|
Sedert die Bronnie se geboorte, nou bykans 24 jaar gelede, was dit gou duidelik dat die gemeenskap in ons bedieningsgebied Die Bronberger as hulle eie aangegryp het.
Lesers het gou vriende geword en vriende praat mos met mekaar. Die hoeveelheid lesersbriewe wat ons ontvang is ongekend vir ’n gemeenskapspublikasie. Briewe met kritiek en briewe met komplimente, briewe vol griewe en briewe wat dankie sê, briewe met inligting of navrae, met raad en raat, vol humor of bitterheid – almal is welkom en word waardeer.
Ons kry baie navrae oor die omvattende wie, wat en waar van die groter Bronberg-gebied. Ons beskou dit as ’n kompliment dat lesers dink ons weet alles van alles in ons gebied af, al staan ons soms verstom daaroor.
Meelewing word met WhatsApps, telefoonoproepe, e-pos-boodskappe en inskrywings op ons Facebook-blad gewys. Versoeke en navrae uit ons gebied is talryk en soms nogal vreemd, om die minste te sê. In die Bronnie se beginjare was ons letterlik oorval deur oproepe van mense wie se septiese tenks besig was om oor te loop. Het julle ’n adverteerder wat ons nou dadelik kan help?
Ons kry ook ’n aantal onverwagte briewe uit ander wêrelddele. ’n Dekade gelede het ’n man uit Italië geskryf om meer inligting oor sy pa se oorlogstydse internering in Cullinan te bekom. ’n Wapadrander het die maand daarna laat weet dat die man danksy hulp van lesers reggekom het.
’n Vrou uit Amerika het ’n toeka-storie oor haar oupagrootjie op die Bronnie se webtuiste gesien en het lesers gevra om foto’s of feite vir haar te stuur. ’n Vrou uit Frankryk het ’n storie oor haar oupa raakgelees en wou hê ons moes dit vir haar vertaal. ’n Man uit Frankryk het Google-vertaal gebruik om ’n versoek aan ons te rig. Hy het ’n Vrymesselaar-voorskoot afkomstig uit Kaapstad en was seker die Bronnie kan meer inligting daaroor gee. Dié is maar enkele voorbeelde.
Ons kry baie navrae oor artikels en advertensies wat in vorige Bronbergers verskyn het – soms ’n hele aantal jare gelede. Dis een ding wat ons geleer het: as iemand sê iets was seker so jaar gelede in die Bronnie, is dit gewoonlik twee tot vyf jaar terug. Lesers onthou! En dít is seker die enkel bevredigendste aspek wat met die uitgee van Die Bronberger saamloop.
As die trefkrag van ’n publikasie aan die meelewing van sy lesers gemeet kan word, en oor die algemeen kan dit wel, dan tref onse Bronnie maand na maand in die kol. |