|
Wat kom eerste – die hoender of die eier? Dit is die vraag wat in ’n mens se kop opkom as jy na die snelgroeiende ontwikkeling oos van Pretoria kyk en die gebrekkige padnetwerk wat vir derduisende nuwe inwoners voorsiening moet maak.
Vir ’n leek wil dit lyk asof ontwikkelings eers goedgekeur word en ’n pleister dan bloot op die padprobleme, teweeg gebring deur ’n toename in behuisingsdigtheid, geplak word. Een van dié pleisters is om puntsmanne aan te stel om spitsverkeer te probeer reguleer.
Op bl 8 en 9 berig ons dat vroegoggend verkeer op Grahamweg (Lynnwoodweg-verlenging) in so ’n nagmerrie ontaard het dat Laerskool Tygerpoort sy aankomstye vir die res van die jaar aangepas het. Die CVO skool en Tygervalley College se leerlinge moet ook met Grahamweg skool toe aangery word.
Malcolm de Klerk, raadslid vir wyk 101, sê dat bykans alle paaie in dié gebied deur ontwikkelaars en die Gautengse regering gebou is. Grahamweg is ’n Gautengse regeringsbate en Stad Tshwane bou geen paaie in dié gebied nie, het hy gesê.
Miljoene rande se padopgraderings vorm glo deel van ontwikkelaars se infrastruktuur-bydraes, so die leek het dit dalk verkeerd as dit lyk of die ontwikkelings eerste gedoen word en daar later oor padprobleme kopgekrap word. Dit is glo ’n kwessie van begrotings wat goedgekeur moet word voor projekte begin kan word.
Malcolm sê dat die dele uit met Grahamweg ’n sleutel ekonomiese gebied is met miljarde der miljarde rande wat die gebied instroom vir ontwikkelings, duisende meer huise, ’n universiteit met 5 000 studente, skole, moontlik ’n stadion en nuwe winkelsentrums. “Dit is krities dat die padopgradering dadelik moet begin.”
’n Padprojek wat reeds aan die gang is, is die opgraderings aan Garstfonteinweg-verlenging. In vorige maande het ons berig dat Garstfonteinweg-verlenging die verkeer van nuwe ontwikkelings, soos Mooikloof Slim Stad met sy beoogde 50 000 deeltitel woonstelle, moet dra.
’n Leser, Dries de Klerk, het geskryf dat hy glad nie verstaan hoe die huidige ‘opgraderings’ die geraamde toename in verkeer gaan aanspreek of verlig nie. Vanaf Mooikloof Slim Stad se ingang tot by Philadelphiaweg by Woodlands Boulevard is ongeveer 8 km. Die 50 000 wooneenhede, elk met net een voertuig, beteken 50 000 ekstra voertuie op Garstfonteinweg-verlenging.
As die gemiddelde lengte van ’n motorkar drie meter is, sal slegs 2 666 motors buffer-teen-buffer gelyk op dié stuk pad pas. Dit sluit die noord/suid verkeer uit wat by Garstfonteinweg vanuit Jollify Main-weg of Mattstraat aansluit.
Diegene wat daagliks in Grahamweg se vroegoggend skoolverkeer verstrengel sit, kan maar net wonder hoe nog ekstra motors in die huidige buffer-teen-buffer verkeer op dié pad sal inpas en duimvashou dat die goedgekeurde PWV17-deurpad en K147 provinsiale pad ten minste ’n werkbare plan vir toekomstige universiteitsverkeer in dié omgewing sal bring. |