|
Meer as 300 fietsryers het die Valentynsnaweek van 14 en 15 Februarie aan die ‘Munga Sword Series’ by Laerskool Witpoort deelgeneem. Dit was ’n gemeenskapsbyeenkoms met gesinne wat saam gekamp het en meer as 60 kinders het die Mini Munga-rondtes gery.
 Jan-Josef en Jaco Cromhout Foto’s: Munga
Een van die mees inspirerende stories van die naweek was dié van Jaco Cromhout en sy suster se seun, die tienjarige Jan-Josef, alias Wolfster, wat die jongste fietsryer was om ’n hele 52 km rondte te voltooi.
Jan-Josef het vertel dat die opdraandes en die modder die moeilikste dele was, maar dat hy besluit het om nie op te gee nie. Nie net het hy die grootmens-rondte voltooi nie, Jan-Josef het ook die medalje wat hy so graag wou hê, gekry en het daarna ’n gedig oor sy ondervinding geskryf.
 Jaco en Jan-Josef op die 52 km rondte
In die kategorie vir mans het Hansie Joubert gewen met tien rondtes in 22 ure. Die tweede plek het gegaan aan Nico van der Merwe wat tien rondtes in 22 ure en 25 minute voltooi het en die derde plek aan Jacques Claassens wat nege rondtes in 21 ure gedoen het.
 Jan-Josef met sy medalje
In die kategorie vir vrouens het Machelle Buchel die eerste plek gewen met tien rondtes in 22 ure en 53 minute. Die tweede plek het gegaan aan Martie Joubert met nege rondtes in 23 ure en die derde plek aan Tindall de Brouwer met agt rondtes in 22 ure en 14 minute.
|