Hoendertande en leeuvere Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 17 October 2025 08:00
Untitled Document

So skaars soos hoendertande; soos leeuvere . . . Dit is wat jy nou in jou hande vashou – jou gratis gedrukte Bronnie.

Die publikasiewese het die afgelope jare ’n geweldige en skokkende omwenteling in ons land ervaar. Bekende en gewilde tydskrifte en koerante, wat oor baie jare heen stewig gevestig was, het bloot verdwyn, het saamgesmelt of, in baie gevalle, die elektroniese opsie gekies. Maar ook hiervoor moet lesers opdok.

In ons eie kontrei was daar oor die dekades in die landelike deel ten ooste van Pretoria ’n paar ander publikasies saam met die Bronnie op die rakke. Vir baie mense was dit hartseer nuus toe die laaste gedrukte ‘SA Smallholder’ in Junie 2023 verskyn het. Vroeg daardie Augustus is ’n aankondiging uitgestuur dat dié publikasie se digitale weergawes nie meer geproduseer gaan word nie.

In die plek daarvan is “inhoud” op ‘SA Smallholder’ se webtuiste en Facebook-blad geplaas. Dié plasings het in April 2024 tot ’n einde gekom. As ’n mens deesdae die webtuiste besoek is daar ’n boodskap wat sê dat die tuiste nie meer aktief is nie.

’n Nuwe skokgolf het die landelike gebied getref toe ‘Streeknuus’ op 29 September aangekondig het dat dié koerant, wat die gebied ten ooste van Pretoria en die dorpies van Bapsfontein, Delmas, Bronkhorstspruit, Rayton en Cullinan gedek het, nie meer uitgegee gaan word nie.

Marietta Lombard, Caxton se hoofredakteur vir die groter Johannesburg-gebied, het gesê dat die impak van die sukkelende ekonomie ongelukkig die sluiting van ‘Streeknuus’ tot gevolg gehad het. Sy het gesê dat alle pogings aangewend is om dié uitkoms te verhoed.

Soos dit in die huidige ekonomiese mallemeule van ons land met baie ander ondernemings die geval is, verg dit soms ook hier by die Bronnie ’n gespook om kop bo water te hou. Die onderskraging wat ons selfs in moeilike ekonomiese tye geniet, dien as barometer vir Bronnie-lesers se bereidwilligheid om ons adverteerders metterdaad te ondersteun. Dít is hoekom die Bronnie gratis kan bly. Natuurlik ook omdat ons nie hoofbestuurders en ander grootkoppe het wat dermiljoene aan salarisse ‘verdien’ nie.

Met groot dankbaarheid kyk ons terug na 23 wonderlike jare wat verloop het en ons dink met nostalgie aan ’n era toe die Bronnie dié landelike gebied met ander publikasies gedeel het. Ja, ons pink ’n traantjie oor dit wat verby is, maar ons sien uit na die pad wat voorlê. Dankie aan almal wat die toekomsreis saam met ons aanpak en, soos ons, met oorgawe daarna uitsien.

 

© 2025 Die/The Bronberger