|
Oor die afgelope 24 jaar het die Bronnie se trots landelike gebied toenemende verstedeliking ervaar. Landgoed-ontwikkelings is gevestig en het aanhou uitbrei. Benewens die groot aantal residensiële ontwikkelings in die hoewegebied, vorder bouwerk aan ’n ‘slim stad’ met 50 000 deeltitel woonstelle, wat die aansig en aard van die gebied radikaal sal verander.
Lees op bl 8 oor die nuwe K147 Zwavelpoortpad, ’n 2 km dubbelbaan verbinding tussen Garstfonteinweg-verlenging en Atterburyweg wat deur Balwin Properties gebou is ter ondersteuning van die Mooikloof Slim Stad.
Die stigter en hoof uitvoerende beampte van Balwin Properties, Steve Brookes, het gesê dat die projek ’n beduidende mylpaal vir die gebied se openbare vervoernetwerk is en deel vorm van ’n breër infrastruktuurraamwerk wat toekomstige ontwikkeling in die Mooikloof-gebied sal ondersteun.
Hopelik sal daar oor die volgende 24 jaar nog ongerepte natuurskoon op die Bronberg self kan oorbly. Hier by die Bronnie is die voorneme onder meer om by te dra tot die beskerming van ons kontrei se diverse en mooi, dog toenemend bedreigde, omgewing en natuurlewe. Dikwels is bewusmaking die eerste stap in so ’n proses en daarom is ons dankbaar vir die kennis oor indringerplante wat drie vroue maandeliks aan Bronnie-lesers oordra.
Dankie Louise Kritzinger van die Vriende van Faerie Glen-natuurreservaat, Henriëtte Kieser van die Bronberg-bewarea en Petro Lemmer, ’n plantkundige van formaat. Dié drie werk maandeliks saam aan die rubriek oor uitheemse indringerplante, wat hierdie maand op bl 18 verskyn.
’n Plant word as ’n indringerplant geklassifiseer as dit deur mense in ’n gebied, waar dit nie voorheen natuurlik voorgekom het nie, toegevoeg is. Dit beteken dat die plant se natuurlike vyande nie teenwoordig is nie en dat hulle ’n gebied maklik kan oorneem, ten koste van inheemse spesies en die ekostelsel.
Mag die Bronnie aanhou bydra om ’n voortdurende, positiewe verskil te maak en om ander omgee-mense by die behoud, bewaring en verantwoordelike verbetering van ons kontrei te betrek.
|