|
Ons het lanklaas ruikers rose uitgedeel aan dié wat dit verdien en ook distels en dorings aan dié wat dit toekom.
Dié maand gaan die Pyndoring-toekenning aan ’n polisielid verbonde aan die Cullinanse Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid van die Suid-Afrikaanse Polisiedienste, wat self vee gesteel het.
Op bl 6 kan jy lees dat Rhulani Herbert Maringa, met 19 jaar diens as polisielid, in Maart in die Bronkhorstspruitse Landdroshof tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is ná sy skuldigbevinding aan veediefstal ter waarde van R80 000. Die voorval dateer uit 2019 toe twee beskuldigdes, wat later staatsgetuies geword het, tien beeste op Rhulani se instruksies by Zonderwater Korrektiewe Dienste gesteel het.
Ons wil graag ’n groot bos rose gee aan al die reaksiespanne wat boewe in ons kontrei help aankeer het. Ook op bl 6 kan jy lees hoe CSI Sekuriteit se spesiale taakspan in samewerking met SAPD blitspatrollie, SAPD Cullinan en SAPD plaaslike misdaadrekordsentrum ’n georganiseerde misdaadsindikaat vasgetrek het. Vier mans is in hegtenis geneem en daar is onder andere beslag gelê op twee mini-substasies met ’n geskatte waarde van R3,5 miljoen.
Nog ’n ruiker rose gaan aan die span van Echo-1 Sekuriteit en gemeenskapreaksie-eenhede wat ’n groot deurbraak gemaak het ná ’n maandlange ondersoek oor huisbrake in die Rayton- en Cullinan-gebied. Lees op bl 8 hoe drie verdagtes in die vroeë oggendure van 5 April op Welbekend in hegtenis geneem is.
Ons weef met genoegdoening ’n troontjie van distels en duwweltjies en nooi alle ouers wat hulle kinders toelaat om sonder toesig met ’n windbuks te skiet, om daarop te gaan sit. Lees op bl 8 hoe ’n Tierpoorter se troetelhoenders die afgelope skoolvakansie onder skoot gekom het.
In Suid-Afrika mag kinders onder die ouderdom van 18 jaar windbukse slegs onder direkte volwasse toesig gebruik. Dit is onwettig om ’n windbuks in ’n openbare of beboude gebied of in voorstedelike tuine af te vuur en om op diere te skiet.
Rose by die dosyne vir almal wat gemoeid is met die beskerming van diere en die bewaring van die mooi omgewing waarin ons woon. ’n Outydse lekkerruik roos aan elke leser en elke adverteerder wat dit vir die Bronnie moontlik maak om deel van hierdie wonderlike omgewing te wees.
|