In die land van Koning Enoch Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 24 February 2010 08:20
Untitled Document

Die koorsagtige ywer waarmee volhard word om ’n groot deel van die Bronberg- gebied te onteien, begin aan die belaglike grens.

Skaars is die woorde van Gauteng se grondeisekommissaris koud dat ’n vorige eis deur verskeie mense met die ‘regte vanne’ heel geldig is, of ’n splinternuwe eis word op dieselfde grond ingestel.

Dié keer is dit niemand minder nie as Koning Enoch Makosonkie Mabhena, seker die wêreld se onbekendste koning, wat hom die grond toeëien.

Die feit is dat nie die agbare kommissaris of enigiemand anders kan besluit dat die vorige groep se eis of die koning s’n geldig is nie. Net ’n hof kan dit bepaal.

Die nuwe eis, wat dus duidelik die vorige een ongeldig maak, is gemik teen ’n gebied waarvan groot dele onderverdeel en ontwikkel is. Dit sluit Zwavelpoort, Mooiplaats, Kleinfontein, Rietvlei en Boschkop in waar verskeie behuisingskemas reeds staangemaak is. Sou die konings se eis slaag, sou hy grootskaalse vernietiging moet aanpak om dit weer na landbougrond te herstel.

’n Voorwaarde vir die instel van grondeise is dat die betrokke grond ná 1913 in die hande van die ‘onregmatige’ eienaars moes gekom het. Die gebied hier ter sprake is reeds in die 1800’s deur die Voortrekkers en hulle gevolg gevestig. Die eis is dus belaglik, reg? Pasop, belagliker goed gebeur deesdae toenemend in die land. Dit kan bes moontlik ’n geval word van; In die land van Koning Enoch is geregtigheid blind.

Ons trek
Die Bronberger se kantoor gaan in Maart na ’n nuwe perseel trek. Dit beteken dat daar ’n splinternuwe landlynnommer sal wees wat lesers moet bel om ons in die hande te kry.

Dit mag dalk ook beteken dat ons met die oorskakeling na ’n nuwe Internet diensverskaffer vir ’n ruk van die lug af sal wees. Wees dus asseblief geduldig as navrae per e-pos nie onmiddellik beantwoord word nie.

Ons sal egter altyd op ons selfone beskikbaar wees. Bel vir Gerhard by 082-377-6807, vir Tania by 072-089-0227 of vir Angie by 083-959-1016. Ons hoop om op die nuwe perseel ’n Telkom-telefoon te hê wat nie soveel probleme soos die DECT-stelsel gee nie. Ongelukkig het ons nog nie ’n idee wat die nuwe landlynnommer gaan wees nie. Sodra Telkom vir ons ’n nommer gee, sal ons die aankondiging op ons webwerf, www.bronberger.co.za, doen. Die nuwe nommer sal ook deur ’n blikstem gegee word as jy die ou nommer bel.

 

© 2020 Die/The Bronberger