|
Faerie Glen Renaissance Aftreeoord is op 26 Februarie as die landswye Woeker en Werk-Tuinekompetisiewenner aangekondig.
Die kompetisie is deel van Ons Tuis-aftreeoorde se strategie om aktiewe veroudering te bevorder. Inwoners werk saam aan hulle tuine, wat trots in hulle leefomgewing, fisiese aktiwiteit en samewerking aanhelp.
Internasionaal bekroonde Suid-Afrikaanse landskapontwerper, Leon Kluge, het die deelnemende tuine volgens ruimtebenutting, ontwerp en kreatiwiteit, watergebruik en volhoubaarheid, plantkeuse en kleurskemas, en algehele aanbieding beoordeel.
 ’n Deel van die wentuin Foto: Verskaf
Leon het gesê dat die wentuin ’n vriendelike en uitnodigende ontwerp het wat die landgoed as ’n samehangende eenheid verenig. Hy het gesê dat daar uitstekende gebruik gemaak is van plante wat goed in daardie omgewing aard en dat dit duidelik is dat die gemeenskap trots is op hulle tuine.
“Wanneer ek ’n gemeenskapstuin beoordeel, kyk ek verder as visuele skoonheid en fokus ek op die verhouding tussen mense en plek. ’n Suksesvolle tuin weerspieël sorg, eienaarskap en gesamentlike trots,” het hy gesê.
Die kompetisie het ook denkrigtings, soos herwinningsprojekte, die integrasie van eetbare plante en handgemaakte tuinelemente, uitgelig.
|