|
Welkom by die 22ste herfs-uitgawe wat die Bronnie met trots aan sy lesers bied. Ons voorneme en doelstelling is om ’n lekkerlees-tydskrif daar te stel met inhoud en inligting wat byval vind en meelewing aanmoedig. So, ja, daar is dinge waaroor ons nie berig nie.
Sedert sy ontstaan, bykans 23 jaar gelede, is dit Die Bronberger se uitgesproke beleid om hom nie op te hou met die goggas van partypolitiek en ander onsmaaklikhede nie. Haatspraak sal nie ’n vastrapplek in hierdie gemeenskapstydskrif kry nie. Nie terwyl ons die voorreg het om sy uitgewers te wees nie.
Ons fokus bly op die landelike leefwyse en op die doen en late van die gemeenskap van ons kontrei en dit waarin hulle belangstelling lê. Ons bly verbind tot die bewaring van die ryk natuurskat in ons omgewing en daarom is ons trots daarop om artikels te plaas soos die een op bl 8 en 9.
’n Ietermagog, wat in September 2022 in ons kontrei uit die smokkelhandel gered is, het die fokus van ’n roerende Netflix-film, ‘Pangolin: Kulu’s Journey’, geword. Die 90-minute-lange film volg Kulu en sy ‘ietermagog-stapper’, Gareth Thomas, se verhaal oor ’n jaar en sewe maande tydperk.
Ons berig ook op bl 10 en 11 en bl 12 en 13 oor voorgenome prospektering en uiteindelike mynbou wat ons gebied se landelike karakter, sy sensitiewe vleilandgebiede en kulturele erfenisterreine groot skade sal berokken.
Al ons gewilde rubrieke word in dié herfs-uitgawe weer aan afwagtende lesers opgedis, soos die toeka-storie oor die dekade-lange pad wat kunstenaar Erich Mayer en sy vrou, Marga, saamgestap het.
Hier by die Bronnie bly ons daartoe verbind om hoofsaaklik Afrikaans as voertaal te behou. Ons weet dat die oorgrote meerderheid van ons Engelssprekende lesers ook Afrikaans kan lees en dat al ons Afrikaanssprekende lesers die Engelstalige rubrieke en artikels in die Bronnie lees en verstaan.
As onafhanklike publikasie kon ons met die geboorte van die Bronnie in September 2002 die besluit neem om grotendeels die taal van die (baie groot) meerderheid van ons lesers te gebruik. Ons kon besluit wie ons teikenmark sou wees, en ons hou daarby. In die proses is ons trots om te kan bydra om dié mooi taal in die land van sy oorsprong te help lewendig hou.
Op 8 Mei was dit presies 100 jaar sedert Afrikaans amptelik as landstaal erken is en die Bronnie voeg sy eiesoortige stem by die koor wat die hart van dié taal warm laat klop.
|