Ongelooflike kerrie in rokersvriendelike plek Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 24 February 2010 08:41
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

Op ’n paal langs die pad adverteer ’n kuierplek só: “Thank you for smoking.” Ek besluit dat ons daar moet gaan draai, al is dit dan net oor hulle oorspronklikheid. Die plek se naam is Square Times by Faerie Glen se Boardwalk kantoorpark en dis hulle nuwe sigaar-sitkamer wat hulle op dié manier adverteer.

Ek vra my persoonlike Valentyntjie om saam met my by Square Times Café te loop kuier, want dis toevallig Valentynsdag, en Metgesel sê die saak is reg.

Die onderste vlak van die plek is redelik gepak. Lekker sit al die Valentyntjies in die oopte langs die dammetjie, maar ons rigting staan by die trappe op na die nuwe sitkamer waar hulle vir jou dankie sê oor jy rook.


Die sigaar-sitkamer se balkon is gerieflik en romanties, sou jy wou

Die enigste probleem, sê die kelner, is dat ons self sal moet trappe op en af as ons aan die buffet wil meedoen. Ons wil nie noodwendig nie en kelner gaan wys ons. Jy kan binne in die sigaar-sitkamer in diep rusbanke sit en ontspan of op die balkon. Net een ander paartjie sit op die balkon en handjies hou, soos dit op dié rooihartdag hoort, en ons neem plaas by ’n tafeltjie met ’n uitsig oor die boomtoppe heen op die dammetjie. Groot televisies wys binne en buite die krieket, sonder steurende klank. Ideaal.

Op die spyskaart sien ons dat die Sondag buffet, waaraan die meeste besoekers meedoen, R85 kos. Die ontbyt buffet kos R45. Ons het nie die begeerte om oordadig trappe te klim nie en bestudeer voort aan die imponerende spyskaart en wynlys. Van laasgenoemde af bestel ons ’n bottel rooi, soos dit op dié dag hoort. Die Nederburg cabernet sauvignon kos R110 en is altyd vir my ’n bargain.

Onder die voorgeregte tel Avo Ritz, R33.90, en gestopte pepadews teen R31.90. ’n Groot verskeidenheid slaaie kan van die afdeling, ‘Green market square’ af bestel word. Braaigeregte wissel van ’n 250 g fillet teen R85.90, ’n 500 g T-been vir R85.90 tot ’n 320 g rump teen R79.90. ’n Reeks burgers kos tussen R42.90 tot R54.90 en ‘wraps’, pastas, ‘spud’, pita, quiche en roosterbroodjies ressorteer onder die ligter maaltye met die ligter pryse. Seekos sluit in Falkland calamari, R49.90, prawn kerrie, R95.90, tongvis, R79.90 en stokvis (hake) teen R69.90.


Smaaklike kerrie vir ?n honger ou

Ek oorweeg vlugtig die heel lamskenkel, lamstjops of oxtail, maar ons loop soek dieper en besluit op kerriegeregte, soos dit hoort op ’n rooiwarm Valentynsdag. Die lamskerrie wat ek bestel is op die ‘authentic Eastern way’ voorberei.

Ek kan nie onthou dat ek al ’n beter lamskerrie gehad het nie. Dit is smaaklik, geurig, sag, skerp maar nie te sterk nie en dis ’n baie ruimhartige porsie. Ek kon min-of-meer ’n derde in die braksakkie pak en die volgende dag nog ’n bevredigende maaltyd by die huis inwerk. Dit kos R75.90.

Metgesel besluit op die roergebraaide hoenderkerrie en indien moontlik is haar maaltyd nog ruimhartiger as myne en ewe lekker. Ek weet, want ek het geproe. Sy vat ook huis toe en geniet dit sommer dieselfde aand nog. Dit kos R63.50.

O, ja . . . natuurlik kan jy ’n verskeidenheid sigare aanskaf by die sigaar-sitkamer. Dit wissel van ’n Black Stone teen R35 tot ’n Montechristo no 5 teen R115.

 

© 2024 Die/The Bronberger