Hengelspan op pad na Hongarye Print E-mail
News - Ons Mense
Thursday, 19 March 2026 08:00
Untitled Document

Die Lakes-hengelspan het gekwalifiseer om Suid-Afrika in April in ’n internasionale hengelkompetisie in Hongarye te verteenwoordig. Die 2026 Internasionale Balaton Karp-beker is die wêreld se grootste karp-hengelkompetisie en ongeveer 300 spanne van bykans 30 lande neem deel.

Dié span is deur die Lakes Sekuriteitsforum gevorm – ’n samewerkingsplatform wat uit sekuriteitsfirmas, gemeenskapsverteenwoordigers, plaaslike wetstoepassingsagentskappe en landgoedbestuurders van Pretoria-oos bestaan.


Die Lakes-hengelspan
Foto: Verskaf

Die forum is in reaksie op die toenemende behoefte aan gestruktureerde misdaadvoorkomingstrategieë gestig. Hengel is gekies om spanlede, wat daagliks onder geweldige hoë spanningstoestande, onder andere in die sekuriteitsbedryf, werk en aan toestande soos post-traumatiese stresversteuring ly, te help ontspan.

Dié is die tweede keer wat die hengelspan internasionaal deelneem en van Suid-Afrika se begaafdste hengelaars uit ander industrieë het intussen by die span aangesluit. Nog fondse is nodig om alle lede in Hongarye te kry en enige iemand wat die hengelaars wil ondersteun kan Jean Jonker by 074-613-2381 bel.

 

 

© 2025 Die/The Bronberger