Die Sinkkerk op Witfontein is uit verset gebore Print E-mail
News - Toeka se dae
Thursday, 19 February 2026 08:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Die ou Sinkkerk, bekend as ‘Die Ark van die Hervormde Kerk’, het in 1883 as ’n verset-aksie op ouderling Vaal Martiens Prinsloo se plaas Witfontein tot stand gekom. Die onenigheid onder Pretoria se kerkgangers het alles met dié jong dorp se heel eerste dominee te doen gehad.

Wat op aarde het gemeentelede so onstig dat ’n aantal beswaardes die konsulentsgemeente van Pretoria, later as Witfontein bekend, toe as Erasmus en nog later as Bronkhorstspruit, gestig het?


Ds Adriaan Jacob Begemann en sy vrou, Johanna Hermina, ’n nooi Goetz
Bron: Engelbrecht, S.P. [Dr.] 1952. Eeufees-Album. Pretoria se eerste eeu in beeld

In sy boek, ‘Die Nederduitsch Hervormde Gemeente Pretoria’, skryf prof dr SP Engelbrecht oor die beginjare van die kerk in Pretoria en ’n dominee wat nie baie taktvol was nie; iemand wat meermale met sy gemeentelede kopgestamp het.

Toe Pretoria in sy babaskoene gestaan het, was die Hervormde Kerk (NH) die staatskerk en histories ’n voortsetting van die kerk wat saam met die Voortrekkers uit die Kaap gekom het. Die eerste kerk op Kerkplein is tussen 1854 en 1857 gebou en was ’n eenvoudige saaltipe gebou met dik mure en ’n grasdak. Op een van die gewels was die jaartal 1855 en ‘DD en S’ uitgekerf. Dit het gestaan vir bou-aannemer William Skinner, die latere landdros, en die twee Devereux-broers, Louis Edward en Lionel.


Die eerste kerk op Kerkplein ná aanbouings in 1867 deur William Skinner
en die Devereux-broers
Bron: Artefacts

Daar was sitplek vir 700 tot 800 mense, maar reeds met die inwyding deur ds Dirk van der Hoff in Februarie 1857 was die kerk te klein en sommige mense het selfs op die balke gesit. Ds Van der Hoff, wat vir byna agt jaar die enigste predikant in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) was, kon Pretoria egter net af en toe bereik.

’n Hollandse onderwyser, Hendrik Stiemens, het vanaf September 1859 op Sondae in die kerkgebou voorlesings gehou en daar is besluit om ’n dominee, spesiaal net vir Pretoria, van Holland af te laat kom.


Ds Begemann en sy gesin voor hulle huis in Jacob Maréstraat, ongeveer 1880
Bron: Tab 529

Begemann
Adriaan Jacob Begemann is op 15 Junie 1831 op Dongen, Noord-Brabant in Nederland gebore. Hy was een van die 12 kinders van ds Jan Begemann, predikant in die Hervormde Kerk van Nederland, en Anna Johanna, ’n nooi Van Alphen. Nie net was Adriaan se pa en een van sy twee broers predikante nie, verskillende neefs en kleinneefs, vyf ooms, sy oupa, verskeie neefs van sy pa en nog familielede het almal dié beroep gevolg.


Ds Begemann
Bron: Ons Kerk Album, Wikipedia

Hy het vanaf 18 September 1849 teologie aan die Universiteit van Utrecht studeer tot hy in 1855 deur die provinsiale kerkbestuur van Utrecht beroepbaar gestel is. Hy was vir ’n ruk die proponent hulpprediker by Gemeente Lichtenvoorde, Gelre-Oos, Gelderland en het deur die geestelike kommissie in Amsterdam, wat hulle vir die bevordering van die Voortrekkers in die ZAR se geestelike belange beywer het, ’n beroep na die NH Kerk in Pretoria ontvang.


’n Skets van ds Begemann
Bron: nhka.org

Ds Begemann is op 7 Maart 1860 in die Grote Kerk van die Hervormde Gemeente Den Haag as predikant van die ZAR georden. Ds Gerrit Willem Smits, wat uiteindelik die Sinkkerk op Witfontein se dominee sou word, is op 5 Mei 1860, ook in Den Haag, georden. Hy het ook teologie aan die Universiteit van Utrecht studeer en het ’n beroep na die NH Kerk op Rustenburg ontvang.

Sy pa was ook ’n predikant. Hy is op 19 Junie 1836 op Renkum in Gelderland, Nederland gebore as die seun van Johannes Arnoldus Smits, predikant van die Nederduitsch Hervormde gemeente in Renkum, en sy vrou, Johanna Louise Eickhoff.

Dominee Smits het op 18 Desember 1860 in Kaapstad met Maria Magdalena de Vos getrou en is op 20 April 1861 as die eerste predikant van die Rustenburgse NH Gemeente bevestig.


Kerkplein met Nagmaalviering. Die huis aan die linkerkant met die twee gewels
was ds Begemann se pastorie
Bron: Eeufees-album. Pretoria se eerste eeu in beeld

Reistog
Ds Begemann het reeds op 21 Junie 1860 in Kaapstad aangekom. Op 30 Junie is hy by die aktuaris van die sinode, ds A Faure, gelegitimeer en dieselfde dag het hy sy reis per skip na Natal voortgesit waar hy met ossewaens afgehaal is. Hy het op 8 Desember by ds Dirk van der Hoff op Potchefstroom aangekom. Op 20 Januarie 1961 het hulle nagmaal op Rustenburg bedien en dominee Begemann is op Sondag 27 Januarie 1861 as eerste predikant van die NH Gemeente Pretoria bevestig.

Hy het daardie middag sy intreepreek gehou en die Maandagmôre was daar volgens die ou gewoonte van daardie dae ook weer kerk gehou waar ds Begemann ’n paar nuwe belydende lidmate bevestig het en ongeveer 40 kinders gedoop het.


Die Begemanns op hulle Jacob Maré-huis se stoep
Bron: nhka.org

Ds Begemann was toe nog ’n ongetroude man. Hy is eers op 14 Mei 1862 in die ouderdom van 30 jaar op Potchefstroom met Johanna Hermina Goetz, dogter van Marthinus Andreas Goetz en Susanne Christina Rossouw, getroud.

Hulle het 11 kinders gehad: vyf dogters en ses seuns (een tweeling seuns). Die twee jongste dogtertjies is vroeg oorlede: een op vierjarige ouderdom in 1885 en een op sesjarige ouderdom in 1889.

Twee van hulle seuns, Simon Hendrik Anton Jan en Frederik Adolf, het in die Anglo Boereoorlog gesneuwel. Simon, hulle oudste seun, was 37 jaar oud toe hy op 10 Mei 1900 in die Vrystaat by Sandrivier dood is. Hy is op ’n plaas by Ventersburg begrawe en sy naam verskyn op ’n geraamde ererol in die Gereformeerde Kerk op Ventersburg.

Frederik was 33 jaar oud en in die Wakkerstroom-kommando toe hy op 24 Oktober 1899 op die slagveld van Talana/Dundee dood is. Hy is by Platrand herbegrawe en sy naam verskyn op die burgermonument op Wakkerstroom.


William Skinner
Foto: Geni

Die Begemann-gesin het in ’n pastorie op Kerkplein, op die noordwestelike hoek van Kerk- en Markstraat (Paul Krugerstraat), gewoon. Dit was ’n eenvoudige huis met grondvloere en ’n grasdak, sonder plafon, wat deur William Skinner en die Devereux-broers gebou is.

Toe die Begemanns daar intrek is ’n stoep voor aan die huis gebou asook ’n stal op die erf, omdat huisbesoeke te perd afgelê moes word. Twee gewels is later aangebou en die gesin het groente en vrugte gekweek om hulle inkomste aan te vul.

Die opkoms na die kerk was goed en William Skinner en die Devereux-broers moes in 1865 nog ’n vleuel aan die kerkgebou aanbou. Toe die burgeroorlog in die Pretoria-distrik uitbreek, het dinge tussen die dominee en sy gemeente begin skeefloop. Op 5 Januarie 1864 het dié oorlog op ’n gewapende botsing uitgeloop en ’n paar mense het gesneuwel, wat verbittering en vetes tussen vooraanstaande families veroorsaak het.


Die pyltjie links voor wys na die Gouvernments Schoolgebouw wat in 1860 voltooi is en vir ’n ruk lank die Staatsbiblioteek gehuisves het
Bron: Pretoriana, April 1958

Opskudding
Met die Nagmaalsviering op 2 en 3 Julie 1864 het ds Begemann, sonder raadpleging van die kerkraad, op Saterdagmiddag met die voorbereidingsdiens aangekondig dat hy die Sondag geen Avondmaal of doop sou bedien nie. Hy sou dit eers weer doen as die gemeente sou bewys dat daar ware godsdienstige belangstelling bestaan. Ds Begemann het basies die hele gemeente op eie gesag onder sensuur geplaas en dit het ’n opskudding veroorsaak.

Hy het die volksraad ook ontstig. Die Grondwet het vereis dat die leraar van die NH Gemeente die volksraadsitting met gebed moes open en weer afsluit. Ds Begemann het in Februarie 1864 en Junie 1865 versoeke om die sitting van die volksraad met gebed te open, glo sonder gegronde redes van die hand gewys.


Die Erasmus (Equity)-gebou op die noord-oostelike hoek van Kerkplein het die Staatsbiblioteek in die 1890’s gehuisves
Bron: Pretoriana, April 1958

Dit het ontevredenheid veroorsaak wat in 1868, toe hy ’n vrymesselaarslosie wel met gebed geopen het, vererger het. Baie lidmate wou hom nie meer as hulle dominee erken nie en het gevra om deur ’n konsulent bedien te word.

Kommandant Salomon Theodorus Prinsloo van die plaas Vlakfontein was een van die ongelukkiges. Hy was Marthinus Jacobus (Vaal Martiens) Prinsloo se neef en het met Vaal Martiens se sussie, Petronella Maria Prinsloo, getrou.

Salomon het op 20 April 1868 ’n brief aan die algemene kerkvergadering geskryf waarin hy ds Begemann aankla daarvan dat hy baie onsimpatiek teenoor die plattelandse boere staan. Hy het kennis gegee dat dié boere nie meer onder ds Begeman ressorteer nie en om ’n konsulent aansoek doen. Ds Gerrit Wessel Smits is benoem.


Ds Dirk van der Hoff
Bron: weet.co.za

Dié konsulentsgemeente van Pretoria, wat dieselfde grense as die gemeente Pretoria gehad het, is in November 1869 deur die algemene kerkvergadering goedgekeur omdat die staatskerk net één predikantstandplaas per distrik kon bekostig.

In die begin van 1872 was daar nuwe moeilikheid toe ds Begemann gesê het dat 1 Johannes V vers sewe later in die Bybel ingevoeg sou wees en nie daarin hoort nie, en net so ook die eerste verse van die agtste hoofstuk van die Evangelie van Johannes.

Die kerkraad het hom by die kommissie van die algemene kerkvergadering van die NH Kerk aangekla en hy is vir drie maande geskors. Ds Begemann het die pastorie ontruim, ’n ander woning betrek en toe die skorsingstyd verby was, het hy sy ontslag gevra, sy emeritaat verkry en op
30 Junie 1872 sy afskeid van die gemeente geneem.

Hy was sedert 1864 lid van die skool- en onderwyskomitee en het ook baie vir die latere oprigting van die Staatsmeisjesskool in Visagiestraat gedoen. Ds Begemann was vir ’n ruk predikant én onderwyser in Nederlands toe hy die onderwyser Stiemens, wat vroeër leeskerk gehou het, se pos tot 1871 waargeneem het omdat Stiemens goewermentsekretaris geword het. Hy het later die eerste hoofbibliotekaris van die Staatsbiblioteek geword (1887-1893).


Die Sinkkerk met die ‘nuwe’ kerkgebou in die agtergrond (1913)
Bron: Herdenking Witfontein 1886-1986 – Archive.org

Witfontein
Witfontein, die woonplaas van ouderling Vaal Martiens Prinsloo, het die middelpunt van die konsulentsgemeente geword. Hy het grond vir die oprigting van ’n kerkgebou en pastorie geskenk en die bekende Sinkkerk is in 1883 op sy plaas opgerig. Volgens oorlewering het hy ook ’n aansienlike som geld aan die gemeente geleen, aanvanklik rentevry.

Die hoeksteen is op 3 November 1883 deur ds Nicolaas Jacobus van Warmelo gelê. Die 40 kerkbanke van Beukehout is uit Holland ingevoer en het ruim sitplek aan 240 mense gelewer. Hulle word vandag steeds in die kerk en saal van die gemeente Bronkhorstspruit gebruik. Die preekstoel van die ou kerkgebou staan in die kerkargief in Pretoria.

Intussen is die kerk op Kerkplein in September 1882 eers ernstig deur ’n storm beskadig en later dieselfde maand deur ’n brand in puin gelê. Slegs die preekstoel se trap en een nagmaaltafel kon gered word. 


Ouderling Marthinus Jacobus (Vaal Martiens) Prinsloo van Witfontein
Bron: Herdenking Witfontein 1886-1986 – Archive.org

Die Sinkkerk het later in die volksmond die naam ‘Ark van die Hervormde Kerk’ gekry omdat dit die sentrum van verset teen die kerkvereniging in 1885 was. Die Nederduitsch Hervormde Kerk en Nederduitsch Gereformeerde Kerk het onder die naam Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk, in die volksmond die Verenigde Kerk, verenig. Die konsulentsgemeente het in 1886 besluit om nie deel van die kerkvereniging te word nie.

Ds Gerrit Wessel Smits van die Rustenburgse NH Kerk het in sy hoedanigheid as voorsitter van die kommissie van die algemene kerkvergadering tussen 1881 tot 1885 aan die onderhandelinge oor die vereniging deelgeneem. Hy het hy later onttrek, deels om gesondheidsredes, maar veral omdat hy beswaard gevoel het dat die Verenigde Kerk in ’n ander rigting beweeg het as wat syns insiens die oorspronklike bedoeling was.


Ds Gerrit Willem Smits
Bron: Herdenking Witfontein 1886-1986 – Archive.org

Ds Smits het sy emiraat aangevra en het op 10 April 1886 ná presies 25 jaar van die gemeente Rustenburg afskeid geneem. Hy is op 29 April 1894 in die ouderdom van 57 jaar oorlede.

Vaal Martiens Prinsloo is reeds op 13 April 1892 in die ouderdom van 70 jaar op sy plaas Witfontein oorlede. Uit sy boedel is dit duidelik dat hy ’n vermoënde man was – hy het nege plase of gedeeltes van plase besit toe hy oorlede is.

Hy was met Hester Maria Prinsloo getroud, ’n dogter van Nicolaas Marthinus Prinsloo en Martha Magdalena Rossouw. Sy is op 28 Augustus 1901 in die konsentrasiekamp op Balmoral oorlede.

Ds Begemann is op 15 November 1925 in die ouderdom van 94 jaar oorlede. Hy het tot sy dood in Pretoria gewoon, oorkant Burgerspark op die hoek van Jacob Maré- / Scheiding- en Van der Waltstraat. Hy en sy vrou, Johanna Hermina, is in die ou begraafplaas in Kerkstraat-Wes begrawe. Sy is reeds op 21 Augustus 1916 in die ouderdom van 75 jaar oorlede.

 

© 2025 Die/The Bronberger