Wie is ons lesers? Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 19 March 2026 08:00
Untitled Document

Wie van julle het nie dadelik met gespitsde ore regop gesit toe Die Bronberger se naam op ’n bekende televisie-ontbytprogram genoem is nie? Ja, onse Bronnie is gebruik as sprekende bewys daarvan dat lesers nog honger is vir ’n gedrukte publikasie – iets om in die hand vas te hou.

“Hoe lyk die ‘profiel’ van Die Bronberger se ‘deursneë leser”? Dit is die moeilike vraag wat sporadies deur advertensie-agentskappe gevra word as hulle ’n advertensie in die Bronnie oorweeg.

Wat die agentskappe eintlik wil hoor, is: Wat is die koopkrag van gereelde lesers? Die Bronnie se verspreidingsgebied sorg daarvoor dat ’n groot persentasie van sy lesers in ’n bestendige of ‘hoër’ inkomstegroep val en dat dié mense sy / haar koopkrag grootliks in die omgewing waar hy / sy woon, die Bronberg-gebied, aanwend.

Die gemiddelde Bronnie-leser is volwasse en besit die huis of hoewe waar hy of sy woon. Ons lesers het kinders of kleinkinders wat in een van die gebied se skole is. Hy / sy is lief vir ondermeer: tuinmaak, kuns, uitgaan, reis, sport, onthaal, braaivleis en kuier en is gek oor die buitelewe en die natuur.

Ons lesers het ’n liefde vir en is lojaal teenoor hulle mense en hulle onmiddellike omstreke – die Bronberg-gebied. Dié Bronnie se inhoud is deurspek met stories oor ons omgewing, ons mense en hulle dinge, deurbrake en teleurstellings en die diere wat die lief en leed van ’n lewe in ons gebied met ons deel.

Die profiel wys ook ’n leser met ’n gesonde trots in sy herkoms en ’n lewendige belangstelling in sy geskiedenis. Die toeka-se-dae afdeling in die Bronnie is van die heel gewildste stories, wat baie lesers heel eerste verslind.

Ja, daar sit skop in ons lesers se koopkrag en dit is die deel van die profiel waarin die agentskappe veral belangstel. Maar die profiel wys ook ’n mens wat ‘omgee’. Een wat by welsyn, beveiliging en bewaring betrokke raak. Een wat ook trots is op die gebied se eie onafhanklike publikasie en dit deur meelewing en ondersteuning wys.

En ons hier by die Bronnie is trots op en eindeloos dankbaar teenoor die mense wat ons ‘lesersprofiel’ opmaak.

 

© 2025 Die/The Bronberger