?n Heel bevredigende ketting-ontbyt PDF Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 26 March 2010 14:57
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

Ek is nie baie partydig vir groot kettinggroeprestaurante nie, daarom was dit heel per ongeluk dat ons een mooi Sondag by Silver Oaks se Dros vir brekfis loop aansit het.

Die plek waarvoor ons by dié sentrum gemik het, het toegemaak – nog een. Die toegemaakte plek is vlak by die Dros en met die tyd ’n faktor, skuif ons toe maar daar in. Die Dros by Silver Oaks is ’n hengse groot plek. In die rokersafdeling alleen kan jy ’n paar skaflike restaurante inpas en in die rooklose deel ’n paar van die einste rokersafdelings, sou jy wou. Dan spog dié Dros met ’n reusagtige omvou-stoep en ’n kuierplek vir kleingoed. Ek het laas op ou Blink Gert Mossie se dogter se troue só baie kelners op een kol bymekaar gesien. Maar dis betreklik vroeg en betreklik stil en die kelners staan in pelotonne bymekaar en gesels.


Silver Oaks se Dros is ?n hengse groot plek

Ons neem plaas in die rokersafdeling wat as sy dekortema, ’n wynkelder het. Dis wyd en oop en netjies en skoon. Die enigste besoedeling word deur die te luide ‘musiek’ oor die luidsprekers veroorsaak. Dis van die ‘rap’ soort geraas en ek vermoed dit val in die smaak van die skare kelners wat op klante wag. Dit tel vir my punte dat die musiek ná ’n enkele versoekie aan ons persoonlike kelner, verander is en sagter gedraai is. Persoonlike kelner bring vir ons die ontbytspyskaart en knap daarna ’n heerlike koffietjie. ’n Span motorfietsers kom aan vir die brêkvis deel van hulle ‘brêkvis run’ en ’n groepie van die kelnerskare word ontplooi.

Die spyskaart is verstommend basies vir só ’n groot plek. Gebou om die ruggraat van spek-en-eiers, is dit Ingelse ontbyt met ’n keuse van sewe variasies met byvoegings van verskillende aard en omvang. Die tradisionele Dros ontbyt kos R49.95 en jy kry 150 g rump of sirloin, tjips, braaitamatie en sampioene saam met die spek en eiers. Jy kry roosterbrood en gratis koffie saam met al die keuses. Die ‘Farmhouse’ het twee varkworsies pleks van die rump en kos R44.95. Die ‘Executive’ het boerewors en die ‘Mega’ het ’n burger-patty en kos ook R49.95.

Die ontbyt wat hulle ‘John Wayne’ noem, is die een waarop ek besluit. Jy kry maalvleis en ‘baked beans’ daarmee saam en dit kos R44.95. Ek het lekker gesmul aan my John Wayne en kan die maalvleis aanbeveel. Die graad van die vleisie is goed en dit is geurig voorberei. Die bakeiers was perfek volgens my versoek gedoen en die spek ook. Dis ’n stewige ontbyt en ek proe net aan een of twee van die skyfies – heel skaflik.


?n Vullende omelet en smaaklike John Wayne ontbyt

Metgesel kies ’n omelet. Die basiese Dros omelet het ’n kaas en tamatie binnewerke en kos R24.95. Dan kan jy ’n verskeidenheid bykomstighede soos ham, bief, hoender, calamari, mossels, pepadew, avo, feta of shrimps (steurgarnale) teen R6.50 per porsie daarby laat inwerk. Metgesel kies die ‘shrimp’ en sy dink later sy is al te oulik om dié kombinasie te gekies het. Smaaklik en baie vullend, sê sy.

Vir die gesondheidsbewustes is daar ook ’n muesli, vrugte, jogurt en heuning gedoente teen R29.95. Ons het lekker gebrekvis by Silver Oaks se Dros. Die atmosfeer en diens was goed en die ontbyt baie bevredigend.

 

 

 

© 2019 Die/The Bronberger