|
Goeie nuus is dat lesers en adverteerders nou weer die Bronnie se landlynnommer, 012-734-0522, kan skakel. Nou nie dat daar meer ’n ‘lyn’ betrokke is nie, maar die diensverskaffer het uiteindelik – ná twee maande van hande-in-die-hare – dit reggekry om die nommer na ’n ander soort telefoon oor te dra.
Ons wonder nou nog hoeveel lesers en adverteerders in dié tyd probeer het om ons landlynnommer te skakel. En wat hulle gedink het as hulle hoor dat die nommer nie werk nie. Ons bly positief oor uitdagings en ons kan dit met reg wees, want ons is nie alleen nie. Ons is dankbaar en geseënd om deurgaans die wonderlike ondersteuning en uitgesproke positiewe terugvoer van ons mense te kan ervaar.
Hier is ’n paar uittreksels uit onlangse lesersbriewe:
Thys Swanepoel van Vic-Haven: Baie groot dankie vir ’n genotvolle stukkie skatkis wat julle elke maand in ons woonhuise instuur.
Dup du Plessis van Pretoria: Dankie, ek het vandag ’n gedrukte eksemplaar van julle tydskrif gekry en was so beïndruk dat ek graag sal wil inteken op julle elektroniese tydskrif.
Louise Smith van die Moot: Baie dankie vir die deel van al die interessante artikels in my geliefde tydskrif. Kan nie wag vir die volgende een nie.
Etresia Prinsloo van die Bronberg-gebied: Die Bronberger is my ‘Go to’ tydskrif waarin ek my kan verlustig in ’n veelsydige, intelligente verskeidenheid van artikels. Die advertensies bevredig my lus vir rondrits. Ek wil my waardering luidkeels verkondig vir ’n Afrikaanse tydskrif wat sommer vêr bo perfek uitstyg.
Denyse Hilton van Pretoria: Baie dankie, ek hou baie van Die Bronberger en lees hom van voor tot agter; vol van alles.
Louise Kritzinger, voorsitter: Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat: Die Bronnie speel so ’n groot rol in die opvoeding en bewusmaking van die gemeenskap.
Frik Broodryk van Pretoriuspark: Ek kyk elke maand met verlange uit na die nuwe Bronnie. Ek wil maar soos almal sê: Doe zo voort! Dit is voorwaar ’n puik tydskrif.
Ronnie Schlegelmilch van Pretoria: Ek is nou al weer kwaad vir myself omdat ek julle pragtige boek misgeloop het. Kan ek dus vra dat ek elke maand ’n elektroniese weergawe sal kan kry asseblief? Ek voorspel dat dit baie sal help om my bloeddruk te beheer. Baie dankie vir julle fantastiese werk.
Hier by die Bronnie onderneem ons om, soos die afgelope 23 jaar reeds, leesstof, advertensies en inligting wat vir julle van belang is, gratis aan óns gemeenskap te bring. Dit kan ons net doen deur die ondersteuning van die gewaardeerde adverteerders wat die waarde van blootstelling in ’n geloofwaardige medium, wat gretig en met aanvoelbare meelewing ontvang word, besef en ervaar.
|