Bejaardes brei om ander te help Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 19 June 2026 12:00
Untitled Document

Om doel en betekenis in die lewe te ervaar is iets wat ’n groep bejaardes uitleef deur ’n projek waar hulle talente en energie gebruik word om ander te help. ’n Brei- en hekelwerk groep, gelei deur Bronberg-aftreeoord se sosiale komitee en die Rotariërs se Pretoria Oos-tak, se handewerk is in Mei uitgestal.

Daar kon ’n mens kyk na die babaklere, musse en serpe vir kinderhuise, warm wolkouse en komberse vir kinders wat chemoterapie ondergaan en kniekombersies vir ouer mense.


Lede van Bronberg-aftreeoord se sosiale komitee en die Rotariërs se Pretoria Oos-tak
by die handgemaakte items
Foto: Verskaf

Die projek het nege jaar gelede ontstaan toe die Rotariërs befondsing vir gemeenskapsdiens beskikbaar gemaak het. Bykomende hulp het gekom toe Rotariërs Internasionaal se Distrik 9400 finansiële komitee begin help het om wol vir dié groeiende projek aan te koop.

Vandag is 70 vroue en een man by dié projek betrokke en Bronberg-aftreeoord hou elke tweede Saterdag van die maand ’n ete waar die groep se werk uitgestal word voor dit aan instansies in nood geskenk word.

 

© 2025 Die/The Bronberger