Jong skaatspaar presteer internasionaal Print E-mail
News - Ons Mense
Thursday, 19 March 2026 08:00
Untitled Document

Milané Gamberini en Philip Malan het eerste in hulle afdeling gekom by Skaats Berlyn Internasionaal. Dié twee skaatsers van Evolution on Ice by The Grove-koopsentrum was die heel eerste basiese nuweling skaatspaar van Suid-Afrika om by dié skaatskompetisie te debuteer.

Skaats Berlyn Internasionaal is ’n internasionale figuurskaatskompetisie, wat van 17 tot
21 Februarie deur die Berliner Eissport-Verband aangebied is. Die kompetisie, wat deur die Internasionale Skaatsunie ondersteun word, het ná meer as drie dekades vanjaar weer herleef en bestaan uit drie dissiplines: enkel, pare en ysdans oor verskeie vlakke vanaf basiese nuweling tot senior kategorieë. Bykans 200 mededingers van dwarsoor die wêreld het deelgeneem.


Milané en Philip op die skaatsbaan
Foto’s: Verskaf

Die elfjarige Milané en 14-jarige Philip het in 2022 hulle eerste proefles saam gehad. Milané het sedert die ouderdom van agt jaar in verskeie ontwikkelingsfases saam met Philip geskaats. Hulle afrigter Konrad Giering, het gesê dat hy gesien het hoe goed hulle persoonlikhede en leerstyle bymekaar pas toe dié twee vir die eerste keer saamgesit is.

Milané is in graad ses by Eduplex en Philip is in graad nege by Tyger Valley College. Voor skool skaats hulle vier oggende ’n week van 5 vm tot 6.30 vm. Albei speel ook klavier. Milané speel netbal en Philip swem.


Milané Gamberini en Philip Malan met hulle toekennings 

 

© 2025 Die/The Bronberger