Gemeenskap groet geliefde Gerda Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 17 April 2026 08:00
Untitled Document

Gerda Jansen, weduwee van Anton Jansen, is op 25 Maart in die ouderdom van 84 jaar ná ‘n aggressiewe siekbed oorlede.

Ons het verlede jaar berig dat die bekende bewaarder, geskiedkundige en spesialis restoureerder van geskiedkundige geboue, Anton Jansen, op 12 Mei 2025 op die gesin se Rietfontein-plot, Belofte, oorlede is. Dit was albei se wens om op Belofte begrawe te word en Gerda is op 31 Maart by haar geliefde Anton te ruste gelê.

Anton en Gerda het in 1968 hulle ‘kaart en transport’ gekry van hoewe nege, Rietfontein 375 JR, tien morg groot (vandag 8.5 hektaar) aan Garstfonteinweg. Hulle het dit by ene dr Sachs vir R3 000 gekoop.


Gerda Jansen
Foto: Leandi van der Walt, 2014

Die gesin het in Wonderboom-Suid gewoon en het aanvanklik naweke op die plot gaan uitkamp. “Dit was ’n hele reis, want 25e Straat, Menlopark was die einde van die beskawing.”

“Vandaar het ’n grondpaadjie slingerend verby die Sjinese winkeltjie en die Indiërwinkel geloop, dan deur De Beers-lokasie, oor die Ou Militêre grondpad en verby ‘Eastwood Location’, wat vandag Garsfontein is, en dan verby Wolfaardt se melkplaas (vandag ondermeer Woodlands, Woodhill en The Wilds),” het Anton destyds vertel.

In 1971 het Anton, Gerda en hulle seuns, Magiel, André, Roel en Hannes, permanent op Belofte gaan woon. Hulle het die gewelhuis aan die noordekant van ’n hoogtetjie begin bou terwyl hulle in tydelike strukture gebly het. Die gesin het ingetrek soos elke deel van die huis klaargekom het.


Gerda se begrafnisbrief

Dié gewelhuis was prominent in die skets op Anton en ook Gerda se begrafnisbrief. Hulle seun Roel het die skets geteken, wat Nederland en sy eilande aan die bokant wys en Suid-Afrika onder. Gerda Irene Jansen-Bouwmeester is op 17 Junie 1941 op Oosterbeek gebore.

Anton en Gerda was vir 64 jaar getroud en die oop balkies in die middel van die skets was hulle trou-kenteken. Die hekkie met die nommer 879 staan vir die eerste huis wat die egpaar in 11e Laan 879, Wonderboom-Suid gekoop het.

 

© 2025 Die/The Bronberger