|
Ons verwelkom jou graag in die splinternuwe jaar se heel eerste Bronnie! Dit is 2026 en ons is eindeloos dankbaar vir die voorreg om te kan uitsien na Die Bronberger se 24ste bestaansjaar in ’n gebied waar ’n baie besonderse gemeenskap ons verwelkom en van meet af aan deur ongekende aanvaarding en meelewing aangespoor het.
Daarom gee ons die eerste tree van die nuwe jaar met vertroue. Ons sien uit daarna om maandeliks ’n publikasie steeds gratis aan ons wye, groeiende en besondere leserskorps te verskaf. Een wat, soos oor die afgelope 23 jaar en vier maande, aanklank sal bly vind by ons ywerige lesersvriende. ’n Gewilde glanstydskrif wat deeglik gelees word en dit sodoende meer as die moeite werd maak vir ons adverteerders om hulle gereelde teenwoordigheid in die Bronnie te verseker.
Die harte loop ook oor van dankbaarheid vir elke adverteerder wat deurgaans die lewensbloed van dié onafhanklike gemeenskapsblad was en is. Dankbaar ook natuurlik daaroor dat die advertensies werk, juis omdat die Bronnie se lesers oor die jare heen iets baie betekenisvol besef en ervaar het: Geloofwaardigheid is uiters belangrik. Mense word deur aangestuurde boodskappe gebombardeer sodat om te kan glo wat jy lees, of nie, deesdae toenemend op die wyer front ’n onsekere dobbelspel geword het.
Nuwejaarsvoorneme wil ons dit nie noem nie, maar die Bronnie se doelstelling het oor bykans 24 jaar se vreugdevolle volharding nie veel verander nie: ’n Mondstuk ter inligting en bevordering van die gemeenskap en hulle belange in die groter Bronberg-gebied in die ooste van en ten ooste van Pretoria.
Die fokus bly in 2026 steeds op die landelike leefwyse gerig. Omgewingsake lê ons na aan die hart en ons wil weer vanjaar alles moontlik doen om te help met die bewaring van die gebied se natuurlike bronne en sy ryk plant- en dierelewe.
Ons bly deurgaans onafhanklik met geen verbintenis aan enige politieke party of ander korporatiewe of idealistiese organisasie nie. En ons hou aan om ’n gedrukte Bronnie in lesers se hande te plaas, al bied ons sedert 2020 ook ’n elektroniese weergawe van die tydskrif.
Ons hartewens is dat 2026 vol seëninge vir al ons adverteerders en lesers sal wees en ons sien uit daarna om die pad nog ’n jaar saam met julle te stap. Mag die nuwe jaar geluk en gesondheid vir julle almal inhou. Ons waardering vir julle volgehoue ondersteuning en meelewing is opreg en sonder perke. Dankie.
|