Seker die enkel bevredigendste aspek wat met die uitgee van Die Bronberger saamloop,
is die uitsonderlike meelewing van ons lesers.
Sedert die geboorte van die tydskrif, nou meer as sewe jaar gelede, was dit gou
duidelik dat die gemeenskap in ons bedieningsgebied Die Bronberger as hulle eie
aangegryp het. Lesers het gou vriende geword en vriende praat mos met mekaar.
Die hoeveelheid lesersbriewe wat ons ná elke uitgawe ontvang is ongekend vir ’n
gemeenskapspublikasie van dié omvang. Briewe vol griewe en briewe wat dankie
sê; briewe met kritiek en briewe met komplimente, briewe met raad en raat, vol humor of bitterheid,
met inligting of navrae – almal is welkom en word waardeer.
In hierdie uitgawe wys Paul Hasse ons daarop dat die woord Philadelphia, soos
gebruik in verlede maand se uitgawe by die toeka-artikel oor Pretoria se naam, nie
Latyns is nie, maar Grieks. En dit beteken nie broederskap, soos die artikel dit stel
nie, maar broederliefde, sê Paul.
Hy sê ook: “Ons ontvang Die Bronberger gratis in ons posbus en lees dit gereeld met
belangstelling en genot van voor tot agter! Baie dankie daarvoor. Ons kan u maar
net komplimenteer oor die puik gehalte van u blad.” Dieselfde artikel het ook ’n
hele aantal oproepe ontlok.
Alta Espach skryf ’n hartverskeurende brief oor die plaasmoord op haar seun in
November van 2008. Sy vermoed dat die Cullinanse polisie nog nie veel gedoen het
om die saak op te los nie. Edith du Toit kla oor die Boschkopse polisie en die polisie
antwoord op haar brief. Marie Visser maak beswaar oor die neerhalende wyse
waarop in ‘Het jy Gehoor’ oor Joost van der Westhuisen geskryf is en Arlene Finucan
soek na die eienaar van ’n papegaai wat by haar aangekom het.
Só ontvang ons maand-ná-maand welkome briewe van ons lesers, maar meelewing
word veral daagliks met telefoonoproepe en e-pos-boodskappe gewys. Wenke, versoeke
en navrae uit ons gebied is talryk en soms nogal vreemd.
’n Benoude vrou wou byvoorbeeld op ’n dag weet wat sy moet maak om ontslae te
raak van die reuse-slang wat presies daar lê waar sy langs die pad moet staan om op
haar vriendin te wag.
Ons kry baie navrae oor artikels en advertensies wat in vorige Bronbergers verskyn
het – soms ’n hele aantal jare gelede. En ons kry baie navrae oor die omvattende
wie, wat en waar van die groter Bronberg-gebied.
Ons beskou dit as ’n kompliment dat lesers dink ons weet alles van alles in ons
gebied af en ons help graag waar ons kan.
As die trefkrag van ’n publikasie gemeet kan word aan die meelewing van sy lesers,
en oor die algemeen kan dit wel, dan tref Die Bronberger in die kol. |