|
Die jaarlikse Mampoerfees word op 6 Junie by die Willem Prinsloo Landboumuseum op die Ou Bronkhorstspruitpad gehou en besoekers kan uitsien na ‘n dag vol geur, musiek en plaasnostalgie.
Boere-orkeste en kunstenaars soos Joey Lane, Nico J en Luaan gaan vir lekker kuiermusiek sorg. Die legendariese The Staccatos is die groot trekpleister op die middag se program. Motorgeesdriftiges kan uitsien na die Mampoer Rally, saam met ‘n uitstalling van veteraanmotors, trekkers, ou enjins en ander plaasimplemente.
 Die biertuin Foto’s: Verskaf
Die BeetleManiacs nooi almal met ou Vollas en Kombi’s om deel van die uitstalling te wees. Pretoria Karavane en Kampering gaan ook ‘n wye verskeidenheid karavane, boswaens en kamptoerusting uitstal.
Besoekers kan ritte op ossewaens, trekkers, perde, kamele en ponies ervaar. Terwyl jy daar kuier, maak seker jy stap deur die Willem Prinsloo Landboumuseum om te kyk na die ossewaens, perdekarre en plaasimplemente van toeka se dae asook die ou 1800’s-opstal met sy historiese broodbak-oond.
 Ossewaritte
Behalwe mampoer, bied die fees baie ander verrassings vir die fynproewer. Van gerookte vleise, vars brode en konfyt tot ‘n groot verskeidenheid koskraampies, daar is iets vir elke smaak en elke sak. Kuns- en handwerk-liefhebbers kan weer uitsien na talle kraampies met handgemaakte produkte.
 ‘n Verskeidenheid kraampies
Vir die aktiewe klomp is daar ‘n bergfietsroete, draf- en stapgeleenthede en ‘Boer Dra ‘n Vrou’ is ‘n prettige item vir die gesin. Om 11 vm bied SA Diere Kanker hulle gewilde ‘Doggy Hour’ aan. Vat jou woef saam en neem deel.
 Trekkerdemonstrasies
Kaartjies is by howler.co.za beskikbaar en kos R80 vir volwassenes en R40 vir skoolkinders en pensioentrekkers. Voorskoolse kinders en honde gaan gratis in.
Vir meer inligting, skakel 012-492-5808.
|