|
Dit is herfs in Bronberg-wêreld en soos ‘n lesersbrief hier neffens lui, is dit die seisoen waarin mense op velerlei maniere – en soms maniere wat hulle bure tot waansin dryf – van blare ontslae wil raak.
Dit is een van die klein jakkalsies in ons midde wat die bloed borrelend aan die kook kry; jakkalsies wat die vredeswingerd en die gemoedelike samesyn in ‘n gemeenskap wreedaardig kan verniel. Die vreemdste ding van dié jakkalsies is dat hulle vastrapplek kry en lekker baljaar as eenvoudige ‘bedagsaamheid’ in ‘n gemeenskap ontbreek.
Dit is nie bedagsaam teenoor moeder aarde, die atmosfeer, die osoonlaag of jou bure om dié tyd van die jaar die droë blare en gras in jou erf bymekaar te hark en dit dan onder die dekmantel van die donker skelm aan die brand te steek nie.
Jou onbedagsame aksie is onwettig, ontneem die grond van waardevolle voedingstof, besoedel die lug, vergroot die gat in die osoonlaag, dra by tot aardverwarming en hou jou proesende, stikkende, vloekende buurman/vrou snags wakker. En dit is ‘n brandgevaar in die hoewegebied.
Dit is moeilik om nou, met die goeie reën wat hierdie herfs in ons kontrei val, aan veldbrande te dink, maar soos elke jaar sal duisende hektaar se veld in ons gebied waarskynlik ook vanjaar deur vlamme verslind word. Skaars en bedreigde dier- en voëlsoorte sal in die slag bly. Onherstelbare skade sal aan eiendom en die natuur gedoen word. Sigbelemmerende rook sal in alle waarskynlikheid weer vir ongelukke op ons paaie sorg.
Behalwe die ywerige tuiniers wat blare verbrand, wie en wat veroorsaak die voortdurende veldbrande? Daar is natuurlik die vlakkoppige vermaaksoeker wat die skouspel van ‘n veldbrand geniet: Hy beweeg in die gebied rond en soek lekker droë, lang grasveld om aan die brand te steek.
Tog word baie brande, soms met die beste bedoelings ter wêreld, deur amateurs veroorsaak. Die ou besluit om sonder toestemming en sonder kennis paraat te wees en self voorbrand te maak. Hy wag gewoonlik tot die wind lekker sterk waai, salig onbewus van brandverbod-tye, en pak die voorbrand aan gewapen met net ‘n takkie of ‘n sakkie om wegholvlamme te beveg.
Vir riglyne oor brandvoorkoming en -bestryding kan mense by die Welbekend-brandbestrydingsvereniging aanklop. Hulle dek gebiede soos Witpoort, Knoppiesfontein, Rietfontein 21IR, Ystervarkfontein, Dorstfontein, Boschkop 543JR, Kleinzonderhout, Kameelzynkraal, Klipkop, Bashewa, Tierpoort, Rietfontein 395JR, Grootfontein, Rietvlei View, Klipkop, Rietfontein-bewarea, Bapsfontein, Nestpark, Zwavelpoort, Tiegerpoort, Boschkop 369JR, Tweedracht, Mooiplaats, Kleinfontein, Rhinopark en Donkerhoek.
Vir meer inligting, besoek wfpa.co.za. ‘n Aansoekvorm om lidmaatskap kan daar afgelaai word.
|