra. Roxy is ’n donker (“sable-coloured”) skaaphond, wat baie ongewoon is. Alhoewel honde van verskillende kleure deelneem aan die kompetisies, is die meeste van hulle swart-en-wit of drie-kleurig. Tania sê dat die skaapherders korter-haar honde verkies, omdat hulle hare nie so baie klitsgrasse en knapsekêrels optel nie. Sy sê dat die telers nie vir voorkoms teel nie, maar vir werkvermoë, so die honde se voorkoms verskil nogal baie.

Tania se 13-jaar-oue hond, Nibble, neem nie deel aan kompetisies nie, maar dit is geensins omdat sy nie meer op-en-wakker is nie. Nibble kom uit ’n goeie bloedlyn, so haar instink om skape aan te jaag is goed, maar blykbaar nie goed genoeg nie. Sy verkies om rondom die skape te hardloop (“casting”) en hul na Tania toe aan te jaag.

Tania se heel eerste hond, Nikki, was Nibble se ma. Dit was Nikki wat destyds saam met Tania by Farm Inn begin oefen het. Oor die jare het Nikki 11 klein hondjies gekry en Tania het twee van hulle gehou, Nibble en Cayley. Die arme Cayley is egter vergiftig met Temic (“twostep”) en is in Tania se arms dood by die veearts.


Die ses-jaar-oue Roxy keer skape aan op Boschkop

Kompetisies
Alhoewel Cayley ’n goeie skaaphond was, het Tania eers aan kompetisies begin deelneem toe sy vir Roxy gekry het. Landswye kompetisies word gehou deur die SA Skaaphond Vereniging. Dié vereniging is in 1961 gestig toe ’n klomp skaapboere in die Karoo bymekaar gekom het om die toekoms van die skaaphond in Suid-Afrika te bespreek.

Die stigtingsvergadering, met 13 mense teenwoordig, is by die Union Hoërskool in Graaff Reinet gehou en Bun Kingwill is gekies as die eerste president. Die eerste kampioenskap is in 1961 gehou en die eerste SA kampioen was Billy Kingwill se Tess. Oor die jare is die kampioenskapsbane opgegradeer en vandag is ons land se bane presies dieselfde as dié in die Verenigde Koninkryk. Die vereniging se hoofdoel is egter om boere bewus te maak van die skaaphond as werker. Dit word gedoen deur demonstrasies, kursusse en kompetisies.

Die naaste kompetisie aan die Bronberg-wêreld is die een wat op Saterdag 1 Mei en Sondag 2 Mei van 8 vm tot 4.30 nm in Muldersdrif, Beyers Naudeweg-verlenging, gehou word.

Herkoms
Die skaaphond kry sy Engelse naam, “border collie”, omdat hy sy oorsprong op die Skots-Engelse en Wallies-Engelse grense gehad het. Die naam “collie” of “colley” duik die eerste keer aan die einde van die 19de eeu op. Die meeste goed-geteelde skaaphonde se herkoms kan terug getrek word na ’n hond bekend as Old Hemp.

Old Hemp, ’n drie-kleur skaaphond, is in September 1893 gebore en is oorlede in Mei 1901. Hy is geteel deur Adam Telfer uit Roy, ’n swart en bruin hond, en Meg, ’n swart hond “met ’n sterk oog”. Old Hemp was ’n stil, kragtige hond en skape het gou op hom reageer. Baie herders het hom gebruik om mee te teel en Old Hemp se werkstyl het later die tipiese skaaphondstyl geword.


Roxy bring ’n skaap huis toe in ’n afgebrande veld op Boschkop

Redding
Omdat skaaphonde hoë vlakke van energie en intelligensie het, raak hul maklik gefrustreerd in stede en beland al hoe meer van hulle by reddingsentrums. Border Collie Rescue is ’n nie-winsgewende maatskappy wat in 1997 in Gauteng gestig is. Vandag kry ongeveer 400 skaaphonde ’n jaar deur dié instansie nuwe huise. Volgens Border Collie Rescue eindig die honde by hulle op omdat hulle geneig is om karre te jaag, en om kinders en troeteldiere soos skape op ’n knop te jaag.

Vir meer inligting oor Border Collie Rescue, kontak Irene Thompson by 082-412-9969, Julie Morris by 082-887-9668 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . en vir Karen Grey by 011-452-7769 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .. Vir meer inligting oor die SA Skaaphond Vereniging, kontak Martie Ferreira, die vereniging se nasionale sekretaris, by 017-735-1844 of stuur ’n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ..

Vir meer inligting oor die Muldersdrif kampioenskap op 1 en 2 Mei, bel vir Elsie by 082-441-9646 of Chantal by 082-454-2250 of stuur ’n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ..


Roxy op soek na die skape by ’n kompetisie

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online