Dis toe hy so sit en kyk hoe
die ou werfmakou langsaam
aangewaggel kom,
dat die blink plan hom tref, sê Gert
Mossie. Nou, sê Gert, het hy mos
vreeslik moeite en moeilikheid elke
maand as hy sy kwota vryloop-hoenders
vir die mark moet vang. Die
goed is nie partydig vir gevang word
nie en praat van vinnig!
Toe dink hy nou só, sê Gert Mossie.
As hy nou ’n vryloop-hoender met ’n
makou kan kruis, dan gaan hy mos
’n lekker stadige, vetlyfgedoente
kry. Dan vang hy elke maand in ’n
japtrap sy kwota vir die mark en hy
wen rante en sente op die gewig. En
hy noem die goed ‘makoenners’.
Dan noem jy sommer ’n makoennerhaan
’n makaan met sy ma-ken en
haar makuikens, vir kort.
Dink net, sê Gert Mossie, as hy nou
daardie makoenner met ’n kalkoen
kan kruis, hoe laat daai makoennerkoenne
dan die rante inrol. Of moet
hy dit dalk makalkoenners noem?
Slim Kind!
Ou Willie, ’n onderwyser, stuur ’n
aantal interessanthede wat uit
‘leerders’ se vraestelle en opstelle
kom. Nou wonder ek of dit nog reg
is om van ‘onderwyser’ te praat.
Moet dit nie dalk nou ‘leerer’ wees
nie? Soos in: Die leerer leer die
leerders? Maar ek gaan net enkele
van ou Willie se leerders se antwoorde
met julle deel:
Afrikaans Graad 8:
Maak ’n sin met “ter aarde bestel” -
Wie op ter aarde bestel so ’n groot
koek?
Wiskunde Graad 9:
Gee die formule om die oppervlakte
van ’n sirkel te bepaal - Paai straal
kordaat.
Geskiedenis Graad 11:
In watter jaar het Suid-Afrika ’n unie
geword? - Ek weet nie, meneer.
Maar ’n geseënde Kersfees en ’n
voorspoedige Nuwejaar vir meneer
en meneer se gesin.
Bybelkunde Graad 8:
Waar het die koning van Israel twee
afgodsbeelde laat oprig? - In
Jerusalem en Gauteng.
Vergelykings wat in opstelle
gebruik is
- Sy gedagtes het in sy kop rondgetuimel
en verwantskappe gesmee
en gebreek soos onderbroeke in
’n tuimeldroër.
- Dit was ’n werkersklas- tradisie,
soos pa’s wat hul kinders met
elektriese bore rondjaag.
- Hy is so maer soos ’n vark op ’n
grondhervormingsplaas.
- Hy was so lank soos ’n twee
meter lange boom.
Die bootjie het saggies oor die
dam gedryf presies soos ’n rolbal
nie sou nie.
- Hy het diep uit sy keel gelag - soos
daardie geluid wat ’n hond maak
net voor hy opgooi.
- Die son het uit die see opgerys
soos ’n gloeilamp uit ’n bad water.
En nog ’n paar oorspronklikhede
- Die koekoek is ’n voël wat nie sy
eie eiers lê nie.
- Parallelle lyne ontmoet mekaar
nooit nie, tensy jy een of altwee
van hulle buig.
- Vegatiewe voortplanting is ’n
proses waarin een individu per
ongeluk ’n ander individu vervaardig.
- Bloed vloei in die een been af en
in die ander been op.
- As jy nie genoeg jodium in jou
bloed het nie, kry jy ’n gletser.
- Raad by verstikking: pas kunsmatige
asemhaling toe totdat die
pasiënt dood is.
- As jy ’n reuklose gas ruik, is dit
waarskynlik koolstofmonoksied.
- Waarom is die seun in die verhaal
gestraf? - Omdat hy sy eie virgin
van die volkslied gesing het.
- Noem die vier seisoene. - Sout,
peper, mosterd en asyn.
- Wat veroorsaak getye in die see?
Die getye is ’n geveg tussen die
aarde en die maan. Al die water
wil na die maan vloei, want daar
nie water op die maan nie. Ek het
nou vergeet waar die son in die
geveg inkom.
|