|
 Arno Carstens tree op Moedersdag, 11 Mei vanaf 12 uur tot 3 nm by Railways Café in Oaklaan 88, Cullinan op. Geniet ’n rustige, familie-vriendelike Sondagmiddag met Arno op die verhoog en volop te ete en drinke beskikbaar. Kaartjies kos R180 aanlyn by quicket.co.za of R200 by die deur.
~*~
 Geniet ’n gesinsuitstappie na die Pretoria Fees, daagliks van 9 vm tot 10 nm van 18 tot 21 April. Toegangskaartjies is by iTickets beskikbaar en sluit onbeperkte ritte op 10 pretparkmasjiene in. Besoekers kan uitsien na ’n verskeidenheid kraampies met handgemaakte items en heerlike kos. Demonstrasies en aktiwiteite strek van braai- en rookdemonstrasies, giftige slang-demonstrasies, ’n perdeskou, rodeo, ponie-ritte, kameelritte en skyfskiet tot bylgooi, ren-simulator en allerhande speletjies. Daar gaan ’n lugskou en ander lugvaartaktiwiteite, soos helikopterritte en selfs ’n SAPFA spoed-tydren wees. Op die Alte Lekka Musiekverhoog tree van die room van Suid-Afrikaanse musiekkunstenaars op. Die fees is by Legends Avontuurplaas, Rhenosterfontein op die R515.
~*~
 Vier Moedersdag saam met Elvis Blue op 11 Mei om 3 nm of 6 nm by Fairtree Atterbury-teater. Laat dié liedjieskrywer die dag besonders maak. Sy eiesoortige waarnemings en hartsmusiek belowe ’n dag wat die ma in jou lewe nie gou sal vergeet nie. Kaartjies kos R250 en is by seatme.co.za beskikbaar. Die teater is in Daventrystraat 4, Lynnwood Manor.
~*~
 Fijnwyn & Friends word op Donderdag 1 Mei en Saterdag 3 Mei van 10 vm tot 5 nm by Shokran, plot 99, Luiperdstraat, Tierpoort gehou. Dié kos- en wynmark is ’n perfekte kans om te proe, te eksperimenteer en die lewe te vier. Meer as 30 plaaslike wynlandgoedere neem deel en die kollig is op plase wat iets ekstra saam met hulle wyn bied – van jenewer en olywe tot bier. Daar is veilige parkering, musiekkunstenaars wat op die verhoog optree en verskeie koskraampies. Kaartjies kos R220, sluit ’n glas en wynproe in, en is by iTickets beskikbaar. Skakel 082-335-5659 of stuur ’n e-pos:
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
.
~*~
 Voelgoed Media en Moreleta Kerk bied ‘Passievol’ aan op Moedersdag, Sondag 11 Mei van 3 nm tot 5 nm. Die musiekkunstenaars wat optree is Riana Nel, Jo Black, Demi Lee Moore, Ruan Josh en Retief Burger. Lindie Strydom, bekende spreker, storieverteller en skrywer, is die aanbieder en storieverteller. Johan Kelber is die musiekregisseur en Renier Keyser die produksieregisseur. Kaartjies kos van R179 tot R329 en is beskikbaar by passievol.com. Moreleta Kerk is in De Villebois Mareuil-rylaan 1353, Moreletapark.
~*~
 Koos Kombuis, die kultuursikoon en kunstenaar, neem sy musiek en stories op 9 en 10 Mei na Landje, Grahamweg 46, Shere. Die deure open om 6 nm en die vertoning begin om 8 nm. Kaartjies kos R200 en is by quicket.co.za beskikbaar. Pizza en drankies kan gekoop word.
~*~
 Die volgende Wingerd-vroue-aand is op 8 Mei vanaf 6 nm by Wild Route Café, Saintsstraat 92, Zwavelpoort. Die Wingerd is ’n platform wat geskep is vir vroue om mekaar te inspireer, te versterk en te verbind. Jolanda Bedeker gaan praat oor haar reis met God se spieël en wêreldse lense. Kaartjies kos R220, sluit ’n ligte ete in en is by quicket.co.za beskikbaar.
~*~
 Die Tierlantynkies Kuier- en Koopfees word van 25 April tot 1 Mei by Moreleta Kerk, De Villebois Mareuil-rylaan 1353, Moreletapark gehou. Die fees is elke dag oop van 9 vm tot 6 nm, behalwe op 27 April, wat dit van 10.30 vm tot 4 nm oop is en 1 Mei, wat dit teen 4 nm toemaak. Daar is 90 uitstallers wat uitgesoekte ware bied vanaf mode en bykomstighede tot dekor, sowel as volop te ete en drinke, sangers wat optree en aktiwiteite vir kinders. Kaartjies is aanlyn by Plankton beskikbaar en kos R50. Jy kan elke dag weer met dieselfde kaartjie ingaan.
|