Waar dongas voertuie insluk Print E-mail
News - Rubrieke
Wednesday, 20 February 2008 02:00

Alphia Schutte

Met my oggend wandelings by die hek uit, af verby die bure wat nie hul huis bewoon nie, hoor ek die geraas. ’n Groot trok kom die steilte af. Ek staan stom geslaan. Dis net dongas en gate en uitgedroogde modderslote.

Ek en die honde kan nie glo dat iemand dit hier waag met ’n voertuig nie. Voor in die kajuit sit vier persone en hulle hop oor die steiltes. Hulle stop en vra my waar is die teerpad. Dis nou Garstfonteinweg. Hulle het verdwaal.

Vorentoe sou dit net ’n halwe kilometer wees tot by Garstfonteinweg, maar in Tiegerpoort vereis dit’n ompad. Ek beduie dat hulle links moet draai by die volgende pad en dan oor ’n kruising reguit aan met’n baie slegte pad en weer regs by die nuut geteerde pad wat, soos my kinders sê, tot by Tierpoort Mall gaan of bekend as Moolman.

Dis nou die beroemde geteerde pad wat meer padtekens het as wat daar glo in die hele Afrika is. As die vragmotor egter weer verdwaal en links draai by die teerpad, sou hy nooit sy bestemming bereik nie. Links is die afgrond met die dongas.

In 2000, met ons intrek hier, was die afgrond met sy dongas ’n plesierige rit werd. Die teer was mooi en van gate in die pad was daar nie sprake nie. Dit was opwindend om vinnig met die afdraande te ry, net om deur die duik te wip en jou maag te laat draai en weer jonk en vol adrenalien te voel. Nou is die pad so gedaan dat ek die ander dag ’n angsaanval gekry het toe ek iemand naby Nkwe wou gaan aflaai.

Die slegte pad help darem af en toe. Die anderdag is William by ons hek ge-highjack. Hulle het hom saam met die afleweringsvragmotor weggery. Alhoewel hulle al die geld geneem het, so R1 000 kontant, kon hulle nie by die slegte pad teen die bult uit kom nie en het die afleweringstrok en William net daar gelos. Natuurlik sonder die sleutel.

Die mense wat naby die dongapad bly kla gereeld en sê hulle drade aan die linkerkant van die pad word altyd plat gery as die vragmotors nie die bult kan uit nie. Dis nou die vriende wat elke aand die twee donkies, een wie se naam Niggie is, met ’n sny brood voer, anders gaan slaap die donkies nie.

Ek het ook al ’n vragmotor met hondehokke sien staan teen die bult waar hulle besig is om hulle hele vrag af te pak omdat hulle nie die skuinste kan uit nie. Ek weet nog steeds nie hoekom net die helfte van die pad geteer is nie. En ek weet nog steeds nie hoekom ons so gelate die dongas laat groter word nie. Die mense om Nkwe aanvaar maar gelate dat hulle nie Garstfonteinweg kan gebruik om Woodlands toe te ry nie.

Ek skaam my vir myself dat ek nog nie met ’n plakkaat in my handêrens gaan staan en skree het totdat die hele pad reg is nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger