’n Weduwee, ’n ivoorhandelaar en die storie van Pretoria se oudste huis Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 15 May 2026 10:00
Untitled Document

Angie Kleijn

‘n Onopgeloste raaisel is die fokus van hierdie maand se toeka-storie. Dit is die verhaal van ‘n weduwee wie se eksekuteurs geweier het dat sy weer trou; ‘n storie wat ‘n draai maak by grootwildjagters, skatryk ivoorhandelaars en dit wat eens die oudste woonhuis in Pretoria was, ‘n huis wat glo ‘n heining van olifanttande gehad het, of so lui die oorvertellings.

In Rosa Swanepoel se ‘Ou Pretoria-nuusbrief’ van Januarie 2006 word daar na ‘n advertensie in die Staatskoerant van 25 April 1865 verwys. Almal wat geld skuld, of aan wie geld geskuld word deur die boedel van Casimira Simoens word versoek om hulle rekeninge te vereffen. Dit is deur João Albasini, vise-konsul van Portugal, en Bras Piedade Pereira namens Maria Louisa Simoens onderteken. 


Die Bras Pereira-huis, wat in 1865 gebou is, was eens die oudste huis in Pretoria
Bron: Pretoriana 047, 1965-1

In die Staatskoerant van 8 Mei 1866 staan daar dat Maria Louisa Schuurman, weduwee van wyle Casimiro Simoens, kennis gee dat alle volmag deur haar verleen aan die Heer Bras Piedade Pereira herroep word. Sy het PJ Marais en G Steyn aangestel om die boedel te behartig.

In die Staatskoerant van 25 Mei 1866 verskyn Goewermentskennisgewing no 47 wat verklaar dat die Goewerment van die Zuid-Afrikaansche Republiek slegs J Albasini en BP Pereira as verteenwoordigers van die erfgename van Casimiro Simoens erken.

Op 29 Mei 1866 verskyn daar weer ‘n Goewermentskennisgewing in die Staatskoerant wat lui: Aan alle landdroste in die republiek word bekend gemaak dat ‘n wettige protes ingestuur is teen die huwelik van die weduwee van Casimiro Simoens, gebore Schuurman.


Sloping van die Bras Pereira-huis
Bron: Pretoriana, 047, 1965-1

Wanneer die weduwee aansoek doen om ‘n huwelik te sluit, hetsy spesiaal, of met gebooie, met wie ook al, moet dit ten strengste geweier word. Geteken deur MJ Viljoen, waarnemende president, en H van der Linde, goewerment-sekretaris.

In dieselfde koerant herroep João Albasini alle volmagte wat aan Bras Piedade Pereira verleen is rakende die likwidasie van die boedel van wyle Casimir Simoens. Geteken Gert Steyn, agent vir die weduwee.

Die saak is glo geskik en in die Staatskoerant van 31 Julie 1866 verskyn Goewerments-kennisgewing 80: Protes van die Heer BP Pereira teen die huwelik van weduwee C Simoens word herroep.  Geteken MW Pretorius, president, en H van der Linde.


Die materiaal van die huis is aanvanklik bewaar
Bron: Pretoriana, 047, 1965-1; TE Andrews

Schoemansdal
Wyle Casimir Simoens was ‘n Goanees vanaf Goa, ‘n staat in westelike Indië bekend vir sy Indies-Portugese gemeenskap. Hy is op die destydse Schoemansdal, waar João Albasini en Bras Piedade Pereira ook bedrywig was, begrawe. Bras was sy klerk, skryf OJO Ferrezra in ‘Schoemansdal: Van Voortrekkervoorpos tot Volksfeesterrein’.

Schoemansdal, aanvanklik as Zoutpansbergdorp bekend, was ‘n nedersetting (16 km wes van Louis Trichardt) wat in die tyd van die Groot Trek ontstaan het. ‘n Kerk en fort is gebou en benewens die eertydse Voortrekkers, het inwoners van Schoemansdal van alle uithoeke van die wêreld gekom. Daar was Skotte, Iere, Engelse en baie Portugese handelaars, wat gesiene lede van die Boeregemeenskap geword het danksy hulle huwelike met Boeredogters.


Die Bras Pereira-huis met sy voorkant na Skinnerstraat
Foto: TE Andrews

Elke jaar in September en Oktober het olifantjagters hulle jagbuit op die dorp se markplein ten toon gestel en ivoorsmouse het teen mekaar gebie. Volgens J Fleetwoord Churchill het hy meer ivoor op Schoemansdal bymekaar gesien as op enige ander plek. Hy het geskryf dat daar in 1856 omtrent
1 000 olifante in die Soutpansberg geskiet is.

João Albasini was self ‘n grootwildjagter en ivoorhandelaar en het uitgewerk dat daar jaarliks tussen 70 000 en 80 000 olifantstande ter waarde van £120 000 na Natal en die Kaapkolonie uitgevoer is, plus nog ‘n hoeveelheid na Mosambiek. Omtrent 10 300 kg kruit en ongeveer1 800 kg lood is jaarliks gebruik.


Die binnekant van die huis met sloping
Foto: TE Andrews

Met die loop van tyd het die dorp van 1 800 inwoners die versamelplek van bandelose ivoorjagters geword en wapensmokkelary was algemeen. Ná slegs 30 jaar was Schoemansdal verlate weens aanvalle deur Venda-krygers.

Bras Piedade Pereira het in 1866 ‘n dranklisensie op Schoemansdal gekry en dieselfde jaar het hy ‘n lisensie as rondgaande handelaar in Pretoria gekry. In 1873 het Bras ‘n lisensie as inwonende handelaar met ‘n winkel in Pretoria gekry.


Al wat van die huis oorgebly het voor die bakstene weggery moes word
Bron: Pretoriana, 048, Aug 1965

Winkel
Dié winkel was op die westelike helfte van erf 382 (411) op Kerkplein. HS Pretorius het erf 411 op 10 Junie 1873 vir £35 aan William Leathern verkoop. Op dieselfde dag het William dit vir £160 aan Jacobus Abraham de Villiers verkoop. Op 7 Augustus 1873 het Jacobus dit vir £300 aan Bras verkoop (Tr. Akte No 1877/323).

Bras het die winkel vanaf 1875 aan die Zeiler-broers verhuur en hulle het £47 en 10 sjielings vir drie maande se huur betaal. Hy het die erf op 17 April 1877 vir £300 aan Woodbine Cloete verkoop. Robert Cottle Green het die erf op 16 Maart 1878 vir £550 gekoop. Robert was die eienaar van die plaas Hatherley aan die Pienaarsrivier, waar De Eerste Fabrieken, die republiek se eerste wettige brandewynstokery, opgerig is.

Robert het ‘n dubbelverdiepinggebou, ‘De Rode Huis’, op erf 411 opgerig. Dié gebou het later die hoofkwartier vir Carsons Red Starline Express Co se passasierkoetsdiens na Kimberley geword.


Die eerste Goewermentsgebou, links, met die European Hotel langs dit en ‘De Rode Huis’ op erf 411 agter die hotel
Bron: Skets deur Ida Mae Stone, 15 Maart 1888

Woonhuis
Benewens die winkel op erf 411, het Bras in 1865 reeds ‘n woonhuis op die noord-oostelike hoek van Skinner en Markstraat (Paul Krugerstraat) gebou. CJ Beanes het geskryf dat Bras se seun, PFR Pereira, wat glo ‘n kluisenaar was, vertel het dat sy pa aanvanklik ‘n heining van olifanttande rondom die eiendom opgerig het.


Militêre parade in 1877. Die ou Goewermentsgebou, links, en die European Hotel langs dit met ‘De Rode Huis’, die dubbelverdiepinggebou op erf 411, oor die hotel se dak sigbaar
Bron: Rosa Swanepoel-versameling

‘n Foto van een van Pretoria se eerste inwonende fotograwe, Henri Ferdinand Gros, wys die noord-oostelike hoek van Skinner en Markstraat, wat glo as Bras Piedade Pereira-hoek bekendgestaan het. ‘n Watersloot en deel van die huis se muur word regs op die foto gesien. Daar is egter geen teken van olifanttande nie. Bras se huis is Fountain Lodge gedoop, weens die fontein wat op sy erf ontspring het.


‘De Rode Huis’ op erf 411 (heel links op die foto), hoofkwartier van Carsons Red Starline Express Co se passasierkoetsdiens na Kimberley; voor 1889
Bron: Rosa Swanepoel-versameling

Voor Bras se woonhuis gesloop is, was dit vir ‘n lang tyd die oudste huis in Pretoria en die Genootskap Oud-Pretoria het vir baie jare lank probeer om dié huis te bewaar. In ‘Pretoriana’ van Julie 1953 het dr Willem Punt, die genootskap se voorsitter, geskryf dat Bras se erf te koop is en dat die laaste voorbeeld van Pretoria se eerste huise vir ewig sal verdwyn as die genootskap nie daadwerklike pogings aanwend om die huis te red nie.


Dié foto van ongeveer 1880 wys ‘Het Rode Huis’ op erf 411 heel links
Bron: Rosa Swanepoel-versameling

Herbou
Bras se erf het uiteindelik aan die munisipaliteit behoort en die laaste private eienaar, mev
MJ Heydenrych, het die woonhuis aan die Genootskap Oud-Pretoria geskenk. Die huis moes gesloop word, maar die genootskap wou dit by ‘n opelug-museum herbou. Hulle het ‘n plan van die huis deur Norman Eaton laat optrek en die bakstene, hout en ander materiaal is gestoor om in die heroprigting te gebruik.

Die genootskap het stadsraadslid Leo Besaans genader om te help om Fountain Lodge ná sloping te laat herbou en hulle het die munisipale grond by Fonteinedal, waar Lucas Cornelius Bronkhorst se eerste hartbeeshuisie was, voorgestel. Later was daar ‘n plan om ‘n opelug-museum naby die Voortrekkermonument te stig.


‘n Tipiese vroeë Zoutpansberg-toneel met ivoor
Bron: Zoutnet

Die genootskap het die boumateriaal, wat op ‘n nabygeleë perseel gestoor is, aan die opelug-museum se raad aangebied, maar die aanbod is afgekeur en die genootskap het gehoor dat die materiaal binne ‘n week verwyder moes word om plek te maak vir ‘n nuwe wetenskap-museum wat daar gebou sou word. Die stadsraad het geen verdere steun aan die projek oorweeg nie en die boumateriaal is vernietig.

Selfs die meubels het later jare soek geraak. In 1962 het die genootskap berig dat meubels uit die Bras Pereira-huis in die Transvaalse museum se stoorkamer gebêre is. Op ‘n bestuursvergadering van die genootskap op 14 November 1977 is ‘n lys van dié meubels, opgestel deur dr Davey, ter tafel gelê.


Henri Ferdinand Gros se foto van Bras Piedade Pereira-hoek met Fountain Lodge regs
Bron: Carol Hardijzer

Op die bestuursvergadering van 6 Februarie 1978 het ‘n mnr Oberholster berig dat die Transvaalse museum geen rekord van die meubelstukke gehad nie en daar is besluit om navraag by die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum doen.

Uiteindelik, op die bestuursvergadering van 11 September 1978, is daar berig dat ‘n klavier en tafel, wat nie herstel kon word nie, gevind is. Op die vergadering van 3 Oktober 1978 is berig dat die Bras Pereira-stoel opgespoor is en ‘n mnr Lombard is gevra om die stoel te restoureer.


Skildery van Pretoria in 1856 deur Marianne Churchill
Bron: Rosa Swanepoel-versameling

Brand
In 1960, lank voor die meubels ‘verdwyn’ het, was daar ‘n brand by die Bras Pereira-huis en lede van die Genootskap Oud-Pretoria het gehelp blus. Die brandweermanne het die huis se ou rietdak verwyder en tussen ‘n laag modder, as, slym, nat tydskrifte en fragmente van boeke is ‘n belangrike reeks rekords gevind.


João Albasini
Bron: Wikipedia

Rosa Swanepoel se nuusbrief dui aan dat joernale en grootboeke van Bras se onderneming, van 1867 en 1880, gevind is en dat dit dag-tot-dag transaksies met die Pretoriase gemeenskap en klante vanaf die Soutpansberg ingesluit het. ‘n Briefboek is ook gevind wat kopieë van briewe wat in Schoemansdal geskryf is, bevat het. Een van die boeke was Bras se rekords vir wanneer iemand “op die boek koop”. So het Hendrik Schoeman in April 1870 “8½ ell tafeta en 3 ell molvel” vir £1 1/6 gekoop saam met “6 reel cotton en 1 lb. Sugar” vir 4 sjielings. Daar was ook ‘n rekening vir die Goewerment van die ZA Republiek. Van die inskrywings is 13 Junie 1870: “12 lb. Brass wire per landdrost DP Marais vir £3 en 13 April 1870: 2½ lb. Sugar candy per H Jeppe vir 12/6”.

‘n Kontrak, gedateer 8 Mei 1866, tussen die weduwee ML Simoens en bou-aannemer William Skinner (wat saam met die Devereux-broers die eerste kerk op Kerkplein gebou het) vir die bou van ‘n huis vir £300, is tussen die papiere gevind. Daar is ‘n beskrywing en getekende plan van die huis, maar net ‘n oop ruimte waar die erfnommer en straatnaam ingevul moes word. Was dit die huis wat sy vir haar nuwe man wou bou in die huwelik wat Bras en João Albasini ten alle koste wou keer?

 

© 2025 Die/The Bronberger