Maak gereed vir die Bronnie se 23ste verjaardag! Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 15 August 2025 08:00
Untitled Document

Die Augustus-winde gaan die lente binnekort ons kant toe begin waai. Maak solank gereed vir die seisoen van vernuwing en hernude hoop, want ons vier nie net ’n splinternuwe seisoen in Die Bronberger se September-uitgawe nie; ons vier veral die Bronnie se 23ste verjaardag!

Die onderskraging wat ons as gemeenskappublikasie geniet, dien as barometer vir Bronnie-lesers se bereidwilligheid om ons adverteerders metterdaad te ondersteun en verduidelik ook hoe dit moontlik is vir ’n heeltemal onafhanklike publikasie om sy 23ste verjaardag te vier.

Ons is trots en ons is dankbaar vir die volgehoue ondersteuning van die gemeenskap wat ons dien. Om ’n glanstydskrif binne ’n geslote gemeenskap, sonder die rugsteuning van enige groot organisasie of groep uit te gee en oor 23 jaar stewig te bly staan, wil gedoen wees.

Die Bronnie is in September 2002 op die kruin van die Bronberg as die breinkind van Gerhard en Angie Kleijn gebore. Soos Gerhard in 2013 geskryf het: Dit was nogal ’n moeilike bevalling en in die Bronnie se babajare het dit soms maar broekskeur gegaan. Getroue lesers het onderskraging verskaf en adverteerders het gesorg vir die noodsaaklike kragkos om die Bronnie te help grootword.

Dat die Bronnie enig in sy soort is, is iets wat almal wat hom lees, reeds weet. Die Bronnie is egter ook weergaloos wanneer dit by sy mense kom. Jeanette het reeds in 2002 ingespring en Tania het in 2005 by die span aangesluit. Ons druk sedert 2008 saam met Allen en Lydia van Seriti Printing en loop die pad ook sedert 2008 saam met ons webmeester, Jan. Gerhard het tot die oomblik van sy dood – met spertyd in April 2023 – aan die Bronnie gewerk en Angie sit die taak voort. Hannes is die ‘nuweling’ wat in 2019 by die span aangesluit het. Is daar ’n ander onafhanklike publikasie wie se spannetjie só lank al kies om saam met mekaar te werk?

Dié spannetjie sien daarna uit om Die Bronberger se 23ste bestaansjaar in September saam met adverteerders en lesers te herdenk. Ons leser-vriende kan vir ons ’n brief skryf oor dinge wat vir hulle oor die afgelope 23 jaar uitgestaan het.

Ons nooi almal wat in die laaste 23 jaar gereeld of net soms in Die Bronberger geadverteer het, om ons verjaarsdag saam met ons te vier. As jy nog nooit in die Bronnie geadverteer het nie, bied ons verjaardaguitgawe die ideale geleentheid om nuwe voete nader te lok. Jou advertensie gaan in ’n versamelstuk verskyn wat ons lesers bewaar en oor baie maande heen in terugblaai.

Bespreek jou plek vroegtydig
Die sperdatum vir die Bronnie se 23ste verjaardag-uitgawe is Dinsdag 9 September. Skakel 012-734-0522 of stuur ’n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Bel Angie: 083-959-1016 of stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Bel Tania: 072-089-0227 of stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it . Bel Hannes: 072-992-5440 of stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2025 Die/The Bronberger