Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 26 March 2010 16:48
Untitled Document

As jy wil tee maak, maagpyn wil behandel, voëls na jou tuin wil lok, ’n knopkierie wil maak of ’n heining wil plant, is die koeboebessie jou boom. Elke liewe deeltjie van die boom, van sy hout tot sy blare, bas en vrugte, kan gebruik word.

Sy hout is hard en sterk en maak goeie handvatsels vir implemente soos byle, pikke en skoffels. Dit word ook gebruik om houtlepels, vysels en bykans onbreekbare knopkieries te maak.

Selfs die boom se wetenskaplike naam verwys na dié primêre doel. Die koeboebessie, Mystroxylon aethiopicum, se genusnaam is van Griekse oorsprong waar ‘mystro’ lepel beteken en ‘xylon’ hout.

Sy spesienaam, aethiopicum, is ’n Latynse woord wat ‘vanaf Afrika’ beteken en aandui dat hy wydverspreid dwarsoor ons kontinent voorkom. Die koeboebessie behoort aan die Celastraceae familie, wat omtrent 60 spesies in suidelike Afrika het en tel as een van die tien grootste boomfamilies in die streek.


Die koeboebessie
Foto’s: Making the most of indigenous trees

Doepa
’n Verskeidenheid doepas word van dié boom se bas gemaak. ’n Melkerige aftreksel wat van die bas voorberei word, word gebruik om wurms in vee te behandel. Die bas word ook gebruik as medisyne om maagpyn, bloedarmoede en hoesbuie te behandel. En dan kan jy boonop nog leer looi van die bruin kleursel wat deur die bas afgeskei word.

Die bas van jong takke is groen en sagharig, maar donkergrys en grof by ouer takke en stamme. Die Masai-stam gebruik die vars blare om tee te maak en die fyngekapte blare as voëlent.

Die koeboebessie dra trosse geelgroen blomme met ’n sterk geur van Oktober tot Desember. Die vrugte is ’n vlesige, ovaalvormige tot ronde, rooi tot pers steenvrugte wat tot 20 mm in deursnee is. Hulle is eetbaar, maar bitter as hulle nog nie heeltemal ryp is nie.


Vrugte

Lok
Wanneer die koeboebessie oortrek is met vrugte, lok hy voëls soos swartoogtiptolle, groot papegaaie, papegaaiduiwe, bosveldfisante en bloukuifloeries. Die vrugte word ook deur bobbejane, samango-ape, blouape, bosvarke, vlakvarke, gewone duikers, rooiduikers, koedoes en njalas gevreet. Die bas en blare word deur swartrenosters gevreet en die blare deur vee en wild soos blouwildebeeste, koedoes, njalas, rooibokke, gewone en rooiduikers.

Die koeboebessie is ’n immergroen boom, gewoonlik ongeveer ses meter hoog, maar kan 15 m bereik, met ’n ronderige kroon. ’n Groep van dié bome vorm ’n digte heining wat gebruik kan word om stof, wind en geraas te keer. Hy groei ook goed in ’n pot en kan maklik gesnoei word. Sy wortelstelsel is glad nie aggressief nie, hy kan ligte ryp verdra en is droogtebestand.

Groei
Koeboebessies groei van saad. Verwyder enige vrugvlees van die saad en druk in saailingbakke gevul met ’n 1:1 mengsel van riviersand en kompos. Hou vogtig op ’n warm plek. Sade neem twee tot drie weke om te ontkiem, maar ontkieming is wisselvallig.

Plant die saailinge in kwekerysakke oor in ’n 1:2:1 mengsel van riviersand, leem en kompos. Hou hulle ’n maand of twee in ligte skadu en stel hulle daarna geleidelik bloot aan volle son. Jong bome kan na een seisoen in oop grond uitgeplant word en groei 400-500 mm per jaar.

 

 

 

© 2020 Die/The Bronberger